Huldeblyke stroom in na mediapersoonlikheid se dood

Bob Mabena. Foto: Antoine de Ras/African News Agency(ANA)

Huldeblyke stroom in vir Bob Mabena wat Maandag in die ouderdom van 51 aan ʼn hartaanval dood is.

Mabena was ten tyde van sy dood die aanbieder van die radiostasie Power 98.7 se ontbytprogram. Die bestuur van die radiostasie het gesê Mabena se familie probeer sy skielike afsterwe verwerk en dat verdere besonderhede later bekend gemaak sal word.

Sy dood is uit talle oorde betreur. Die DA het na Mabena verwys as ʼn legendariese radiopersoonlikheid. “Hy was ook ʼn pionier en rolmodel vir baie van Suid-Afrika se gewildste uitsaaiers,” het Solly Malatsi, nasionale DA-woordvoerder, gesê.

Mabena se loopbaan het oor langer as drie dekades gestrek. Die ANC, die regering en pres. Cyril Ramaphosa het ook hulde aan Mabena gebring.

Pule Mabe, woordvoerder van die ANC, het gesê Mabena se dood is ʼn groot verlies vir die bedryf.

“Dit was sy vermoë om met enigiemand te kan gesels en vermaak, wat van hom ’n gesogte openbare spreker en seremoniemeester gemaak het. Hy sal gemis word.”

Die regering het sy medelye met Mabena se familie, kollegas en ondersteuners betuig. Phumla Williams, direkteur-generaal van die regering se kommunikasiediens (GCIS), het gesê Suid-Afrika het ʼn reus verloor. “Mabena was ʼn inspirasie vir alle Suid-Afrikaners en laat onuitwisbare spore in die bedryf agter.”

Pres. Cyril Ramaphosa het gesê Mabena was ’n bekende televisie- en radiopersoonlikheid wat sy loopbaan in 1989 begin het. Hy het talle televisie- en radioprogramme aangebied. Hy was ook ʼn platejoggie en sanger wat talle albums uitgereik het.

“Dit is ’n hartseer verlies, nie net vir Mangena se familie en vriende nie, maar ook vir die uitsaaiwese en die land. Sy buitengewone talent en insig het miljoene Suid-Afrikaners in hul huise, werkplekke en voertuie bereik. Dit is baie hartseer dat ’n ikoniese en huishoudelike stem nou stil is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.