Huldeblyke stroom in ná SA-kragvrou sterf

Xena Botha. Foto: Verskaf/Andrew Harvard.

Huldeblyke stroom in ná die dood van Suid-Afrika se kragvrou Xena Botha, wat in 2020 die Afrika-rekord vir dooiegewigoptel (deadlift) en bankiedrukrekord (bench press) verbeter het.

Botha is tydens die Africa Strongman Union-kompetisie in Desember 2020 as die nasionale rekordhouer vir dooiegewigoptel en bankiedruk gekroon met ’n rekordgewig van onderskeidelik 240 kg en 130 kg. Sy het verlede jaar beoog om die dooiegewigoptel se huidige wêreldrekord van 282,5 kg te verbeter.

Botha was ook ’n kranige rugbyspeler in haar jonger dae. Sy het die Springbokke se vrouespan by die Wêreldbeker-toernooi verteenwoordig, terwyl sy ook vir die Westelike Provinsie en die Vrystaat in aksie was.

Sandra Schoeman, ‘n vriendin van Botha, sê Botha se galblaas is verlede Maandag in ‘n hospitaal in Bloemfontein uitgehaal. Daar was komplikasies ná die operasie en sy is Saterdagoggend oorlede.

“Haar dood was ʼn groot skok. Sy was ons wondervrou,” sê Schoeman.

Xena Botha was ook ’n kranige rugbyspeler in haar jonger dae (Foto: Xena Botha, Facebook)

Vriende skryf op Facebook dat Botha die sagste hart gehad het en dat sy baie vir haar medemens omgegee het.

Die rugbyafrigter Aschin Klein, wat saam met Botha in rugbykringe beweeg het, sê Botha se dood is slegte nuus vir die rugbygemeenskap.

“So taai as wat sy op die veld was, het sy die sagste hart gehad. Sy was lief vir haar medemens,” sê Klein.

Tanya Ulgheri beskryf Botha as ʼn wonderlike atleet met uithouvermoë en ʼn inspirasie vir mense en haar mede-rugbyspelers.

“Toe jy jou boots ophang, het ek gewonder wat is volgende vir jou en toe besluit jy strongwoman… Ek onthou ek het jou nog gespot oor ek myself skaars in die gym kan kry en paar gewigte kan optel – en hier gooi jy gewigte my size rond… Jy was ’n besonderse mens en ek is dankbaar vir die voorreg wat ek gehad het om jou te ken,” skryf Ulgheri.

Xena en haar verloofde, Marius (Foto: Xena Botha, Facebook)

Lizelle Claassen sal Botha as ’n “plat-op-die-aarde-mens” onthou. “Jy gaan ’n groot leemte los in jou hartsmense se lewens. Jy het diep spore getrap in die verby-gaan mense s’n… Jou lewenspad is verby – met God se volmaakte plan vir jou voltooi – en Hy weet jy het jou doel gedien,” skryf Claassen.

“Van prinses tot beast, was jy altyd nederig en so positief. Altyd reg vir ’n grappie en glimlag as ons sê hoe sterk jy nog wil word,” skryf Simone Griessel.

“Om te help was nooit moeite. Jy was passievol, 10000% of niks. Inspirasie, fighter en vrou wat altyd haar kop hoog gehou het… Fenomenale vrou,” skryf Monique Marx Coetzee.

Schoeman sê Botha was baie lief vir diere en die natuur. “Die papegaai was haar verloofde, Marius Ferreira, vir haar gegee het, was soos haar kind. Sy het die sagste hart gehad,” vertel sy.

Botha word oorleef deur Ferreira en ouers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

VaalDonkie ·

Een van die laaste vroue wat ‘n ou yskas op ‘n bakkie so kon laai.

007 ·

Wonder net of die dokter ‘n aandeel in die arme vrou se komplikasies gehad het. Dit is so hartseer, Xena jy was voorwaar ‘n raakvatter. Gaan jou baie mis.

Staal ·

dis baie slegte nuus, het gereels uitgesien na haar sosiale media opdaterings

Miskruier ·

Hieveel meer het die laaste jaar galblaas operasies gehad, ek weet van 3 in die laaste 4 maande

thejudge ·

Ja en….? Ek weet van 6 wat blindederm operasies gehad het, 2 het mangeloperasies gehad, 1 ‘n hartoperasie. Jou punt is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.