Huldeblyke stroom in ná vier van Phalaborwa sterf

Frank en Celesté Streicher. Foto: Facebook

Huldeblyke het Sondag op sosiale media ingestroom vir Frank (41), Celesté (40) en Franko Streicher en Lenisè Janse van Vuuren (19) wat Saterdag in ʼn botsing naby Gravelotte in Limpopo gesterf het.

Maroela Media het vroeër berig Frank, Celesté, Franko en Janse van Vuuren was saam met Franko se maatjie Janco Oberholzer in die voertuig toe hulle op die R71 reg van voor met ʼn vragmotor gebots het. Frank, Celesté, Franko en Janse van Vuuren is op slag dood. Oberholzer het die botsing oorleef, maar het ernstige beserings opgedoen en is in die waakeenheid van ʼn hospitaal opgeneem.

Frank en Celesté se dogter, Lua (8), was ten tyde van die ongeluk nie saam met haar gesin in die motor nie.

Frank was ʼn fisioterapeut op Phalaborwa, terwyl Celesté ʼn onderwyser by Laerskool Phalaborwa (Groenskool) was.

Pieter Burger, skoolhoof van Laerskool Phalaborwa, het aan Maroela Media gesê Celesté het sedert die begin van die jaar vir die Graad 1’s by die skool klas gegee. Lua is ook ʼn leerder by die skool en Franko was vanjaar in Graad R. Hy het gesê Janse van Vuuren was ʼn onderwysstudent wat sedert die begin van die jaar as leerlingonderwyser vir die Graad 1’s klas gegee het.

Lenisè Janse van Vuuren. Foto: Facebook

Volgens Burger is die ouers van die skool se leerders reeds via sosiale media van die tragiese voorval ingelig, maar sal die skool môre ʼn amptelike omsendbrief in dié verband uitstuur. Burger het gesê die skool se bestuur sal eers met die families van die oorledenes vergader voordat enige besluite oor ʼn moontlike gedenkdiens by die skool geneem word.

Intussen het ʼn familielid op Facebook aangekondig dat die Streicher-gesin se begrafnis Saterdag vanuit die NG Kerk op Phalaborwa gehou sal word. Begrafnisreëlings vir Janse van Vuuren is nog nie bekend nie.

Johan Kruger, ʼn goeie vriend van die gesin, het vroeër aan Maroela Media gesê die Streicher-gesin was in Letsitele om Franko se bulletjierugbywedstryd by te woon. Hulle was op pad terug na Phalaborwa toe die ongeluk gebeur het.

Frank Streicher en sy seun, Franko, vier Franko se eerste drie tydens ‘n rugbywedstryd. Foto: Facebook

Frank het vroeër Saterdag ʼn foto van hom en ʼn trotse Franko op sy Facebook-blad gedeel nadat Franko sy eerste drie tydens ’n wedstryd gedruk het. “Franko druk sy eerste drie! What a special moment!”, het hy geskryf.

Talle mense het Sondag hul skok oor die nuus op sosiale media gedeel en boodskappe van medelye en bemoediging aan die families geplaas. “Franko Planko, jou eerste drie vir Groenskool vanoggend en vanaand speel jy in Liewe Jesus se span! Rus in vrede. Ons harte is baie, baie seer vanaand, maar ons weet daar waar julle vanaand is, ruil julle nie plekke met ons nie. Ons gaan elke sonskynglimlag van julle mis,” het een boodskap gelui.

Ook op Janse van Vuuren se Facebook-blad het talle van haar vriende boodskappe en herinneringe van haar gedeel. “Jy sal altyd onthou word vir jou goeie hart en vir ʼn mens [met] wie God ander mense mee geseën het. Jy is in ʼn beter plek. Rus in vrede mooie Koningskind.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Ada ·

Dit is verskriklik.Jammer om te verneem.Sterkte aan almal betrokke.

Hannelize ·

Soos wat ek vandag in ons dorp gery het. Kon mens die skok & hartseer in almal se gesigte gesien het. Sterkte vir al die families betrokke.

Ken2 ·

Dit is mooi dat kleiner gemeenskappe soos daar nog vir mekaar omgee. Baie sterkte aan die familie en gemeenskap.

Louiae Kinnear ·

Dis so hartseer. Sterkte aan almal wie iemand moes afstaan . Ons gebede bly saam met julle

Pastoor ·

Ons lê voor U o God in oodmoed. Ons harte is verskeur. Mooi mense is weg. Een onverantwoordelike handeling met n vragmotor en n hele gesin is weg. Here net U kan harte heel. Abba Vader

Ouma ·

Lenise ons sonstraal kind, jy het diep spore in jou kort lewe getrap, jy het baie mense met jou persoonlikheid omhul. Ouma wil vir jou se dankie vir die respek waarmee jy ons almal behandel het. Juff Marietjie al ken ek jou nie, ken ek jou wel deur Lenise se oe en mond, weet ek jy het n groot rol in haar lewe gespeel, jy het n blywende indruk gemaak in haar lewe. My liefste kind jy was beeldskoon van binne en buite. Jy het met oorgawe geleef. Ek gaan ons gespekke mis, vir ure het ons gesels oor Yahushua en SY Torah. Ons is armer sonder jou, maar jy is ryker. Dankie Yahushua dat U haar vir ons geleen het vir 19 volle ryk jare, al die lof en eer kom U toe. Ons Koning, ons Aleph Tav. Trane word gestort en blydskap word gemeng met elke traan. Ons groet jou my kind, met harte vol herinneringe, van ons almal.

Elke Janse van Rensburg ·

Ek is so jammer oor julle verlies. Mag God julle toevou in die dae, maande en jare wat kom.

Hannelize ·

Ouma.
Baie jammer oor julle verlies. Ek het haar nie self geken nie. Maar weet my niggies se kinders was mal oor haar.
x

Hannelie ·

Ek is verskriklik jammer oor jul groot verlies tannie. Ek kan my net indink hoe seer jul moet wees, Lenise is so oud soos my dogter, net 19 jaar. Sy het nog ‘n leeftyd oorgehad. Maar ons weet nie wat God se Plan is. Ook vir die Streicher familie wat 3 gesinslede aan die dood moes afstaan. Ek bid ook vir die seuntjie wat nog in die hospitaal is en baie seergekry het. Hy wat dalk nog nie eens weet sy maatjie is nie meer daar nie. Mag jul almal styf vasgehou word in God se Hand en vertroosting kry. Baie sterkte en liefde vir die twee families.

What a joke! ·

Ai genade…sterkte aan familie en vriende…baie tragies…

Basie Jordaan ·

So jammer om dit te lees! Baie sterkte aan die familie!

leoni ·

Ek ken julle nie maar my hart het sommer begin huil! Sterkte aan die families.

Theresa M ·

Dit is hartverskeurend, ek is ook nou hartseer. Here, ons verstaan dit nie, maar ek kan vir U vra om die families te troos en te versterk.

mariaan ·

Dis ‘n verskriklike tragiese gebeurtenis. Die lewe is baie onvoorspelbaar

afrikaans ·

Dis so hartseer……liefde aan die families en ook aan die wat agter bly. Trane en nogmaals trane

Lenise se sussie ·

Min mense neem in ag dat my arme fyn sussie, Lenise, ook in daai motor was. Sy los ‘n vreeslike gebroke ouer sussie agter, ‘n jonger boetie, ‘n stiefpa wie sy om haar pinkie kon draai, oumas en oupas en die belangeikste: ‘n ma wat vir haar kinders geleef het. My sussie was ‘n sonstraal in elke een se lewens! Sy was ALTYD vriendelik en het uit haar pad uitgegaan om mense om haar te help. Sy was lief vir elke liewe kindjie wat sy teëgekom het by die Groenskool. Sy het elke dag my aangesteek met haar vriendelikheid. Ek is so spyt my lewe was so gejaag, ek wou net meer tyd saam my sussie spandeer.. Soos wat sy opgekyk het na my, so ook het ek baie b haar geleer. My arme sussie moes nooit in daai kar gewees het nie. Ek sal alles in die wêreld opgee net sodat ek haar vir ‘n laaste keer kan sien, kan vashou en kan vertel hoe lief ek haar het. Ek wens ek was daar om haar handjies vas te hou en haar te beskerm.. My arme sussie het onnodig seer gekry en ousus kon haar nie eers beskerm nie. Ek het jou so baie lief my sussie, al het ek soms baklei as jy my klere gesteel het. Jy sal ALTYD aan bly leef in my hartjie. Ek mis jou alklaar so baie. Ek is so lief en trots op jou!

Namgrl ·

Liewe Lenise se sussie,

Ons kan nie se ons weet hoe jul voel nie, maar ons kan ons indink hoe jul moet voel. Al die betrokke persone by hierdie noodlottig ongeluk. Ons sal elke dag vra hoekom, waarom, ons??? Maar die Vader daar bo het ‘n plan, en hy pluk al sy MOOISTE BLOMMETJIES eerste. Eendag, dalk eendag sal jul ‘n vlaag van ‘n berusting vind. Baie sterkte aan almal.
Van Namibie

Rina Kotze ·

Ek h et nie woorde nie. Dis so so onnodig. Pragtige gesin, net so uitgewis.

Mag God almal betrokke troos en naby wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.