Huldeblyke stroom in vir Ben Kruger

Ben Kruger, bekend as oom Okkie Ferreira in ‘Binnelanders’.

“Dit is met groot leedwese dat die Binnelanders-familie vanoggend van die skielike afsterwe van Ben Kruger, ʼn geliefde lid van ons spelerskorps, verneem het.”

Só sê Elsje Stark, vervaardiger van Binnelanders, oor Kruger wat vir sowat nege jaar die rol van Okkie Ferreira in dié kykNET-sepie vertolk het.

Kruger het Dinsdag by sy huis in Brooklyn, Pretoria, weens Covid-19 gesterf.

Kruger het ook as neef Gert in 7de Laan ʼn draai gemaak en rolle in rolprente soos Cry, The Beloved CountrySnake Island en Stander vertolk.

Hy was ook veral bekend vir sy rol as mnr. De Wet in die destydse televisiereeks Skooldae.

“Ben het ʼn spesiale plek in die harte van sy mede-spanlede en lojale kykers gehad. Ons sal hom altyd onthou vir sy professionaliteit, sy waardigheid, sy humorsin – en natuurlik sy vermoë om ʼn potjie van formaat te maak! Ons gaan Ben verskriklik mis,” het Stark bygevoeg.

Die episodes van dié gewilde hospitaalsepie word drie maande vooruit geskiet en Kruger sal dus nog ʼn geruime tyd op die kassie te sien wees.

Sorina Erasmus, wat teenoor Kruger die rol van Die Flooze vertolk het in 7de Laan, het ʼn huldeblyk aan Kruger op Facebook geskryf.

“Toe ek vanoggend die skoknuus kry van Ben, dié ikoon wat deel van daardie fondament van my drama loopbaan is, het my gedagtes teruggegaan na daardie dae op stel toe hy vir my gehelp het om met senuwees voor die kameras te kan cope. Om met grappies agter die skerms die atmosfeer vrolik te hou, met repetisies die karakter te benader as ʼn regte persoon en met acting skills op stel dat my mond oopgehang het oor sy super perfekte komiese tydsberekening.

“Dankie Ben, Hot Lips, dat ek die absolute voorreg en eer kon gehad het om só baie by jou as kunstenaar en komiese kenner te kon leer [sic],” het Erasmus geskryf.

Edrien Erasmus, wat die rol van die sielkundige Liezl in Binnelanders vertolk en in haar laaste storielyn teenoor Kruger verskyn het, het ook vir hom op Facebook geskryf.

“Liewe oom Ben, jy was my laaste love affair… wie gaan nou saam met my opera sing? Ai, my hart is seer. Dankie vir jou ondersteuning en random video calls. Ek wou nog saam met jou wyn drink op my stoep. Ek is so jammer vir jou familie en vriende. Brombeer Ben, you will be so missed! Ek is so spyt ek het na jou geluister toe jy gesê het selfies is stupid [sic],” het sy geskryf.

“Ons hou vandag die familie van Ben Kruger en Binnelanders in ons gedagtes terwyl ons die enorme skoknuus van sy afsterwe verwerk,” sê Karen Meiring, M-Net se direkteur van kykNET-kanale.

“Ben was ʼn baie geliefde mens en hierdie is ʼn groot verlies vir ons bedryf.”

Ben Kruger in ‘Skooldae’.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Anoniem ·

Innige Simpatie en Meegevoel met Ben se familie en kollegas. Dit is baie hartseer , hy het so deel van ons geword, gaan hom regtig mis.

My siening ·

RSG julle sê nie n woord oor die legende van n man. Ek sal hom mis!

Peetjie ·

Ag nee… Hy was so n goeie akteur… Sterkte aan sy gesin, familie en vriende…

Adam Adriaan ·

Hy het sy merk in SA Toneelspel gemaak. Uitstekend gedaan!!! As ek dit nie mis het nie het hy ook in Kooperasiestories gespeel?

Oom Hennie Pennie ·

Innige meegevoel en simpatie met die naasbestaandes. Nog ‘n ware toneelspeler van faam gewees.

Misky ·

‘n Ware SA ikoon in die rolprentbedryf. Rus in vrede Ben Kruger

sopbeen ·

Aitoggie dis vreeslik hartseer. Hy was vir almal die vaderfiguur in Binnelanders. Ek gaan hom vreeslik mis.

Chris ·

Ai ons gaan Ben geweldig mis in Binnelanders Altyd die joviale Okkie

Saartjievandiebosveld ·

My hart is so seer oor jou afsterwe. ..Ben Kruger is my gunsteling akteur…gaan jou verseker mis.
Sterkte aan almal wat vir hom lief is.

Cecilia ·

Innige meegevoel. Die SAUK verloor nog n grote in d industrie. Ek onthou hom van kindsbeen af as d Skoolmeester.
Rus in Vrede

Nefie ·

Ek kan nie baie tik nou nie, my hart is te seer. :-(. Sterkte aan die familie en viende

Karina ·

RIV Ben – ek onthou jou vandat jy akteur geword het. Suid Afrika verloor ‘n talentvolle akteur. Sterkte aan sy familie en kollegas.

Retha ·

Aan Ben se familie, mag jul die nodige vertroosting vind. Dit sal beslis nie leker wees om hom elke aand op die kassie te sien, wetende dat hy nie meer regtig met ons is nie, maar aan die ander kant wil ons ook vir hom nog ‘n ruk lank sien. Hoop net dat die skrywers hom op stylvolle en mooi manier uit skryf. Ben ons gaan jou mis

Nico ·

My innige meëgevoel aan Ben se naas bestaandes, hy was ‘n groot akteur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.