Huldeblyke stroom in vir geliefde radioman

Xolani Gwala, omroeper van Talk Radio 702. (Foto: AP/Abigail Javier/EWN)

Boodskappe van medelye het Vrydag ingestroom ná die dood van die radioaanbieder Xolani Gwala.

Gwala is in die ouderdom van 44 dood ná ʼn lang stryd met kanker. Hy was ten tyde van sy dood ʼn aanbieder op Talk Radio 702.

Gwala het sedert die vroeë 1990’s op verskeie radio -en televisieplatforms gewerk. Hy was verlede jaar terug op die lug ná ʼn lang onderbreking en het gesê hy is in remissie. Hy is egter vroeg in 2019 weer van die lug af.

Pres. Cyril Ramaphosa het sy diepste meegevoel teenoor Gwala se vriende, familie en kollegas uitgespreek. “Ons het ʼn jong veteraan verloor in ʼn baie belangrike sektor van die land. Xolani het belangrike waardes met hom saamgedra, naamlik die waardes om te luister na en oop te wees vir oortuigings wat in konflik is met jou eie idees en te fokus op oplossings,” het die president gesê.

Ramaphosa het gesê Gwala het nooit weggeskram van moeilike vrae en om hooggeplaastes aanspreeklik te hou nie, maar het nooit die menswaardigheid van ander in die proses aangetas nie.

“Ons sal sy stem, sy insig en sy liefde vir ons land mis, maar ons sal dankbaar bly vir die stem wat hy aan duisende Suid-Afrikaners gegee het.”

Die DA het ook sy hartseer oor Gwala se dood uitgespreek en gesê hy was ʼn hoogs vaardige onderhoudvoerder wat die waarheid uit menige politikus, uitvoerende hoof of kwaksalwer kon kry. “Selfs tydens sy lang stryd met kanker het Xolani nooit ophou om sy liefde en onbaatsugtigheid te wys nie. Hy het altyd probeer om ʼn verskil te maak,” het Phumzile Van Damme, die DA se skaduminister vir kommunikasie en tegnologie, in ʼn verklaring gesê.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het Gwala beskryf as ʼn geharde uitsaaier wat dit altyd reggekry het om ander te respekteer. “Hy het altyd antwoorde gekry sonder om ongeskik te wees,” het Sanef-voorsitter Mahlatse Mahlase gesê.

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Christa ·

So jammer oor Sy heengaan. Sterkte aan agtergeblewendes. Mag God julle berusting gee.

Elize Muller ·

My hart is baie seer oor die afsterwe van Xholani. Ek het graag na sy onderhoude geluister. Hy was altyd baie oopkop en eerlik. Hy laat verseker ‘n groot leemte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.