Huldeblyke stroom in vir geliefde SA skrywer

Harry Kalmer. (Foto: Facebook)

Verskeie mense het hulde gebring aan die geliefde skrywer Harry Kalmer wat Vrydag (62) in Johannesburg dood is. Hy het kanker gehad.

NB Uitgewers het op sy amptelike Facebook-blad Kalmer se dood bevestig.

Die akteur en stemkunstenaar, Anton Dekker, het sy skok oor die nuus op sosiale media uitgespreek. “Briljante skrywer, meer briljante mens. Dankie vir jare se mentorskap, vriendskap, en sommer alles. My hart is stukkend. Baie liefde aan al sy familie en vriende. ’n Reus het gaan rus.”

Die bekroonde skrywer Marita van der Vyver het ʼn foto van haar, Kalmer, Liesbeth Botha en Jomarie Dick op haar Facebook‑blad gedeel. “Master Harold. And the girls,” het sy geskryf.

“Hierdie kiekie sit al jare op die plakbord bo my lessenaar. Die afgelope maande kyk ek elke dag daarna en wens, wens, wens dinge kon anders wees. Dit was ’n gedenkwaardige deurnagkuier in ’n kroeg by ’n kunsfees. Dieselfde nag dat Amalanka Chardonnay vir my en Harry ’n private toer van Braam Kruger se na-doodse uitstalling aangebied het, en ek my verdriet oor my vriend Braam in vreeslik baie drank wou verdrink.

“En nou treur ek oor Harry. Daar is nie genoeg drank in die wêreld vir so ’n stukkende hart nie, so ek kan seker maar nugter bly. Ek wens ek kon vir Sanpat, Daniel en Jana ’n paar woorde skryf wat kan troos, maar my woorde laat my in die steek. Mooiloop, Master Harold. Dis al.” [sic]

In ʼn land sonder voëls, Kalmer se laaste roman, is vroeër vanjaar uitgegee. (Foto: Facebook)

Frederik de Jager, ouduitgewer en mede-eienaar van The Talking Table, onthou toe hy in die vroeë negentigerjare vir die eerste keer vir Kalmer ontmoet het. “Hy was ernstig. Hy het gesien wat ander misgekyk het,” skryf hy.

Hy sê hy het In ʼn land sonder voëls, Kalmer se laaste roman, by hom, maar het dit nog nie gelees nie. “Lesbos is ʼn voëlparadys. Mense kom van oral oor om foto’s te neem. Maar die eiland sonder voëls is vir my makliker voorstelbaar as ʼn land en ʼn letterkunde sonder Harry Kalmer.”

Kalmer was ʼn veelsydige en gevierde skrywer wat meer as veertig plaaslike en internasionale toekennings verower het. Meer as twintig van sy verhoogdramas is vanaf 1984 opgevoer, insluitend Piet Joubert en die Boer War Show, Die val van Pretoria, Oor die berge, Meneer de Beer en Die Bram Fischer wals.

Hy het verlede jaar die Barry Ronge-prys ontvang vir die vertaling van ’n Duisend stories oor Johannesburg: ʼn Stadsroman.

Begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

bambi ·

RIP Harry! In die land van voëls klaar gelees verlede maand; dankie vir wat jy nalaat!

Chris ·

Sy boek: “Vlieger en die gevare van close dance”, is iets wat my na aan die hart lê. Ek is selfde ouderdom as Harry, dus het ons in dieselfde era grootgeword, geleer om te vry, diensplig gedoen, ens. Toe ek die boek lees, het dit gevoel of die boek oir my lewe gehandel het, enige man wat daardie jare groot geword het, sal ook so voel. Ek raai alle mans wat diensplig gedien het aan om ‘n kopie van dié boek in die hande te kry. Rus In Vrede Vlieger, ook bekend as Harry Kalmer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.