Huldeblyke stroom in vir krieketskrywer Michael Doman

Michael Doman (Foto: Independent Archives)

Huldeblyke stroom in vir die bekroonde krieketskrywer Michael Doman wat Sondagaand in die ouderdom van 57 oorlede is.

Doman was self ʼn kranige krieketspeler en het jare lank berigte oor die sport aan die Cape Argus en Independent Media gelewer. Hy was ook sportredakteur by die Cape Argus en Kaapse sportkoördineerder vir Independent Media.

Independent Media het in ʼn verklaring gesê Doman het aan diabetes gely en is verlede week in ʼn hospitaal opgeneem. Sy toestand het skielik versleg.

Sy broer, Anthony, het Maandagoggend sy afsterwe bevestig.

Volgens Independent Media was Doman ʼn gerekende provinsiale krieketspeler en was ʼn lid van die Westelike Provinsie se Krieketraad se span, die 1979/80 Howa Bowl Champions.

Jermaine Craig, hoof van sport by Independent Media, het Doman as ʼn “goeie verslaggewer” beskryf. Hy was aanvanklik ʼn nuusverslaggewer vir die Cape Herald, later ʼn krieketskrywer en daarna sportredakteur. “Sy professionalisme, nederigheid, rustige geaardheid en stille maar sterk leierskap sal gemis word. Ons betoon ons innige meegevoel aan sy familie.”

Michael se pa, Ted Doman, was redakteur van die Cape Herald.

Sportjoernalis en kollega Ashfak Mohamed het op Twitter geskryf: “Sopas van Michael Doman se afsterwe te hore gekom. Ek het verlede week nog met hom gepraat oor die foto van die 1979/80 WP Howa Bowl Champions, waar hy langs Saait Magiet sit. Tipies Michael, het hy net geglimlag. RIV.”

Gasant Abarder, voormalige redakteur van die Cape Argus, het ook op Twitter sy medelye betoon: “Tragiese nuus vanoggend oor die afsterwe van @TheCapeArgus-sportredakteur en voormalige krieketskrywer Michael Doman.”

Lindiz van Zilla, redakteur van die African News Agency (ANA), wat saam met Doman by die Cape Argus gewerk het, het gesê die nuus oor sy afsterwe is onverwags en ʼn groot skok.

Doman word oorleef deur sy vrou Lorelle Bell en drie seuns, Luke en tweeling Jamie en Liam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Msp ·

Jammer oor die slegte nuus. Ek dink in gebed aan die naasbestaandes in hierdie moeilike tyd. RIV Michael Doman.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.