Huldeblyke stroom in vir oom Ewie

Die geliefde Ewie Cronjé: Legendariese speler, administrateur en Grey Kollege-onderwyser. Foto: Twitter.

Huldeblyke stroom in vir Ewie Cronjé nadat hy gistermiddag in die ouderdom van 80 sy stryd teen kanker verloor het.

Cronjé is die pa van Hansie Cronjé en voormalige president van die Vrystaatse Krieketunie.

Sy afsterwe is deur sy ander seun, Frans, op sosiale media bevestig. “Pa het om 14:05 na die Here gegaan. Daar was vrede in sy hart en ons is so dankbaar vir die vol lewe wat hy geniet het en vir die wonderlike pa wat hy was,” het Cronjé gistermiddag geskryf.

As speler het oom Ewie 27 wedstryde vir die Vrystaat gespeel. Hy het 1 164 lopies met ’n hoogste telling van 112 geslaan, terwyl hy met sy draaiballe 38 paaltjies laat kantel het. Dit was egter in sy hoedanigheid as administrateur waar hy veral naam in die krieketwêreld gemaak het.

Hy het ’n beduidende rol in die ontwikkeling van krieket aan die Universiteit van die Vrystaat gespeel, terwyl hy vir sewe jaar as die president van die Vrystaatse Krieketraad gedien het.

“Oom Ewie sal deur die hele krieketgemeenskap gemis word. Hy was ’n persoon met integriteit en het vir almal – maak nie saak van jou agtergrond nie – ’n gelyke kans gegee,” het die huidige president van die unie, Zola Thamae, gesê.

Op sy beurt het die tydelike uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika, dr. Jacques Faul, in ’n huldeblyk gesê dat Cronjé een van die spel se groot helde was.

“Mense reg oor die land het kosbare herinneringe van hom en namens KSA wil ons ons innige simpatie aan almal betoon wie se lewens hy met sy goedhartigheid en nederigheid aangeraak het. Hy was mnr. Krieket in die Vrystaat.”

As krieketman was hy ’n legende in die provinsie, as pa was hy onwrikbaar aan Hansie se sy.

Allan Donald. Foto: ANA.

Die blitsige Protea-snelbouler, Allan Donald, onthou die agterplaas-krieketwedstryde by die Cronjé-gesin se huis in Bloemfontein.

“Ewie het vir die Vrystaat gespeel en het later ’n administrateur van formaat geword. Hy het my in latere jare dikwels met goeie raad bygestaan. In dáárdie stadium was sy belangrikste rol egter dié as skeidsregter tussen my en sy seuns. Ons het baie denkbeeldige toetswedstryde op die Cronjés se gras gespeel,” het Donald in sy outobiografie, Die Wit Blits, geskryf.

Donald het in 1987 graafskapkrieket vir Warwickshire begin speel en vertel dat oom Ewie veral bekommerd oor sy taalvermoëns was.

“Ek moes egter een ding in gedagte hou en Hansie se pa het dit duidelik gestel toe ek daar gaan kuier het om totsiens te sê: ‘Onthou om jou Engels te oefen, jong!’”

Donald onthou die dag toe Hansie vir die eerste keer gekies is om vir Suid-Afrika te speel.

Hansie Cronje. Argieffoto.

“Toe Hansie vir die Proteas gekies is, was ek in die wolke om Ewie Cronjé se onthalwe. Daar kon kwalik ’n trotser pa gewees het,” het Donald geskryf.

Selfs toe Hansie twintig jaar gelede weens sy beweerde betrokkenheid by wedstrydknoeiery van sy kapteinskap gestroop en lewenslank uit krieket geskors is, was Ewie die rots aan sy seun se sy.

KSA het Cronjé sr. in 2012 met die Khaya Majola-toekenning vir sy lewenslange bydrae tot die sport vereer.

“Ewie Cronjé, ons sal jou nooit vergeet nie,” het Donald in ’n finale huldeblyk op Twitter geskryf.

Hy word deur sy vrou, San-Marie, sy seun Frans (die bekende Suid-Afrikaanse filmregisseur en oudkrieketspeler) en dogter Hester oorleef.

Weens die Covid-19-regulasies is daar in hierdie stadium nog geen begrafnisreëlings nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Adam ·

Jammer om te hoor van die heengaan van ‘n ware sportadministrateur van formaat. Hy was ‘n man wat sport gedien het.

Kobus ·

‘n Hartseer en verslae man.Dr Ali Bacher het Hansie verraai en daarmee saam ‘n gesin. Ja,Hansie het foute gemaak (wie het nie) maar hy is verneder en verkleineer.Dit was erg. Sterkte aan die familie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.