Huldeblyke stroom in vir Rhoda Kadalie

Rhoda Kadalie. (Foto: Verskaf)

Huldeblyke het Saterdag ingestroom ná die dood van die menseregte-aktivis Rhoda Kadalie. Die honderde boodskappe van hooggeplaastes, akademici en geliefdes wat op sosiale media verskyn, is tekenend van die merkwaardige indruk wat dié vrou op talle mense se lewe gemaak het, of hulle met haar oortuigings saamgestem het of nie.

Maroela Media het Saterdag berig Kadalie is in die ouderdom van 68 jaar in haar slaap oorlede, nadat ʼn aggressiewe en seldsame longkanker by haar gediagnoseer is.

Vainola Makan, een van Kadalie se voormalige studente aan die Universiteit van Wes-Kaapland, sal Kadalie onthou vir die bydrae wat sy gemaak het tot gelyke regte vir vrouestudente en lektore aan dié universiteit. “Rhoda het met leeuemoed geveg vir dit waarin sy glo. Dit het die respek van baie mense afgedwing, al het ons soms nie met haar saamgestem nie.”

ʼn Familielid, Bruce Kadalie, skryf op Facebook: “Sus, ek kan nie glo dat jy ons so gou verlaat het nie. Jy het ʼn groot en buitengewone lewe gelei en so baie mense geraak op ʼn manier wat van onskatbare waarde is. Ons sal jou mis en jou nooit vergeet nie.”

Zelda le Grange, oudpresident Nelson Mandela se persoonlike assistent, het getwiet: “Rus in vrede, ʼn merkwaardige vrou.”

Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, skryf op Twitter: “Sy was ʼn vegter vir die waarheid en reg. Ek onthou hoe sy saam met ons voor die hof was teen die regering se rasplanne in die Wes-Kaap. Ons dink aan haar familie.”

Die akademikus en politieke kommentator Jonathan Jansen sal haar onthou as “uitdagend en kompleks, maar altyd ʼn vriend in moeilike tye”.

Nog ʼn vriendin van Rhoda skryf op Facebook: “Rhoda het haar deur niemand laat voorskryf nie. Sy het ʼn groot rol in die akademie – en waar ook al sy haar bevind het – gespeel.”

Kadalie het reeds afgetree, maar het tot kort voor haar dood nog aktief aan die politieke debat in Suid-Afrika deelgeneem en ook gereeld rubrieke vir onder meer Maroela Media geskryf. Kadalie was die voormalige direkteur van die Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en ʼn akademikus. Sy het ook ʼn groot liefde vir Afrikaans gehad.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.