Huldeblyke vir jong man wat in gru-ongeluk sterf

Maxwell du Plooy en sy meisie Sarah Briggs. (Foto: Facebook)

Huldeblyke stroom steeds in vir die jong man wat oor die naweek dood is nadat ’n motor in ’n groep van 11 fietsryers ingeploeg het.

Maxwell du Plooy is Saterdagoggend dood in die grusame ongeluk op die R102-pad naby Tongaat in KwaZulu-Natal.

Volgens Paul Herbst, woordvoerder van IPSS Medical Rescue, het Du Plooy onder die motor beland wat in die groep fietsryers ingeploeg het en hy is etlike meters deur die motor gesleep. Hy was onder die motor vasgekeer.

“Paramedici en reddingswerkers het onverpoos gewerk om hom te bevry. Hy het egter veelvuldige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar.” Drie ander fietsryers het ligte tot matige beserings opgedoen. Volgens Herbst het die bestuurder van die motor glo op ’n blinde hoogte talle motors verbygesteek toe hy in die groep fietsryers ingeploeg het.

Du Plooy het in 2016 aan die private Clifton School in Durban matrikuleer. Karl Bresler, adjunkhoof, het Du Plooy beskryf as ’n merkwaardige empatiese jong man.

Die ongelukstoneel. (Foto: IPSS Medical)

“Max was een van die daardie mense wat jou altyd gemaklik in sy teenwoordigheid laat voel het. Of dit nou sy innemende glimlag was of die manier waarop hy jou sy volle aandag gegee het as jy met hom praat, dit was ’n plesier om in sy geselskap te wees.”

Du Plooy het vir die skool se eerste rugbyspan uitgedraf en was in die tweede waterpolospan. Hy het ook op die skool se leerlingraad gedien. “Max sal gemis word deur almal wat hom geken het. Sy kalm en vriendelike geaardheid sal nooit vergeet word nie.”

Varsity College het ook hulde aan Du Plooy, wat voor sy dood by SA Home Loans gewerk het, gebring. Du Plooy het in 2017 finansiële bestuur begin studeer en in 2020 sy BCom-graad met onderskeiding verwerf.

Jody Taylor, Varsity College se sportkoördineerder, het gesê Du Plooy was passievol oor fietsry en draf. Sally Fischer, een van Du Plooy se lektors, het hom beskryf as ’n beleefde jong man wat altyd respekvol was met ’n wonderlike sin vir humor en ’n glinster in sy oë.

Clifton School en Varsity College het hul medelye betuig met Du Plooy se ouers, Mark en Laura, sy broer Theo, suster Georgina en sy meisie Sarah Briggs.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Harley Davidson ·

Hierdie is tragies en ‘n refleksie van die omstandighede waarin on onself bevind ‘n briljante jong man se lewe beëindig deur ‘n idioot wat niks vir sy eie lewe voel nie .

Cabytheron ·

Hoe verskriklik tragies is dit nie! Sterkte aan die naasbestaandes.

Magda G ·

Sy hele lewe het voor jom gele en n nalatige bestuurder het sy lewe geneem. Hoop hy is toegesluit.

Willem ·

Uiters tragiese voorval!!!!Sterkte aan alle familielede!!!!

Hennie ·

Altyd tragies! Dié pad lyk nie vir my na na veilige en geskikte pad om deur fietsryers gebruik te word nie

Caroline ·

Fine any driver R100 thousand for not passing wide and cancel there drivers license for the rest of there lives. If the driver and his family go on foot for the rest of there lives it would save other peoples lives

Nico ·

Waar is die sogenaamde verkeersbeamptes, sit onder bome en stop taxi’s om bripes te kry, ongeduldigheid, spoed en onder die invloed het nou ‘n onskuldige jong man se lewe verwoes, die bestuurder sal wel eendag vir sy dade betaal. Sterkte aan die familie.

Anoniem ·

Dit is verskriklik tragies. Mens kan maar net jou eie afleiding maak van die bestuurder van daardie voertuig omrede sy naam nie genoem word nie. Waarop gaan hy aangekla word? Lagwekkend.

Sterkete aan die familie en vriende van die Fietsryer/s.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.