Huldeblyke vir ‘kampvegter’ Van der Elst ná afsterwe

Prof. Jacques van der Elst is Vrydagoggend oorlede. (Foto: Akademia.)

Talle huldeblyke stroom in ná die dood van prof. Jacques van der Elst wat Vrydag vroegoggend ná ’n kort siekte dood is.

Van der Elst word bestempel as een van die “groot kampioene vir Afrikaans en moedertaalonderrig”.

Nadat hy in 1957 matriek aan die Hoërskool Cillié in Port Elizabeth (deesdae Gqeberha) behaal het, het Van der Elst ’n aanstelling as leerlingverslaggewer in diens van Oosterlig in Port Elizabeth aanvaar, lui ’n gesamentlike verklaring van AfriForum en Kraal Uitgewers.

In 1960 verwerf hy ’n beurs en begin sy BA-studie aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO). Daarna behaal hy ’n BA-honneursgraad aan Rhodes Universiteit, MA-graad met lof aan die Universiteit van Port Elizabeth en doktorsgrade aan die Rijksuniversiteit Utrecht in Nederland en die Universiteit van Natal.

In 1973 word hy as senior lektor vir Afrikaans en Nederlands aan die PU vir CHO aangestel; in 1979 word hy tot professor aldaar bevorder; in 1984 as hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands aangestel; in 1995 voltydse dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte; van 2002 tot 2005 was hy hoof van die universiteit se kantoor vir internasionale betrekkinge; van 2005 tot 2012 was hy hoof- uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns; en ná sy aftrede was Van der Elst die eerste hoof- uitvoerende beampte van die Afrikaanse Taalraad.

Hy het in 2020 erelidmaatskap van die Akademie ontvang.

Deur die jare het hy ook vele ander toekennings ontvang vir sy rol om Afrikaans en Nederlands en verhoudinge tussen die taalgemeenskappe te bevorder, asook om navorsing op die taalterrein te doen en te inisieer. In die Solidariteit Beweging het hy onder meer in die adviesraad van Akademia gedien.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, sê Van der Elst se bydrae op al hierdie terreine is van “onskatbare waarde”.

“In moeilike tye het hy die band tussen Afrikaans en Nederlands lewendig help hou, Afrikaans as taal help groei en die hoëfunksiestatus daarvan op ’n vaste fondament help plaas. Tot met sy heengaan het hy aan publikasies vir die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gewerk wat hulde aan die Hertzogpryswenners bring – ’n boekereeks van sleutelbelang vir die taal,” sê Bailey.

“Benewens sy akademiese rol, sal ons wat hom geken en die voorreg gehad het om saam met hom te werk, veral die deernis waarmee hy sy medemens benader het, mis.

“Dít, en sy wonderlike sin vir humor en skatkis van kennis. Sy geesdrif vir Afrikaans was aansteeklik en sal ’n voorbeeld en inspirasie bly. Hy sal op vele terreine gemis word.”

Ook Ilze Nieuwoudt, publikasiebestuurder van Kraal Uitgewers, het hulde aan Van der Elst gebring vir die “uitsonderlike bydrae wat hy gedurende sy loopbaan gemaak het vir die verryking, beskerming en uitbouing van die Afrikaanse taal”.

“Sy diepgaande kennis van die Afrikaanse letterkunde en innemende geaardheid laat ’n diep leemte in die Afrikaanse gemeenskap wat nie maklik gevul sal kan word nie,” sê Nieuwoudt.

  • Van der Elst word oorleef deur sy vrou, Betsie, hul kinders en kleinkinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cobus ·

Dis lekker om te lees van iemand wat ‘n groot en positiewe bydrae gelewer het tot sy vakgebied, tot ons taal. Dit is hartseer om te lees van sy afsterwe, mag ons Vader in die hemele sy familie troos en met Sy liefde omvou.
Dankie vir ‘n mooi berig Maroela media.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.