Huldeblyke vir ‘krieketreus’ Procter

Mike Procter (Foto: Facebook)

“ʼn Reus het geval.” Só het Barry Richards hulde gebring aan sy jare lange vriend en spanmaat Mike Procter wat Saterdag in die ouderdom van 77 oorlede is.

“Ons was deel van mekaar se lewe,” het Richards gesê oor sy 65-jarige vriendskap met Procter.

Richards en Procter, wat as twee van Suid-Afrika se grootste krieketspelers gereken word, het as skoolseuns teen mekaar gespeel en daarna saam vir Natal en Suid-Afrika op junior en internasionale vlak gespeel.

“Enigiemand wat in die 1960’s en 70’s vir Natal, Rhodesië en Gloucestershire gespeel het, het geweet dat hulle in die teenwoordigheid van ʼn genie was,” het Richards gesê.

Procter en Richards het vir vier toetse saamgespan en Suid-Afrika het al vier wedstryde teen Australië in 1969-’70 gewen voordat hul internasionale loopbaan kortgeknip is deur die internasionale isolasie wat deur Suid-Afrika se apartheidsbeleid veroorsaak is.

Vintcent van der Bijl het sy voormalige spanmaat beskryf as “die mees onpretensieuse groot krieketspeler wat ek geken het”.

Van der Bijl het gesê Procter was “ʼn vegter op die veld”.

“Hy het die wedstryd taai gespeel en was tog amateur van gees. Hy het elke voorwedstrydsessie afgesluit deur te sê: ‘Kom ons gaan en geniet dit ʼn bietjie.’ Hy het die wedstryd gespeel soos dit altyd gespeel moet word. Dit was ʼn ware voorreg om saam met en teen hom te speel.”

Die snelbouler Allan Donald het sy internasionale buiging onder Procter gemaak.

“Ek het baie by hom geleer. Net om na hom te luister was ʼn ervaring. Hy het my bewus gemaak van wat nodig is om die mentaliteit van ʼn snelbouler te hê,” het hy gesê.

Ali Bacher, voormalige besturende direkteur van Suid-Afrikaanse krieket, het Procter in die reeks teen Australië aangevoer.

“Hy was een van die mees uitstaande krieketspelers wat Suid-Afrika opgelewer het. Hy het vinnig geboul, aflewerings geswaai en was as kolwer goed genoeg om op nommer vyf vir enige land ter wêreld te kolf,” het hy gesê.

Rihan Richards, president van Krieket Suid-Afrika, het Procter beskryf as “nie net ʼn reus op die veld nie, maar ʼn baken van hoop en inspirasie van die veld af”.

Dolphins Cricket, voorheen die Natalse Krieketunie, het in ʼn verklaring gesê Procter se “nalatenskap sal voortduur as ʼn inspirasie vir geslagte wat kom”.

“Sy loopbaan as ʼn wêreldklaskrieketspeler was uitstaande, sy leierskapvernuf was noemenswaardig en sy rol as ʼn krieketadministrateur en -afrigter was merkwaardig.”

Gloucestershire County-krieketklub het aangekondig dat hy sy vlag halfmas gaan laat wapper tot die begin van die Engelse graafskapseisoen as huldeblyk aan die man wat in 482 wedstryde vir die klub gespeel het en van 1977 tot 1981 kaptein was.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Casper ·

Wat van Procter so ‘n gèvaarlike bouler gemaak het was sy boulaksie en dit teen ‘n dekselse vinnige spoed.Saam met Barry Richard’s Graeme Pollock,Peter Pollock Eddie Barlow en nog vele meer was hulle uitstekend.Rus sag oom Mike jou nalatenskap sal bly voort leef in wêreldkrieket.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.