Huldigings stroom in vir Pik Botha

Huldigings reg oor die politieke spektrum stroom in vir die politikus Pik Botha wat vanoggend in die ouderdom van 86 jaar in Pretoria oorlede is.

Botha was die langsdienende minister van buitelandse sake, van 1977 tot 1994, in die kabinette van John Vorster, PW Botha en FW de Klerk. Hy het ook onder oudpres. Nelson Mandela gedien as minister van minerale en energie.

Botha, wat ook ʼn beduidende bydrae tot die Afrikaanse taal gemaak het as skrywer van gedigte, lirieke en kortverhale, word oorleef deur sy vrou, Ina, en vier kinders uit sy eerste huwelik, onder wie die ekonoom Roelof Botha, die sanger Piet Botha en die fotograaf en skrywer Lien Botha.

Khusela Diko, woordvoerder van pres. Cyril Ramaphosa, het gesê Botha het oor ʼn lang tydperk ʼn belangrike bydrae tot die land gelewer. Die presidensie sal later vanoggend amptelik op sy dood reageer.

Die nasionale woordvoerder van die DA, Solly Malatsi, het die party se meelewing met die Botha-gesin uitgespreek. Hy het Botha gehuldig vir sy bydrae tot die land. Die DA sal ook binnekort ʼn volledige verklaring uitreik.

Die leier van die UDM, genl. Bantu Holomisa, het Botha gehuldig en die land herinner aan sy verligte standpunte wat gehelp het om die NP te beweeg om hervormings aan die politieke stelsel van die land aan te bring.

Namens die Vryheidsfront Plus het die partyleier, dr. Pieter Groenewald, Botha onthou as ʼn omstrede politikus wat wyd lof ingeoes het vir sy werk en as langsdienende minister van buitelandse sake. Hy het sy medelye met Botha se geliefdes uitgespreek.

Groenewald het gesê as opposisielid het hy skerp van Botha verskil. “Ek het hom ervaar as iemand wat altyd die politieke aflosstokkie moes oorgee – van John Vorster na PW Botha en na FW de Klerk.

“Elke verwisseling was omstrede. Met Vorster se uittrede was daar ʼn fyn uitgewerkte strategie om die kroonprins, dr. Connie Mulder, die premierskap te ontsê en die oorgang met die uittrede van PW Botha kort voor die 1989-verkiesing was ook omstrede. Baie mense was verbaas dat Pik Botha nooit self president geword het nie, maar na wat ek verstaan het sy persoonlikheid teen hom getel in die NP-koukus.”

Die satirikus Pieter-Dirk Uys het namens Suid-Afrika se ambassadrise in Bapetikosweti, mev. Evita Bezuidenhout, Botha as ʼn vriend bestempel en sy medelye met die familie uitgespreek.

Die ouddiplomaat en voormalige SAUK-hoof Riaan Eksteen het gesê om die verlies van ʼn vriend van 54 jaar te verwoord is nie net ʼn ontsagwekkende taak nie maar ook ʼn pynvolle ervaring.

“Die lys van wat hy in sy roemryke en befaamde lewe vermag het, is deel van Suid-Afrika se geskiedenis. Niemand kan dit ontken nie. Dit kan nie ongedaan gemaak word nie – nie nou nie en ook nie in die toekoms nie. Sinisme daaroor is tekenend van ʼn oppervlakkige beskouing.

“Die een strewe wat hy bo al die ander nagejaag het, was sy verknogtheid aan regverdigheid. Dit is versinnebeeld in sy persoonlike en politieke lewe. Geen persoon wat met hom in aanraking gekom het, kon wegstap van so ʼn ontmoeting sonder om die diepte van daardie ingesteldheid by Pik te bespeur en te ondervind nie.

“Hy laat ʼn groot leemte,” het Eksteen gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

heilie ·

RIP…Mnr Botha jy was ‘n wonderlike minister gewees vir SA.

Leeutjie ·

As jy in sy era grootgeword het…slegs dan sal jy die onskatbare waarde waardeer wat hy toegevoeg het. Nog n strydos is weg en sy nalatenskap kan net waardeer word deur die mense wat in daardie era was. Ek was een en hierdie man het die X-faktor gehad wat ontbreek by ons huidige regering. Niemand staan meer uit nie…

Hendrik van George ·

Net jammer hy was ‘n lid van die ANC vanaf 2000. RIV Pik…

Dereck Le Roux ·

Was hy nie al lank voor 1994 ‘n geheime lid van die ANC en die SAKP nie?

KarooKlong ·

Pik Botha was nooit ‘n lid van die anc nie. Bring bewyse vir julle stellings.

v v d merwe ·

VERRAAIER.
DIT IS JOU EN JOU TRAWANTE SE SKULD DAT DIE LAND IN CHAOS IS.

Koos van Deventer ·

Wanneer jy binne Angola onder ‘n bos wegkruip terwyl n’ Mig-23 oor jou kop vlieg dan maak jy staat op iemand soos Pik Botha om ‘n regte besluit te neem. Ek het nie kans gesien vir slagveld wat Normandie na n’ piekniek sou laat lyk nie.

Paul ·

Suid Afrikaanse Staatsmanne soos hierdie sal mens nooit weer in die nuwe era sien nie.

Jannie ·

LOL! LOL!! LOL!!! Jy stel jou standaarde maar uiters LAAG!!!

Cherokee ·

Jy kritiseer hom in ‘n vorige berig, tensy jy dieselfde probleem het as ek, mense wat onder my vaandel skryf. Andersins mag dit wees dat jou kommentaar dubbelsinnig is.

Koos van Deventer ·

Ek sien Pik Botha dalk as die laaste de la Rey.Dit was immers hy wat tussen die Russe, Kubane, Angolese, Amerikaners, lys is te lank om op genoem te word te sit en ‘n plan moes maak om ons van ‘n grootskaalse oorlog moes red. Net een SA soldaat se dood was nie maklik om te verwerk nie, en dit is die tipe verantwoordelikheid wat op sy skouers was.

Saartjie ·

Gun Pik Botha wat hom toekom, maar om te beweer dat hy ‘n ‘beduidende’ bydrae tot die Afrikaanse taal gemaak het, is darem ‘n bietjie te dik vir ‘n daalder. Of het die betekenis van ‘beduidend’ onlangs verander?

JAN ·

Arch tipe toksiese bate.
Vra vir Ian Smith en oorle Jonas Savimbi se Unita.

Sappeurs ·

Haat gaan julle nerens bring met Pik nie. Ek kry julle jammer want julle is so oningelig oor die werklike waarheid.
Wie van julle was op die grens wat so gal braak?
Ons salueer jou Pik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.