‘Hulle het in mý vasgehardloop,’ sê man ná ongeluk waarin meisie sterf

Die twee meisies wat William Taute na bewering raakgery het (Foto: Herald Live)

William Taute (27), die man van Port Elizabeth wat glo twee jong meisies omgery het terwyl hy vermoedelik onder die invloed van alkohol was, het Woensdag in die Port Elizabeth-landdroshof beweer dat albei meisies in die voertuig vasgehardloop het, in plaas daarvan dat hy hulle raakgery het.

Taute staan tereg op aanklagte van strafbare manslag, poging tot moord, roekelose of nalatige bestuur, bestuur onder die invloed van alkohol en versuim om ná ʼn ongeluk stil te hou.

Hy het Woensdag in die hof alle skuld ontken en gesê die voorval is niks meer nie as ʼn “tragiese voorval”, aangesien hy alle skuld ontken dat hy in die meisies vasgery het.

Taute het in die hof aangevoer hy was nooit bewus daarvan dat die meisies in die voorval beseer is nie.

“Soos ek die verkeerslig genader het, het ek ’n harde stampgeluid aan die linkerkant van my motor gehoor, maar ek het niks gesien nie. Ek was in daardie stadium nie bewus daarvan dat daar enige skade aan my voertuig was nie en ons het in die rigting van Summerstrand voortgery,” het hy gesê.

Hy het ook gesê hy het nie gestop om te kyk wat die geluid was nie omdat die pad baie besig was, en omdat die stamp nie sy voertuig, ʼn Volkswagen Amarok-bakkie, van die pad af gestamp het nie.

“Ek wil graag beklemtoon en [die hof] daarop wys dat ek nie in iemand vasgery het nie, maar dat die meisies in my voertuig vasgehardloop het. Daarom ontken ek dat nalatigheid die oorsaak van die dood van die jong vrou was, of dat ek skuldig is aan die beserings van die ander vrou.

“Die voorval was niks meer as ʼn tragiese ongeluk nie. Ek sal die verwoestende gevolge van die voorval vir die res van my lewe saam met my dra,” het hy gesê.

Taute het ook die akkuraatheid van die alkoholtoets bevraagteken en gesê sy prokureurs, die bekende Alwyn Griebenow en Terry Price, sal talle foute met dié toetse uitwys, waarvan die tydsaanduiding op die toets een is. Hy het beweer hy is ure ná die ongeluk getoets.

Hy het verder wel aan die hof erken dat hy ʼn enkele drankie gedrink het, maar ontken dat sy oë rooi en hy dronk was. Hy het beweer ʼn vroulike polisiebeampte het hom geboelie om skuld te beken op die voorval toe hy na die polisiestasie geneem is.

Taute het ook ontken dat hy die spoedbeperking oortree het, en gesê hy het teen 55 km/h gery.

Die verhoor duur Dinsdag voort.

Jaydene Lucas (16), een van die slagoffers, is ná die ongeluk in April verlede jaar na die Livingstone-hospitaal geneem waar sy dadelik op lewensondersteunende masjiene geplaas is. Dit is egter later afgeskakel en sy het gesterf. Haar vriendin, Lorren Abrahams (20), was in ʼn kritieke toestand ná die voorval.

Die twee meisies was saam met hul vriende op pad na kadetopleiding van die Vloot toe hulle naby die Humewood-oorgang geloop het. Adv. Timothy van Rooyen, die staatsaanklaer, het voorheen gesê Taute het na bewering teen ʼn hoë spoed in die pad af gejaag en die meisies getref. Hy het glo ook deur ʼn rooi verkeerslig gery, versuim om by die ongelukstoneel stil te hou en stilstaande motors verbygesteek.

Lees alle vorige berigte oor William Taute op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Andre ·

Taute moet tronk toe, vir baie lank! Hy het intussen ‘n klomp verdigsels uitgedink en nou wil hy baie mooi saggies hanteer word met handskoene aan. So gaan dit mos: die misdadigers het oneindige regte en die slagoffers niks.

Hennie Louw ·

Ek ken die mannetjie persoonlik goed. Was vir ‘n tyd ons SAB-verteenwoordiger in Sedgefield. Uiters bekwame en hardwerkende man. Tragies dat so iets met hom en die dogters gebeur het. My vrou het altyd na hom verwys as ons 2de seun. Die woorde wat hy die hof ge-uiter het is verseker deur sy prokureurs in die mond gelê.

Marius ·

My 5 jarige kon n beter storie uitgedink as jyas jy nie skuldig kom op dronk bestuur met jou soos jy se die bekende prokureers sal jou nie los kom op die res jy het weggejaag van toneel so wat se dit.Jy gaan lank sit.

Nico K ·

Dit is baie moeilik om te oordeel as jy nie self daar was nie. Ek weet hoeveel keer het voetgangers al voor my oor die pad gehardloop dat ek moes rem trap. As ek in hul vasgery het was dit ek wat in groot moeilikheid was.

Jeannette ·

@Nico K – ek stem saam. Waar ek woon, is daar ‘n groot plakkerskamp en laerskool en die skoolkinders stap in troppe – letterlik TROPPE – van twintig of meer langs die pad, oppad skool toe of terug huistoe. In seisoen-tyd is dit ‘n nagmerrie om daardie stuk pad te bestuur tot waar dit aansluit by die N1. Die kinders hardloop langs die pad, stamp mekaar rond, speel bal, jil en gil – alles voor aankomende verkeer in. Daar is al hoeveel kinders doodgery deur groot vragmotors wat verpakte druiwe kom oplaai of vragmotors wat plaaswerkers heen en weer ry. Dit is moontlik dat die meisies teen Taute se bakkie vasgehardloop het – maar baie onwaarskynlik! Ek dink Taute probeer om hom los te draai uit wat ‘n moontlike lang tronkstraf kan wees. Ek dink wel hy was gedrink en het weggejaag van ‘n ongelukstoneel af.

nic ·

Hier is baie regters in hierdie geval as hulle wil vonnisse uitspreek hoekom is hulle nie op die regbank

Asjas ·

Ek is dalk nie ‘n Regter nie maar ek weet wanneer iemand deur sy tande lieg!!

Nie so onwaarskeinlik... ·

…glo my dis moontlik. Kinders kyk nie wat hulle doen nie (grootmense ook nie)
Ek weet van gevalle waar kinders meer skade aan n kar aanrig as die kar aan die kind… Kinders word nie meer padreels geleer nie!
Die anderdag het n kind met sy fiets in n ander kar vasgery – omdat hy aan die verkeerde kant van die pad gery het….
Miskien IS die man skuldig…. maar miskien NET MISKIEN vertel hy nie so n groot leun nie.

Asjas ·

Kinders het by ‘n Verkeerslig te naby my kar verby geloop en my kar gestamp, ek vermoed dit was aspris, maar omdat ek nie onder die invloed van drank was nie het ek die stamp gehoor en dadelik uitgeklim en gekyk of daar skade aan my kar is.
Trek die ander been …

Weereens ·

Weereens ‘n bewys dat aanboord kameras (dashcam) ‘n wetlike verpligting in voertuie moet wees en ook dat dit aangeskakel is wanneer jy ry.
Par.8: ‘ . . . les van sy lewe . . . ‘ is ‘res’.

Dalene de Vente ·

Dagsê

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Dalene nms. Maroela Media

Asb ·

@Weereens, as ons dan nie eers kan seker maak alle voertuie op die pad werkende remme het nie, hoe op aarde wil jy dashcams verpligtend maak?

Asjas ·

Ek stem!! Na twee ongelukke waar my kar afgeskryf is agv ander mense se “stupidgeid” het ek een aangeskaf. Ek betaal nie weer vir ander mense se foute nie!!

tokkie ·

Maak nie saak wat – hy was onder die invloed – moes nie op die pad gewees het nie.

cor ·

Hy is moontlik reg dat hulle in hom vas gehardloop het en hy hulle nie gesien het nie. Die is deesdae baie gevaarlik om n voertuig in die stede te bestuur, jy moet ekstra oe he vir voetgangers, fietsryers, motorfiets ryers, taxi’s, bestuurders met gekoopte lisensies, ens. So kyk jy uit vir die een tref jy die ander een en as jy nog een glasie van die wingerd sap gebruik het is dit nog moeiliker om almal raak te sien. Kom ons gee hom die voordeel van die twyfel totdat die hof anders bevind het.

H ·

Ek stem saam met Cor. Ons as bestuurder moet vir almal dink en kyk op die pad. In ons woonbuurt speel die seuns in die middae by die parkie sokker, elke middag ry ek stadiger as ek verby hulle ry, want mens weet nooit wanneer skop hulle die bal in die pad in nie. En soos die noodlot dit wil he gebeur dit toe gisteraand. En saam met die bal hardloop ‘n seun van ongeveer 17 ook in die straat in, toe ek vir hom hoeter blaas nadat ek dood moes stop om hom nie raak te ry nie kyk hy my aan asof ek die verkeerde party is. Wie sou die skuldige een gewees het as ek hom raak gery het?
Maar wat dronk bestuur betref moet jy jou pak vat soos ‘n man, dit is teen die wet om te drink en bestuur. Daar is geen verskoning as jy iemant dan raak ry nie, want jou reflekse is stadiger en jy reageer nie soos jy moet nie.

Ilze ·

Ek was in 2008 in ‘n situasie waar ‘n dronk voetganger in die kant van my kar vasgeloop het. Gelukkig het ek nie vinnig gery nie. Die persoon is ook nie beseer nie maar ek is tog aangekla dat ek onverskillig was. Ek en my dogter is onmiddelik na die voorval omring deur omstanders wat geld geeis het anders sou hulle sê dit is my skuld. Ek het natuurlik geweier. Het my storie vir die polisie vertel en raai wat ek is aangekla van nalatige bestuur. Die polisie het geweier om die voetganger te toets vir alkohol al het hy geruik na drank want dit sou sy menseregte aantas. Ek was erg getraumatiseer deur die hele voorval

snoefie ·

wat het van sy ou prokureur geword? eerder, as die skade voor aan sy bakkie was, het hy in hulle vas gery. as dit egter aan die (linker)kant was, we’ll, dan het hulle in sy bakkie vasgehardloop. as die nvg daarvoor kon lieg, Waar oor lief hulle nog? in vandag se lewe gaan alles om vergoeding. soms wonder ek of mense nog die naam van die oorledene onthou maar hulle onthou wat die VERGOEDING gebring het. hoekom bestuur mense onder die invloed? URE LATER sou die alkohol telling laer gewees het nie hoEr nie? dan weer die kinders het GEGAAN vir kadet oplyding hoe laat kon dit wees? hoeveel tyd het hy gehad om te drink? as ek n stamp hoor gaan ek beslis stop om te kyk of my voertuig beskadig is. dan weer hoe vinnig kon hy gery het en motors kon hy verby gesteek het om oor die rooi lig te jaag as die pad so besig was?

Wonder ·

Snoefie, ek het ook al gewonder oor die tye van die kadet skool. Ons ry gereeld saans daar verby (tussen 19h00-20h00) en dan is daar nog kinders van alle ouderdomme wat nog besig is met hul kadet opleiding.
Mens kan van die straat af sien waarmee hul besig is. Daar is net ‘n draad heining.

Regverdigheid ·

Die polisie beweer hy het gejaag en oor ‘n rooi verkeerslig gery, maar met geen bewyse. Hulle het dit letterlik op gemaak en probeer met alle mag hom so skuldig te laat lyk vanaf daardie nag. Volgens omstanders was die 2 meisies erg onder die invloed van alkohol oor die pad, maar hulle is nooit getoets of bevraagteken nie. Hoe is dit regverdig? In vandag se tyd kan jy nie jou lewe waag om te stop langs die pad vir enige iets nie. Hierdie is een van die mees ordentlike jong manne wat ongelukkig in hierdie aaklige voorval gevang is en heel moontlik in verskriklike groot moeilikheid gaan kom al sou hy nooit ‘n vlieg wou seermaak. Dit begin nou eers in die hof, maar sy persoonlike lewe is reeds verwoes tot nou. My hart gaan uit aan hom en die oorledene. Ek dink almal is slagoffers in hierdie aaklige ongeluk.

Wonder ·

Regverdigheid, ek stem saam met jou.
Ek ken nie die slagoffers of die beweerde skuldige nie, maar als maak nie vir my sin nie.
Ek kan ook nie verstaan hoekom hulle se dat hy oor die rooi lig gejaag het nie, want by elke liewe verkeerslig is daar dan ‘n “speedbump”.
Ek wens daar was ‘n opsie om foto’s te laai, dan kon ek foto’s van daai area gelaai het. Dan kon almal self sien hoe daai area lyk, en dan daarvolgens kommentaar lewer.
Ek verstaan ook nie hoe die slagoffer(s) opad was na die kadet skool nie. Die skool sit aan die linkerkant en die bakkie was aan die linkerkant getref. Se dit nie juis dat hulle weg van skool se kant af geloop het nie? Of oordink ek dit dalk net bietjie?

Johan ·

Om te bepaal of hy skuldig is, kyk waar is die skade aan sy voertuig.As dit aan die kant van sy voertuig is praat hy die waarheid.As dit voor aan sy voertuig is lieg hy.

Marcel ·

As ek lees oor die beserings wat die persone opgedoen het moet hulle nogals redelik vinnig in die kant van ‘n kar vas hardloop om kritiek beseer te wees. Tensy die voertuig natuurlik baie vinnig beweeg het en dit aangehelp het maar wat ek verstaan het die persoon baie stadig gery na die verkeerslig toe, die geluid gehoor en toe verder gery?

anton ·

Dit is ook nie te sê as jou voertuig voor beskadig is, dat jy noodwendig die skuldige is nie.
As iemand bv. skierlik voor jou in loop of hardloop en jy nie genoeg tyd het om te stop nie, is dit beslis nie die bestuurder se skuld nie.
Dit is tog logies!!!

Dirkie ·

Stem saam met jou Anton. Ek ry elke oggend op die N2 tussen EL en KWT die voetangers is meer as die motors. Dus pik donker soggens jy kan slegs skaduwees sien. Wat as n voertuig iemand van voor tref, as hulle die snelweg oorsteek. Volgens my word geen voetganger op n snelweg toegelaat nie, die verkeersbeamptes is oral op die betrokke pad sigbaar, ongelukkig nie om die skuldiges te beboet nie, maar om agter kameras te sit. Dus baie hartseer vir almal betrokke, hoop almal kan berusting vind.

Wonder ·

Wat ek wil weet is, by watter verkeerslig dit gebeur het. Ek weet dat dit nie juis saak maak nie, maar ek sal nogsteeds wou weet.
Die laaste verkeerslig VOOR die kadet skool is ‘n baie ver ent van die skool af, en die eerste verkeerslig NA die skool is so 100-200m daarvandaan. Dis juis ook links van die verkeerslig waar die (gewoonlik) jongmense by die groot parkeer area in hul voertue drink.

Soos ek verstaan was hy oppad in Summerstrand toe, en die slag was aan die linkerkant van sy bakkie. Die kadet skool sit ook aan die linkerkant.
Dit kon wees dat die kinders weg van die kadet skool geloop het… Nou wonder ek.

Tanya ·

Ek het nou na al die vorige berigte gaan lees. Kan dit moontlik wees dat een berig so baie kan verander?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.