Húlle is konvokasie se kandidate vir US-raad

Die Universiteit Stellenbosh. (Argieffoto: US)

Die Universiteit Stellenbosch (US) het die kandidate om deur die konvokasie tot die US-raad se nuwe termyn benoem te word, bekend gemaak.

Die konvokasie is ʼn statutêre liggaam waarvan alle US-gegradueerdes, alle voltydse en afgetrede akademiese personeel, en alle gediplomeerdes ​lid is en drie persone in die raad benoem. Huidige nagraadse studente wat hul voorgraadse kwalifikasie aan die US verwerf het, is ook lede van die konvokasie.

Volgens die US is die doel van die konvokasie om die “welsyn van die universiteit te bevorder deur ʼn wedersyds voordelige verhouding tussen die universiteit en die lede van die konvokasie te handhaaf, en die liggaam mag die raad, en die senaat wanneer gepas, in hierdie verband adviseer”.

Daar is tans twee vakatures in die raad en stemgeregtigde lede kan ʼn skakel volg waar hul identiteit nagegaan sal word om vir die twee kandidate te stem.

Die kandidate en hul visiestelling is:

Dr. Job Amupanda: Universiteit Stellenbosch is bekend vir sy internasionalisering. Dit moet gehandhaaf en verder bevorder word. Sy impak in Afrika is goed gevestig en die universiteit moet nou wêreldwyd meeding. Die universiteit moet globaal (internasionalisering) dink en plaaslik optree (transformasie). As raadslid wil ek poog om ʼn beduidende bydrae in hierdie verband te maak.

Prof. Joan Hambidge: My visiestelling is ʼn ondersteuning én uitbreiding van ʼn multitalige universiteit (soos die logo reeds uitwys) om verskillende kulture binne ʼn komplekse moondheid te erken. Dekolonisering van kurrikula binne Afrika beteken ʼn hersiening van kennis en nie ʼn verlaging van standaarde nie. Alleen wanneer die unieke aard van ons geskiedenis erken én herken word, kan ons ʼn wêreldklas-instelling word wat iets kan bied ten opsigte van onder meer die eiesoortige geskiedenis van Afrikaans wat ʼn Europese én ʼn Afrika-verlede het. Genderregte sal eweneens prioriteit geniet, soos gay- en vrouebemagtiging binne die Akademie.

Jason Hamilton: Ek wil verseker dat die US voortbou op sy ryk geskiedenis en sterk akademiese vermoë om betekenisvol by te dra tot Suid-Afrika en die vasteland se ontwikkeling en die US te posisioneer as die leidende stem wat oor grense heen reik en verskeie ekosisteme verenig, terwyl diversiteit en insluiting bevorder word. As gekwalifiseerde rekenmeester en ervare raadslid, wat die afgelope 20 jaar in verskeie openbare en private komitees gedien het, wil ek my agtergrond in finansies en strategie tesame met my passie en werk in korporatiewe bestuur en onderwys benut om die visie te bevorder.

Willem Liebenberg: Ek verbind myself tot die volgende by die US:
1. Uitnemendheid, meriete, regverdigheid, billikheid, deursigtigheid, nierassigheid en gelyke geleenthede tot tersiêre onderrig;
2. Deelnemende, deursigtige en verantwoordbare leierskap tot voordeel van die akademiese gemeenskap;
3. Verhoogde toegang tot tersiêre onderrig in Afrikaans en Engels;
4. Uitbreiding van die rol van die US in die openbare sfeer en die finansiering deur US-alumni.

Susan Malima: As direkteur vir MHB binne die SA regering vir 25 jaar, het ek 15 jaar lank in bestuurstrukture en portefeuljes in die openbare en private sektore gedien. Ek begeer om onbaatsugtig terug te gee aan die universiteit sodat sy visie en missie bereik kan word. Ek werk saam met plaaslike en internasionale universiteite in aanvanklike en voortgesette onderwys, opleiding en ontwikkeling. Dit bied my ʼn geleentheid om algemene bestuur en toesig oor die sake van universiteite volledig te verstaan en uit te voer. My sukses is gegrond op professionaliteit, integriteit, aanspreeklikheid, deursigtigheid, diversiteit, gehalte, uitnemendheid, etiese standaarde, impakbewustheid en onbaatsugtigheid.

Adv. Jean Meiring: Die beskikbare getuienis toon die US is beter as wat dit self aldag besef.  Dalk is die inkennigheid ʼn tipies Suid-Afrikaanse skroomvalligheid. Die raad se grootste uitdaging is om die US stewig en met selfgeloof op die wêreldverhoog te plaas – sonder om die onmiddellike Suid-Afrikaanse werklikheid uit die oog te verloor; trouens, om wêreldstatuur en uitmuntendheid te behaal juis deur die plaaslike volledig ernstig op te neem. Dit alles kan alleen bereik word as die US ʼn oop, intellektuele ruimte bly (en word), getrou aan die wesensaard van ʼn universiteit.

Dr. Leon Schreiber: Staan op vir ʼn nuwe taalbedeling wat Afrikaans erken as volwaardige inheemse taal met gelyke status aan Engels, en wat saakmakend verbind is tot die opbou van isiXhosa tot akademiese taal. Staan op vir ʼn einde aan die aftakeling van Afrikaans tot blote versiering en ʼn nuwe bedeling waar alle studente – onder wie ook Afrikaanssprekende studente – as bates eerder as hindernisse beskou word.

Pieter Swart: US benodig ʼn innoverende, strategiese rigting om aan die vereistes van die vierde nywerheidsrevolusie te voldoen. Ek is bereid om ʼn bydrae te lewer deur my kennis, vaardigheid en siening en op ʼn billike wyse alternatiewe denkrigtings te formuleer ten einde kennis- en sosiale uitdagings in Suid-Afrika die hoof te bied.

Cobus van Dyk: As vader van twee kleuters is ek verbind daartoe om te verseker dat daar oor 20 jaar ʼn universiteit sal wees in ons land wat wêreldgehalte-opleiding aan almal kan bied, asook dat die universiteit bestuur word in ooreenstemming met die waardes en beginsels waarna ek hoop my kinders sal strewe. Ek is gemotiveerd om betrokke te wees en te verseker dat die universiteit oop, deursigtig, verantwoordelik en verantwoordbaar sal wees. Dit sal ʼn eer wees om die geleentheid te hê om tot hierdie ideaal te kan bydra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JM ·

As al die bogenoemdes se strewes en ideale kan realiseer, sal dit wonderlik wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.