‘Hulle is nou deel van die statistieke’

Hannes en Esther Kidson. Foto: Verskaf

Hannes en Esther Kidson. Foto: Verskaf

Die egpaar wat Vrydag wreed op hul plaas tussen Jachtfontein en Westonaria in Gauteng vermoor is, word Saterdag begrawe.

Driekie van Niekerk, Hannes en Esther Kidson (albei 69), se dogter het aan Maroela Media gesê sy kan nie in die stadium veel uitwei oor die verdagte(s) wat betrokke was by die moord nie weens die sensitiwiteit van die ondersoek. “Ons weet net dat een van die werkers verdink word en dat my ouers wreed vermoor is.”

Esther se liggaam is omstreeks 15:00 Vrydag deur werkers gevind. Sy was nog in haar rolstoel in die egpaar se slaapkamer op die plaas Poortjie. Die egpaar het ʼn melkboerdery bedryf.

“Daar is na my pa begin soek nadat my ma se liggaam gevind is,” het Van Niekerk gesê. “My pa se liggaam is in ʼn stoor gevind. Die moordenaars het my pa onder valse voorwendsels in die stoor ingelok deur te sê ʼn kalfie is siek. My pa was so sterk soos ʼn bees, so ek weet nie of hulle hom dadelik oor die kop geslaan het nie. Hy het op sy maag gelê en sy hande was vasgebind. Ons het soveel vrae.”

Polisielint naby die toneel op die plaas. Foto: Lorraine Claasen

Polisielint naby die toneel op die plaas. Foto: Lorraine Claasen

Volgens Van Niekerk het die moordenaar(s) met ʼn klein bedrag kontant en haar pa se selfoon gevlug. “My ma is gemartel. Hulle het by haar antwoorde gesoek oor waar die geld is. Sy het regtig nie geweet nie.” Die polisie het vroeër gesê werkers is op die betrokke dag lone betaal.

Die egpaar is vermoedelik tussen 11:15 en 12:15 aangeval. “My ouers was omstreeks 10:00 nog in Westonaria. Hulle het dalk te vinnig teruggekom en is ingewag. Die huis was erg deurmekaar. Ons het twee ouers verloor. Dit maak dit dubbeld so seer. Hulle is ook nou net deel van die statistieke en dit maak die seerste.”

Volgens Van Niekerk gaan bedrywighede op die plaas voort. “Ek gaan nie dit waarvoor my pa so hard gewerk het net ten gronde laat gaan nie. Ons kry geweldige ondersteuning van die boeregemeenskap af.”

Kapt. Appel Ernst, woordvoerder van die polisie, het bevestig niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

44 Kommentare

jongste oudste gewildste
Annamarie Zeelie

Baie sterkte met jul verlies. My pa is Januarie 2016 vermoor, en tot vandag is sy moordenaar/s nie gevonnis nie. Ek wonder so baie oor die “waarom” en “hoe” dit gebeur het. Antwoorde sal ‘n mens nie kry nie.

Ilse

Baie sterkte aan albei van julle. God slaap nie weet dit net. Die dag van oordeel kom en dan sal hulle moet antwoord gee oor hul dade.

Jenna

Dit is net te wreed vir woorde. Die skokkendste is dat hierdie tipe wrede moorde glad nie die aandag van enige politieke party trek nie, ook nie die regering of polisie wat misdaad in SA moet bekamp nie, en nog minder in die buiteland wat altyd SA gekritiseer het vir die geringste oortreding. Dit is ontsettend dat die moorde so wreed is, mense word gemartel, maar agterna word die motief as ‘roof’ afgemaak. ‘n Ou dame in ‘n rolstoel kan geen teenstand bied nie, hulle kon die plek kaal gesteel het sonder om hulle so wreed te vermoor. As mens… Lees meer »

Carina Langenhoven

Dit is so hartseer en sinneloos. Wanneer sal daar dan ‘n einde kom aan die neem van mense lewens.

Karma

En so sal dit aangaan en aangaan en aangaan. Tot daar nie meer een enkele blanke boer op een enkele plaas doer in die Noorde van die land (Noord-Wes, Limpopo, Mpumalanga ens.) is wat ons voedingslyn aan die gang kan hou nie. En wanneer die plase dan verdor, verniel en onproduktief lê (soos tans in Zimbabwe …..) en hongersnood in die land heers, sal dit weer die skuld van die blanke boere …. apartheid …. die ‘steel’ van grond …. Jan van Riebeeck, noem maar op, wees. Cry (for) my beloved Country …….