Húlle moet SAUK nou lei

(Foto: Unsplash)

Die afgelope naweek was dit presies ses maande dat die SAUK sonder ʼn raad gesit het.

Pres. Cyril Ramaphosa het weens toenemende druk deur opposisiepartye uiteindelik Dinsdag die nuwe SAUK-raad aangekondig.

Só lyk die nuwe SAUK-direksie:

  • Renee Horne
  • Tseliso Thipanyane
  • Khathutshelo Ramukumba
  • Nomvuyiso Batyi
  • Phathiswa Magopeni
  • Aifheli Makhwanya
  • Magdalene Moonsamy
  • Rearabetsoe Motaung
  • David Maimela
  • Dinkwanyane Mohuba
  • Mpho Tsedu
  • Palesa Kadi

Maroela Media het vroeër berig dat die parlement in Desember verlede jaar reeds 12 kandidate goedgekeur het om as nie-uitvoerende lede van die raad te dien. Ramaphosa het egter die aanstellingproses vir ʼn verdere 133 dae vertraag.

Luidens berigte het die president die benoeming van drie kandidate op die aanbevole lys bevraagteken.

Dianne Kohler Barnard, die DA se woordvoerder oor kommunikasie, sê dit was veral die president en die voormalige minister se probleem met die voormalige SAUK-nuushoof, Phathiswa Magopeni, wat die proses vir ses maande vertraag het.

Die SAUK het Magopeni in Januarie verlede jaar afgedank nadat sy tydens ’n interne dissiplinêre verhoor in Desember 2021 skuldig bevind is dat sy nie die uitsaai van ’n verbode episode van die ondersoekende nuusprogram, Special Assignment, verhoed het nie.

Die SAUK is daarna beskuldig dat haar afdanking polities gemotiveerd was. Die SAUK het later ’n skikking met Magopeni bereik, maar die besonderhede daarvan is nie bekend gemaak nie.

Khathutshelo Ramukumba, ʼn geoktrooieerde rekenmeester en Unisa se finansiële hoof, is aangestel as voorsitter van die raad, en Nomvuyiso Batyi, voormalige raadslid van die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa), sal as die raad se adjunkvoorsitter dien.

Magdalene Moonsamy, ʼn prokureur, en adv. Tseliso Thipanyane, voormalige uitvoerende hoof van die Menseregtekommissie, is ook onder diegene wat nou op die raad dien.

Die aanstellings geld vir vyf jaar.

“Die SAUK is ʼn noodsaaklike instelling van ons grondwetlike demokrasie. Ek vertrou die nuut aangestelde raadslede sal hard werk om te verseker dat Suid-Afrika voortgaan om voordeel te trek uit ʼn stabiele, onafhanklike en doeltreffende openbare uitsaaier,” het Ramaphosa gesê.

William Bird, direkteur van Media Monitoring Africa, het die aanstelling van die raad verwelkom.

“Dit is natuurlik ʼn groot verligting dat ʼn nuwe raad uiteindelik aangestel is, maar hulle het ʼn reusetaak wat voorlê om die openbare uitsaaier, wat al langer as ses maande sonder ʼn raad sit, te stabiliseer,” sê Bird.

Volgens Bird sal die nuwe direksie elke dag, heel dag moet werk om die SAUK te probeer stabiliseer, sy finansies in orde te kry en seker te maak dat die uitsaaier aan alle wetlike vereistes voldoen.

“Ons moet ook seker maak dat so iets nie weer gebeur nie. Ons was werklik bekommerd oor hoe die president hierdie saak hanteer het,” sê Bird.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

En by Unisa gaan sake maar broekskeur…

Nommer 7 ·

Gaan net diegene wat ‘n adres het nogsteeds moet TV lisensie betaal?

Manie ·

Hoekom wil jy vir ‘n tv lisensie betaal as jy nie SABC kyk nie?

Lillian ·

Whatever, ek kyk gelukkig nie meer die rubbish wat hulle opdis nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.