Hulle was gelukkig getroud, beweer Panayiotou

Jayde Panayiotou en haar man Christopher. Foto: Facebook

Jayde Panayiotou en haar man Christopher. Foto: Facebook

Christopher Panayiotou het Dinsdag in sy pleitverduideliking aan die Port Elizabeth-hooggeregshof gesê hy en sy vrou Jayde was “gelukkig getroud”.

Tydens die eerste dag van die hofsaak teen Panayiotou en sy twee medebeskuldigdes, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko, het adv. Terry Price sy kliënt se pleitverduideliking aan die hof voorgehou. Panayiotou voer aan hy het sy medebeskuldigdes voor sy inhegtenisneming in April 2015 nie van Adam af geken nie.

“Ek was lief vir my vrou Jayde, ons het besluit om ʼn huis in Lovemore Park vir ongeveer R2,2 miljoen te koop en ons sou daar intrek en hopelik die res van ons lewens daar spandeer,” lui die verklaring.

Price het gesê die staat het “tevergeefs gesukkel” om ʼn motief te kry vir die misdaad en het oor “feite” begin spekuleer. Hy het die staat ook daarvan beskuldig dat hulle onwettig inligting van getuies probeer bekom het deur hulle te dreig.

Panayiotou ontken die bewering dat hy R80 000 aan Luthando Siyoni betaal het om sy vrou te vermoor. Price het daarop gewys dat Siyoni se DNS op die geld gevind is, maar nie Panayiotou sʼn nie.

Die staat voer aan Panayiotou het Siyoni, ʼn uitsmyter by sy Infinity-nagklub, betaal om die sluipmoordenaar Vumazonke te huur om sy vrou Jayde te ontvoer en te vermoor.

Die staat voer verder aan Nenembe het Vumazonke bygestaan om Jayde, op versoek van haar man, te ontvoer en te vermoor.

Siyoni het intussen ingestem om ʼn staatsgetuie te wees.

Staatsaanklaer Marius Stander het egter aan die hof gesê Panayiotou het ʼn dubbellewe gelei en hy was op ʼn manier “getroud” met sy minnares, Chanelle Coutts.

Stander het gesê Coutts het naweke saam met Panayiotou by hotelle spandeer en die staat is van voornemens om te wys hoe ongelukkig Jayde was voor haar moord.

Die hof het ook gehoor Panayiotou beweer ʼn voormalige werknemer, Mawonga Ndedwa, wat nou ʼn “belangrike staatsgetuie” is, het glo sy ma, Fanoula, gedreig en gesê sy moet R150 000 betaal in ruil vir bewyse. Panayiotou het in sy verklaring gesê terwyl hy by St Albans-gevangenis aangehou is, is Ndedwa afgedank nadat hy ʼn bottel whiskey by die winkel gesteel het. “Tot in daardie stadium het hy nie enige verklaring by die polisie afgelê nie, maar nou is hy skielik ʼn getuie vir die staat,” lui sy verklaring.

Ndedwa het Fanoula Panayiotou glo gedurende 2016 gekontak en haar gedreig en gesê hy is in besit van ʼn selfoon wat haar seun se saak sal “sink”. “Hierdie dreigemente het direk aan my ma of deur ons personeel voortgeduur en hy het aangedui hy sal die selfoon aan my familie oorhandig as ons vir hom R150 000 gee. In opdrag van my regspan het my ma hom opgeneem.”
Die staat voer aan Panayiotou het Ndedwa se selfoon gebruik om Siyoni te kontak. Price het gesê die verdediging sal deur middel van selfoonrekords bewys Ndedwa se getuienis is vals.

Die beskuldigdes staan tereg op aanklag van sameswering om moord te pleeg, moord, ontvoering, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Die mans het almal skuld ontken op die aanklagte.

Panayiotou, wat kort ná sy vrou se moord in hegtenis geneem is, staan ook tereg op ʼn bykomende aanklag van dwarsboming van die gereg.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Onwettigheidjie ·

N ou onwettigheidjie, hoe kan Price selfoon rekords van iemand anders se foon kry, verder berus die hele saak nie op Ndedwa se getuienis alleen nie, wel slim try Terry. Ou Christopher hoe dom is jy? N Gelukkige man sal nie n skelmpie aanhou nie, daai is n groot dom wilde kans wat oops ontplof. Jy moet maar jou pak vat soos n man, Jayde kon nie kies nie, so wie gee jou die reg?

Kobus 4e ·

Die meeste van die mense maak my siek met hulle alewige “volmaaktheid” en veroordeling omdat hulle alwetend is. Onwettigheidjie, kom ons “fire” die hele regsbank en sit jou daar, jy is mos alwetend. Ek kom nie vir Panayiotou op nie, maar kan hom ook nie oordeel nie, want hy is nog nie skuldig bevind nie. As jy n PERFEKTE lewe lei, gooi klippe, so nie, bly stil en hou jou op jou plek. Los die veroordeling vir die regters en die regsbank.

Columbiana ·

Sjoe Kobus daai soapbox van jou wankel behoorlik hoor. Met dieselfde tong waarmee jy hier spreek doen jy presies dit waarvan jy ander beskuldig. Hierdie “moenie oordeel” storietjie is nou al so afgesaag dat dit mens skoon naar maak. Seker 99% van die mense wat hier kommentaar lewer het nog nooit moord gepleeg nie of iemand betaal om moord te pleeg nie. So ja ons het die reg om ‘n opinie te lig oor die sake. Moenie opinies verwar met oordeel nie. As jy nie mense se opinies oor veroordeelde of aangeklaagdes wil hoor/lees nie staan dit jou vry om die kommentaar afdeling ‘n mis te gee. Die reg verloop sy gang maar terwyl dit gebeur is elkeen geregtig op sy opinie.

Piet ·

Kobus, dit is so dat die reg sy loop moet neem. Die beskuldigde kan egter nou seker nie beweer dat hy so verlief op sy vrou was nie. Hy het ‘n langtermyn verhouding met ‘n ander vrou gehad. As ‘n mens trou breek dan smyt jy eintlik ook jou eie geloofwaardigheid by die agterdeur uit.

Denise ·

Dit is nes jy daar se tw hoe gelukkig was hy nou regtig??????? Dit is tragies dat so n mooi vrou moes sterf so onodig!!!!

Saartjie ·

AG ASB. Gelukkig getroud? As jy gelukkig getroud is kyk jy nie eers na ‘n ander man/vrou nie – wat nog van ‘n buiteegtelike verhouding soos die ….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.