Hulp benodig by tehuis ná personeel begin staak

Residentia Moria-aftreeoord in Krugersdorp (Foto: Verskaf)

Vrywilligers het ingespring om te help nadat ʼn groot aantal van die personeellede van die Residentia Moria-aftreeoord in Krugersdorp Woensdagmiddag op ʼn onbeskermde staking gegaan het.

Dit is glo omdat dié personeellede ontevrede is oor die instelling se Covid-19-protokol.

Volgens Joe Duvenage, uitvoerende hoof van die Residentia Moria-groep, het die departement van gesondheid, die departement van sosiale ontwikkeling en die instituut vir oordraagbare siektes tydens ʼn inspeksie by die oord bevestig dat die groep se protokolle meer as voldoende is.

Duvenage het aan Maroela Media gesê dat versorgers, skoonmakers en kombuispersoneel Woensdagmiddag die werkplek verlaat het en Donderdag nie weer vir werk opgedaag het nie. Hulle het selfs aan die bestuur ultimatums gestel.

“Ons arbeidskonsultant is reeds in gesprek met die unies. Die stakende personeel is sover vreedsaam en rustig,” sê Duvenage.

Die tehuis het Donderdag vrywilligers se hulp gevra om na die nagenoeg 100 inwoners te help omsien in verskeie fasette van versorging in die tehuis. Duvenage sê ongeveer 60 van dié inwoners is verswak en benodig volledige 24 uur sorg.

Die stakende personeel is sover vreedsaam en rustig (Foto: Verskaf)

“Vrywilligers van die publiek, Solidariteit Helpende Hand, ons eie bestuurspan en bykomende personeel het ingespring om te help. Ons het nou soveel hande moontlik nodig. Ek kan wel sê ons inwoners ontvang steeds die nodige versorging te midde van die staking. Hulle is ons eerste prioriteit,” sê hy.

Solidariteit Helpende Hand het sy streekskoördineerder en ’n maatskaplike werker na die tehuis gestuur om die situasie te evalueer en om met die bestuur te vergader.

Antoinette Deysel, Solidariteit Helpende Hand se adjunk- uitvoerende hoof van gemeenskapsontwikkeling, het Donderdag gesê Helpende Hand gaan saam met die tehuis se bestuur werk om hulp te koördineer sodat die bejaardes die sorg kry wat hulle benodig. AfriForum is ook tans by die perseel om veiligheid by die ouetehuis te verseker.

Mariette van de Werken, Helpende Hand se streeksorganiseerder van Gauteng-Suid, is by die tehuis en sê Helpende Hand is reeds besig om ’n lys op te stel van vrywilligers in die omgewing om met basiese take by die ouetehuis te help. Helpende Hand gaan ook probeer om professionele versorgers gereed te kry om met die meer gevorderde versorging te help.

Hannes Noëth, besturende direkteur van Helpende Hand, sê Solidariteit Helpende Hand het onderneem om die tehuis by te staan met die versorging van die bejaarde inwoners.

“Helpende Hand veroordeel die gedrag van die personeel wat in tye soos dié verswaktes onversorg laat ten sterkste. Dit is harteloos, koud en onverdedigbaar. Dit is ’n gemeenskap se roeping om na ons bejaardes en verswaktes om te sien. Personeel wat in sulke omstandighede staak se optrede moet ten sterkste veroordeel word,” sê Noëth.

Duvenage sê hulle is dankbaar vir al die hulp wat hulle reeds ontvang het. “Daar kom darem iets goeds uit hierdie slegte situasie. Die vrywilligers is ons goue randjie,” sê hy.

Lede van die publiek wat ʼn hand wil bysit om as ʼn tydelike vrywilliger by die tehuis te help, kan ʼn e-pos stuur na [email protected] of haar by 071 548 8013 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Anel ·

As hulle nie die werk wil doen nie, hoekom bedank hulle nie? Niemand dwing hulle om daar te werk nie. As hulle staak, gaan dit nie oor die werk nie. Vir hulle gaan dit mos net oor die geld en ” it is a job”.

Kobus ·

Anel, dieselfde het gebeur in Europa en in Kanada, toe ek 2 mde gelede dit met jou gedeel het, het jy my geantwoord dat jy my nie glo nie. By ons is sterftes in bejaardesorgoorde bykans 50% van alle stertes. Die personeel was oorweldig en moet dikwels werk met n tekort aan PPE en baie van hulle het siek geraak en gesterf. Die weermag is ingeroep om te help met versorging en 40% van hulle het die virus opgedoen. Jy verstaan klaarblyklik nie die omstandighede wat die virus kan veroorsaak nie. As dit net oor geld gaan kan jy reg wees, maar ek betwyfel dit. Ek verstaan die maatreels in SA is baie streng by die ouetehuise, wat hopelik soortgelyke gevalle sal voorkom.

Elmarie ·

Mens wil ampers sê wie het die dekselse werkers nodig as daar Afriforum en ander vrywilligers is. Ongelukkig werk dit nie so nie, maar ja, wat ‘n absolute skande man!

sopbeen ·

Daar is ‘n vrot appel in die mandjie wat almal beinvloed.

Pieter ·

Begin met her-struktrurering van tehuis se personeel en laat almal weer aansoek doen vir hul poste. Die dooie hout kan dan maklik uitgekap word.

Maria ·

Presies. Wie bring die virus in aftreeoorde in? Ek sou self gaan werk in so ‘n instansie as ek nie werk gehad het nie, Dit sal n eer wees

Snowball ·

Dalk is daar vrywilligers wat soek na werk. Stel hulle aan en dank dié sleepvoet goed af wat staak. Laat hulle loop UIF trek en by die huis lê. Hulle sal eerder in toue staan v “grants” as wat hulle werk.

Mariana ·

Ag nee, wat gaan met die unies aan. Dankie aan vrywilligers. Die wat so staak moet ander werk soek want hulle sal dit weer doen. Stel mense aan wat wil werk en trots is op hul werk. Die unies is verantwoordelik vir baie probleme in die land.

Michael 1 ·

Stel die regte mense aan die wat n liefde vir sy medemens het en die wat weet wat dat jy in so n geval nie net alles neersit en begin staak nie maar onderhandel en nie aan jou self dink nie.

SJM ·

Mag kinders hulle ouers gaan haal? Indien wel gaan die ouers vir twee weke in isolasie in hulle kamers moet bly as hulle terugkom? As die kinders moontlik eerder as vrywilligers kan help dan sien hulle ten minste hulle ouers. Sovêr ek weet mag jy oor die grense van provinsies beweeg as jy iemand moet gaan versorg.

Gemaskerde Sopbeen ·

Raak ontslae van hulle so lank dit binne die raamwerk van die wet geskied. Daar is baie baie gewillige mense wat werk bitter nodig het.

Maria ·

Jammer, die die verspreiders van die virus moet waai. Cheers! Dis hoe die toekoms gaan lyk, beskerm jouself teen mense sonder integriteit

Leon ·

Daar is ouetehuise waar die eienaars geen beskermde toerusting aan die werkers verskaf en hulle trekook nie ander klere aan waneer hulle by die tehuis kom nie. Nou is daar ‘n massa Covid-19 gevalle en hulle moet nou die inwoners aan drakoniese regulasies onderwerp. Dit kom van geld besparing want niemand weet wat van die geld word wat die inwoners betaal.

4ntj13 ·

Miskien is dit tyd om ʼn duidelike voorbeeld te maak. Kla die spul, insluitend hul unies, strafregtelik aan dat hulle elkeen van daai oumense se lewe in gevaar stel, en werf vakbondlose werkers wat die verantwoordelikheid kán dra en die inkomste nodiger het. Praat, praat, praat en niks doen gee ons “denkendes” net ʼn onvergenoegde reputasie by die opportuniste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.