Hulp gevra vir beseerde werkers ná staking

Neal Froneman, uitvoerende hoof van Sibanye, en Amcu-president Joseph Mathunjwa onderteken die driejaarooreenkoms by Sibanye se Driefontein-myn (17 April 2019) (Foto verskaf deur Amcu)

Die vakbond Solidariteit het Donderdag die mynmaatskappy Sibanye-Stillwater versoek om finansiële, emosionele en ander ondersteuning te bied aan die talle gesinne wie se huise afgebrand is tydens ʼn vyf maande lange staking wat met geweld gepaard gegaan het.

Die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) het Woensdag ʼn driejaarooreenkoms met Sibanye onderteken ná onderhandelinge verskeie kere vasgeval het. Minstens 15 000 Amcu-lede het op 21 November 2018 by Driefontein, Kloof en Beatrix-myne begin staak. Hulle het hoër lone geëis “ná die mynmaatskappy ʼn Amcu-onderhandelde loonooreenkoms met drie ander vakbonde aangegaan het”.

Ernstige geweldpleging het aan die begin van die staking voorgekom. Nege persone is dood en meer as 60 huise in die Carletonville-gebied is afgebrand.

Die loonooreenkoms wat Amcu Woensdag onderteken het, is dieselfde ooreenkoms wat die National Union of Mineworkers, Solidariteit en die United Association of South Africa (Uasa) verlede jaar onderteken het toe hulle ʼn verhoging van R750 per jaar vir die periode 1 Julie 2018 – 30 Junie 2021 aanvaar het.

Amcu het ingestem om nie enige verdere appèlaansoeke in te dien nie.

Sibanye het ingestem tot ʼn ex gratia-betaling van R4 000 vir alle werknemers by sy goudmynbedrywighede in die vorm van kontant of ʼn geskenkbewys met ʼn kontantvoorskot van R5 000 op versoek van werknemers wat maande lank nie salarisse ontvang het nie. Dit sal terugbetaalbaar wees oor ʼn periode van 12 maande.

Gideon du Plessis, algemene sekretaris van Solidariteit, het Sibanye geloof dat hy voldoen het aan sy belofte om nie die regte en posisie van die vakbonde te ondermyn wat reeds die loonooreenkoms onderteken het nie en vir die ex gratia-betaling aan sy lede en ander werknemers wat nie gestaak het nie, vir die verlies van inkomste wat gely is tydens die Amcu-staking.

“Alhoewel ons lede baie meer as die genoemde bedrag in inkomste verloor het, is dit, ten minste, ʼn erkenning vir hul toewyding tot ʼn volhoubare maatskappy en mynboubedryf wat hulle getoon het om onder baie moeilike omstandighede te bly werk tydens die staking,” het Du Plessis bygevoeg.

Hy het gesê die vakbonde en Sibanye moet dadelik begin om verhoudings te herbou en maatreëls in plek te stel om ʼn soortgelyke episode in die toekoms te verhoed. “Die fokus moet nou na die huidige afleggingsproses by die maatskappy skuif en alle betrokke vakbonde moet saam staan om grootskaalse werksverliese te voorkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JC ·

Laat hulle die hulp by die vakbond vra. Die vakbond het die stakings gereël en nie die myn nie.

Johanna Botha ·

Gaan vra hulp by die unie of oupa wat 20 jaar terug orlee is …die vermetelheid ! !

Bathabile ·

Die ANC of Ace kan help, hy deel mos Tweehonderdrandnote uit op tv!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.