Hulp stroom in ná Phalaborwa-brand

Skenkings stroom in vir Phalaborwa-inwoners ná ‘n veldbrand die afgelope naweek. (Foto: Round Table Tzaneen 96/Facebook)

Inwoners van Phalaborwa in Limpopo, weldoeners en ander organisasies het Sondag hulle hande uitgesteek en hulp aan mense verleen wat die afgelope naweek bykans alles in ʼn verwoestende brand verloor het.

“Dit was ʼn verskriklike traumatiese ervaring. Ek het ervaar hoe volwassenes en kinders met net die klere aan hulle lyf uit ʼn brandende huis hardloop. Daar is mense wat niks oor het nie. Maar wat werklik ongelooflik was om te ervaar, is hoe die gemeenskap te midde van so ramp byeengekom het,” het Anton Kellerman, voorsitter van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), Maandag aan Maroela Media gesê.

Hy het verwys na inwoners wat te midde van die hitte, woeste vlamme en ʼn waterkrisis planne beraam het om huise, bome, grasdakke en wat nog alles van die vuur te probeer red.

Maroela Media het vroeër berig dat Phalaborwa Sondag tot rampgebied verklaar is nadat ʼn veldbrand Saterdag versprei het en minstens 12 huise, waaronder ʼn gastehuis, tot op die grond afgebrand het. Meer as 30 ander huise is ook in die verwoestende brand beskadig.

Minstens 12 huise in Phalaborwa het Saterdag aan die brand geraak. Foto: Twitter

Die gewilde gastehuis Elegance Guest House en tien hektaar grond in die noordelike deel van Phalaborwa het ook in die slag gebly.

Kellerman sê dat daar nie net hulp en ondersteuning uit die plaaslike gemeenskap ontvang word nie, maar ook bydraes wat uit die omliggende gebiede soos Tzaneen, Hoedspruit en Nelspruit kom.

“Ons ontvang vragte skenkings. Dit is goed soos kospakkies, gebottelde water, klere, linne, meubels en ander benodigdhede asook geldelike bydraes en slaapplek. Verskeie inwoners het hulle huise oopgestel vir gesinne wie se huise afgebrand het, en ʼn paar gastehuise op die dorp het ook tydelik hulp aangebied.”

Volgens Kellerman help skenkings om die onmiddellike nood te verlig, maar daar is ook langtermynhulp nodig om mense te help om hul huise te herbou. “Met die donasies wat ons ontvang, kan goed soos boumateriaal aangeskaf word.”

Nicolise Schambriel, voorsitter van Helpende Hand se Phalaborwa-tak, sê sy het Sondagoggend op Helpende Hand se nasionale Whatsapp-groep om hulp gevra en in ʼn oogwink het Round Table van Tzaneen laat weet hulle is besig om skenkings in te samel.

“Hulle het net na 14:00 op die dorp aangekom met twee bakkies en twee sleepwaens propvol groente, gebottelde water, kruideniersware, beddegoed en ʼn klomp ander benodigdhede.

Round Table Tzaneen 96 laai skenkings vir Phalaborwa-inwoners af ná ‘n verwoestende brand die afgelope naweek. (Foto: Round Table Tzaneen 96/Facebook)

“Dié gemeenskap het net weer gewys hoe kragtig dit is wanneer mense saamstaan. Wie en wat jy is, het nie saak gemaak nie. Almal het ingespring om te help.”

Schambriel sê sy hoop die gemeenskap kan nou ook saamstaan om die voortslepende waterkrisis waarin die dorp al ʼn geruime tyd gedompel is, uit te sorteer.

“Daar was van die inwoners wat moes staan en toekyk hoe die vuur al nader kom met die wete dat hulle krane kurkdroog is. Sommige dele van die dorp sit al van verlede Woensdag af sonder ʼn druppel water. Dit is as gevolg van die munisipaliteit se wanbestuur en ons kan dit nie verder toelaat nie.”

Lede van die publiek wat die Phalaborwa-gemeenskap wil ondersteun, kan vir Anton Kellerman skakel by 084 226 6000 of vir Tania Goss by 072 469 2881. Of stuur e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Karoo ·

Baie baie dankie aan almal wat kan en wil help, Julle skep hoop en stel ‘n goeie voorbeeld.

Frances ·

Mens kan maar amper seker wees die brand het begin deur iemand se agterlosigheid, net jammer soveel onskuldige mense word daardeur geraak.

TrueMan ·

As ek so deur die fotos in ander media kyk, en ek sien meeste huise het grasdakke, trek my keel toe. Of dit brandstigting is of nie, n grasdak huis is oop uitnodiging vir brande. Mense twee huise van ons af in Centurion het n grasdak huis, en ek slaap met een oog oop

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.