Hulp stroom in na tieners baba uit stormwaterdrein red

Anke en Renaldu saam met Baba Moses (Foto: Verskaf)

Die gemeenskap van Beaufort-Wes het hul harte oopgemaak vir ʼn dag oue babaseuntjie wat in ʼn stormwaterdrein in die dorp gevind is.

Lizette van der Nest se dogter, Anke Batt (15), het haar die aand omstreeks 19:58 gebel en vertel dat sy en haar broer, Renaldu van der Nest (15), op die baba in die drein afgekom het. Dié twee tieners het die aand met die hond gaan stap toe hulle die baba hoor huil het.

“Renaldu het met sy draagbare musiekspeler kliphard musiek gespeel toe Anke, wat ons hond Jaap gelei het, skielik iets gehoor het en haar broer gevra het om die musiek af te sit. Hulle het eers gedink dis dalk ʼn kat wat vanuit die drein gehuil het, maar later het hulle vasgestel dat dit ʼn baba is,” vertel Lizette.

Sy en haar man, Koos, en hul oudste seun, Marco van der Nest (17), het almal inderhaas na die drein gegaan om te help.

“Marco het hom deur ’n smal gleuf in die gat inforseer, wat omtrent twee meter diep was, om die baba te red.”

Die baba was toegedraai in ʼn kombers en in ʼn rooi plastiekdrasak gevind. Hy is vermoedelik by die gleuf afgegooi en het die val oorleef.

“Die baba se lyfie was so koud; my man het gesê sy hand het skoon gepyn van die koue.”

Die baba het vermoedelik ongeveer vier ure lank in die water gelê voordat hy gered is.

Koos het die baba by die huis in louwarmwater gebad en Lizette het hom daarna teen haar bors vasgehou om hom warm te hou.

Die drein waar die babaseuntjie gevind is (Foto: Verskaf)

Hulle het intussen ook die polisie en ambulans ontbied. Die ambulans het die babaseuntjie na die plaaslike hospitaal geneem waar hy nou vir tien dae moet bly.

“Dit gaan nou baie beter met hom. Hy is ’n fris, gesonde bulletjie van 3,6 kg. Ons is steeds almal in skok. Ek self het ’n laatlam van 19 maande.”

Die hospitaalpersoneel het die seuntjie intussen “Baba Moses” gedoop. “Ons het hom as Ruan gedoop, wat ʼn afkorting vir Renaldu en Anke is wat sy lewe gered het. Van die personeel noem hom ook Gift.”

Lizette sê dit is net genade dat haar kinders hom hoor huil het.

Die plaaslike hospitaal kon die baba dadelik met ’n jong student verbind. Sy wou glo selfmoord pleeg, maar is intussen in hegtenis geneem op aanklagte van poging tot moord.

“Die baba se ouma het ook intussen in die prentjie gekom. Sy was erg geskok om van die baba se bestaan te hoor, want sy het nie eers geweet haar dogter is swanger nie.”

Die baba gaan moontlik in die ouma se sorg geplaas word wanneer hy ontslaan word.

Die Van der Nest-gesin het op sosiale media om hulp en skenkings vir die seuntjie gevra en klere, doeke, wasseep, room, waslappe en ander bababenodighede het intussen ingestroom.

Nog doeke en formulemelk is onder meer nodig.

Renaldu (links), Anke en Marco sit by die stormwaterdrein (Foto: Verskaf)

“Ons wil soveel moontlik goed bymekaar maak sodat hy darem goed het wanneer hy ontslaan word. Ons wil só ook die finansiële las op die ouma verlig.”

Lizette is dankbaar om te sien hoe mense hul harte oopmaak. Sy en haar man het ‘n passie om ’n verskil te maak.

“As ek eendag die lotery wen, sal ek graag ’n veilige hawe vir slagoffers van gesinsgeweld wil skep. Vroue moet hulself bemagtig en ’n ondersteuningsnetwerk kry sodat hulle uit hierdie omstandighede kan kom en vir hul kinders ’n veilige huis kan bied.”

Daleen Gouws, woordvoerder van die drukgroep Action Society, beskryf die seuntjie se oorlewing as ’n wonderwerk en ’n verhaal van hoop.

“Jaarliks word meer as 3 500 babas in rioolpype, vullisdromme, digte bosse en selfs in vlak grafte gevind omdat hul desperate ma’s weens omstandighede nie kans gesien het om hul groot te maak nie. Dubbeld soveel word nooit gevind nie,” vertel Gouws.

“Verkragting, aanranding, armoede en ’n gebrek aan dokumentasie is van die hoofredes waarom ma’s hul kinders weggooi. In plaas daarvan om hierdie vrouens te veroordeel, moet ons eerder probeer om swanger meisies in ons gemeenskappe te omarm en ondersteun sodat hulle betyds by veiligheidshuise vir babas kan uitkom.”

Action Society het ’n veldtog van stapel gestuur om bewustheid vir die probleem te skep en oplossings te inisieer.

“Die publiek moet ingelig word sodat ons die stereotipering van aanneming positief kan maak en die veroordeling van hierdie ma’s, wat nie kans sien om hul babas groot te maak nie, kan staak. Vir daardie baba is dit eintlik ’n nuwe begin.”

Enige iemand wat iets wil skenk, kan Lizette op e-pos kontak by [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Connie ·

So trots op julle, julle laat ons harte warm klop. Julle is helde.

Mieke ·

Waarvoor die af duim???? Watter mens steek nie sy hande uit om te help nie? Mens sal altyd die lewe respekteer, maak nie saak wie dit is nie.

Matilda ·

Welldone aan die weldoeners. Ek het egter geen simpatie met enige ma wat ‘n kind weggooi nie. Wanneer gaan mense besef dit is makliker om gebruik te maak van gesinsbeplanning, eerder as om ongewens swanger te raak en dan bloot net ontslae raak van jou baba omdat jy nie verantwoordelikiheid het nie. Voorbehoedmiddels en kondome is oral beskikbaar, daar is eenvoudig nie ‘n verskoning vir sulke gedrag nie.

Oom Hennie Pennie ·

Pragtig! Lekker om vir ‘n slag positiewe nuus te verneem.

LiveAndLetLive ·

Neem jou baba na polisie stasie of hospitaal as jy hom/haar nie wil he nie, vader land asb moenie babas weggooi nie, dit is n mensie, n lewe.

antieke antie ·

ek stem…maak seker die kind is veilig …daar is so baie wat n baba wil he…. maar ek stem daar moet kanale wees waar mense makliker die kind kan afgee sonder probleme…
ek is eintlik meer dat die swangerskap voorkom word eerder as om n baba te he wat later op die straat beland…. dis n seening om n baba te he

Blikkantien ·

Welgedaan! Ek kan nie help om te sien dat daar weggooidoeke geskenk is nie. Kry mens nie meer gewone lapdoeke nie? Dis meer omgewingsvriendelik en goedkoper.

Magda G ·

Sluit die ma vir lank toe. Sy is onverantwoordelik. Sy het geen hart nie. Weet die pa die baba is gebore. Wat gaan die vrou aan die baba doen as haar moeder hom in haar sorg het.

judith ·

hie kan n mens so onmenslik wees. Dt bly n kind. mooi so julle is savers.

Chantel ·

Min gewete en nog minder “regard for life”. Hoe gooi mens jou eie baba weg? Dan verstaan ek hoe moor hul so maklik.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Dis nou goeie nuus vir my goeie-nuus-diens!

Regverdigheid ·

Trots op julle ………….so verkeerd daar is voorbehoed middels verniet gebruik dit …baie mense smag na n baba en dan gooi hul so weerlose kleintjie net weg nie eers n hond doen dit ….sad

Wielspore ·

Dit wys net wat is die waardes verskil, die een persoon se waardes is van so ‘n aard dat ‘n kind weg gegooi word, die ander se waardes is dat hy eerder sal omsien na die kind wat weg gegooi is. Ons land het ‘n groot probleem, van die mense se waarde standaarde is baie laag.

pompies ·

Baie bly die 2 kinders het hom hoor huil, dit is jammer dat die kind so weggegooi is. Sterkte aan die baba, ma en die ouma wat nou die kind moet oppas. Ons weet nie wat se gewetens wroeging die jong ma deur gegaan het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.