Hulp stroom in vir Calvinia-boere: ‘Krisis nog nie verby’

Voer wat vir die boere in die Calvinia-distrik in die Noord-Kaap geskenk is. Foto: Verskaf

Voer wat vir die boere in die Calvinia-distrik in die Noord-Kaap geskenk is. Foto: Verskaf

Terwyl talle mense hul harte en beursies oopgemaak het om boere in die Calvinia-distrik in die Noord-Kaap te help, nadat ʼn verwoestende brand duisende hektaar weiding vernietig het, sê die plaaslike landbouvereniging die krisis is nog lank nie verby nie.

Maroela Media het vroeër berig ʼn brand, wat op 28 Desember, vermoedelik weens ʼn kortsluiting by ʼn Eskom-transformator ontstaan het, het omtrent 25 000ha weiding in die gebied vernietig. Dit het talle boere in die gebied, wat reeds met hul hande in die hare sit weens die voortslepende droogte, in ʼn nog groter krisis gedompel.

André Steenkamp se familie boer al vir nege geslagte lank op ʼn plaas in hierdie gebied en sy broer woon en boer tans op die familieplaas. Hy vertel talle mense het intussen voer en geld aan die boere in die gebied geskenk om te help betaal vir die vervoer om die voer na Calvinia te neem.

“Mense het van so ver as Zambië gebel om te help nadat hulle die berig op Maroela Media gesien het. Hoe mense net hul harte vir die boere oopgemaak het, is ongelooflik. Ons voel ons moet net vir hulle dankie sê –  dit is wonderlik om te sien hoe mense bereid is om te help,” het Steenkamp gesê.

Die brand wat einde Desember 2016 in die Calvinia-distrik in die Noord-Kaap gewoed en 25 000ha weiding verwoes het. Foto: Verskaf

Die brand wat einde Desember 2016 in die Calvinia-distrik in die Noord-Kaap gewoed en 25 000ha weiding verwoes het. Foto: Verskaf

Hy vertel Slabbert Vervoer van Clanwilliam het vyf vragmotors gratis beskikbaar gestel om geskenkte voer vanuit onder meer Rawsonville, Tulbagh en Piketberg na Calvinia te neem. Die nie-winsgewende organisasie, Caring Daisies, het ook ʼn ruim finansiële bydrae gemaak waarmee voer vir die boere aangekoop is.

Wimpie Steenkamp, voorsitter van die Suid-Roggeveld-landbouvereniging, het aan Maroela Media gesê die vereniging het al meer as 80 ton voer ontvang wat onder boere in die Calvinia-gebied wat deur die brand geraak is, versprei word. “Ons het ʼn pilfabriek op Calvinia, dus word omtrent driekwart van die voerskenkings wat ons ontvang, verwerk om voerpille te maak wat dan onder die boere versprei word,” het Wimpie gesê.

Hy sê hoewel die landbouvereniging en die boere baie dankbaar is vir die skenkings wat reeds ontvang is, word baie meer voer nog benodig om al die boere te help wat deur die brand én die voortslepende droogte geraak word. “Net om die skape, wat ná die brand gevoer moet word te voer, het ons omtrent 6 ton voer per dag nodig. Dan het ons nog nie eens die boere gehelp wat weens die droogte nie meer weiding vir hul vee oor het nie,” verduidelik hy.

Voer wat vir die boere in die Calvinia-distrik in die Noord-Kaap geskenk is. Foto: Verskaf

Voer wat vir die boere in die Calvinia-distrik in die Noord-Kaap geskenk is. Foto: Verskaf

“Die behoefte is ongelooflik groot. Dit is drie jaar sedert ons laas voldoende reën in die gebied gekry het. En die realiteit is, al reën dit nou, gaan dit nie kos reën nie. Dit sal baie lank vat vir die weiding om tot so ʼn mate te herstel dat daar genoeg kos vir die diere sal wees.”

Volgens Wimpie het baie boere reeds al hul spaargeld en hulpbronne uitgeput in ʼn poging om hul boerderye deur die droogte te kry. “Ek is baie bekommerd oor die situasie hier in die Hantam-streek. Daar is ouens wat dit nie gaan maak nie. ʼn Honger mens en ʼn honger dier is baie erg… ons is bekommerd.”

Enigiemand wat graag wil help met finansiële- of voerskenkings, kan André Steenkamp op 082 520 8665 of Wimpie Steenkamp op 082 924 5718 bel. Agri Noord-Kaap kan ook direk op 053 832 9595 gekontak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

AL ·

Sjoe dis hoe Christus wil he ons op aarde leef. Mekaar behulpsaam wees in nood. Eskom sal seker nie skadevergoeding betaal nie – hul kan jul ten minste help met veevoer.

Karma ·

Wát???????? Ek’sDom (Escom) skadevergoeding betaal?????? In die volgende lewe, miskien. Hoe kan mense verwag die vet katte moet van hul bonusse en byvoordele afstaan om die simpel spul boere, wat in elk geval tog almal net wit rassiste is, by te staan?

Cobus ·

Wonderlik om te sien dat daar mense is wat daadwerklik help. Baie dankie aan die met ‘n ope hart

Katryn ·

Ja verseker! Hy! Die Gewer van alle goeie dinge! Maak ons harte en hande OOP ! Ons is nie alleen op Sy wêreld gesit nie.

antjie ·

@ Karma …spul simpel boere…nee my maat so werk dit nie daai simpel boere van wie jy praat sit kos op jou tafel…

Koos1 ·

antjie, ek dink jy het Karma verkeerd verstaan, Dit is soos die mense by Eskom dink, nie Karma nie.

Anel ·

Ek stel voor, dat aangesien dit Eskom se fout is, hulle vir skadevergoeding verantwoordelik gehou word. As hulle hulle toerusting in syand hou en nie kyk.hoeveel geld hulle.kan steel nie, sal sulke verwoesting nie gebeur nie.

Alida ·

As Eskom die oorsaak was MOET hulle die boere vergoed. As soiets in ‘n lokasie plaasgevind het het die geld van Eskom lankal ingestroom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.