Hulp stroom in vir ouma ná Centurion-huisbrand

‘n Skermgreep uit die program van Christelle Nagel.

ʼn Emosionele Christelle Nagel wat haar man, kind en kleinkind aan die dood moes afstaan ná ’n brand by die gesin se meenthuis in Centurion uitgebreek het, het Woensdag meer as R50 000 in skenkings ontvang.

Nagel het vanoggend met die aanbieder Martin Bester op Jacaranda FM se  Good Morning Angels gesels waarna hulp uit alle oorde ingestroom het. Dié oggendprogram het R50 000 aan Nagel geskenk. Luisteraars en organisasies het op hul beurt ingeskakel en nóg kontant en kruideniersware geskenk.

“Jou storie het die hele land in trane,” het ʼn luisteraar tydens ʼn oproep aan die program gesê.

Nagel se kleindogter, Leoné, het in die huisbrand gesterf en haar dogter, Nicolene, ’n dag later. Haar man, Theo, het ook later in ʼn hospitaal aan sy beserings beswyk. Hy was tot en met sy dood in ʼn geïnduseerde koma geplaas en weens rookinaseming aan ʼn ventilator gekoppel.

Clarize Pretorius, ʼn familielid, het na afloop van die program aan Maroela Media vertel Nagel is stomgeslaan. “Sy kan nie genoeg dankie sê nie. Julle weet nie watter berg van haar skouers af is nie. Sy was so bekommerd,” het Pretorius gesê.

Nicolene Pretorius by haar dogtertjie, Leoné. (Foto: Verskaf)

Pretorius verduidelik dat Nagel ’n werk en heenkome na die tragedie moet kry. “Sy het nie voor die brand gewerk nie. Sy was by die huis saam die kinders. As sy eers ’n plekkie gekry het, sal sy ook ’n werk moet kry. Theo was die broodwinner,” verduidelik Pretorius.

Nagel moet ook gewoond raak aan die idee dat haar kleinseun, Theo junior, wat ten tyde die huisbrand by hulle gebly het en wonderbaarlik ongeskonde uit die brand gekom het, nou by sy pa gaan bly.

“Dit moet baie erg wees. Sy vat dit maar swaar. Sy het hom grootgemaak as haar eie kind. Dit is nóg ʼn verlies om te verwerk, maar sy doen wat sy glo die beste vir hom is en dit is vir hom om by sy pa te wees,” vertel Pretorius. “Hy is goed vir sy kind en is lief vir sy kind. Dit is ʼn groot behoud.”

Ten spyte hiervan, gaan dit wel beter met Nagel wat ná die brand uiters geskok was. “Dit gaan beter maar sy gaan nog lank nie oukei wees nie,” sê Pretorius.

“Sy weet self nog nie waar om te vat en te los nie. Sy is omtrent oorweldig, maar daar is ’n paar engele wat vandag gehelp het. Ek is so dankbaar Good Morning Angels het haar nood raakgesien. Daar is baie aardse engele,” sê Pretorius.

Maroela Media het vroeër berig ʼn brand het op 24 Februarie omstreeks 22:00 in een van die slaapkamers van die gesin se meenthuis in Pierre van Ryneveld uitgebreek waar Nicolene en haar twee kinders, onderskeidelik twee en vier jaar oud, geslaap het.

Die kamer was reeds in vlamme gehul toe Nicolene wakker geskrik het. Die deur na die res van die huis was egter gesluit en sy kon nie die deur oopkry na haar ouers toe wat saam met haar in dié huis gewoon het nie.

Nicolene kon daarin slaag om vir Theo junior betyds by die venster uit tot op die gras te gooi waarna haar pa die deur uiteindelik afgeskop het.

Hulle kon egter nié die dogtertjie, Leoné, uitkry nie. Dit was te warm. Sy het tussen die bed en die bedkassie vasgesit en hulle kon nie by haar uitkom nie. Hulle kon haar hoor gil. Theo senior en Nicolene kon in die doodsnikke daarin slaag om buite te kom en op die gras te rol waarna die bure die gesin te hulp gesnel het. Albei het brandwonde opgedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Steve ·

Dis so hartseer, het vanoggend geluister na die vrou, en dit is so confusing om te dink dat daar mense in die wereld is wat hul eie kinders vermoor, en dan kry jy weer mense wat tot die dood toe sal baklei om hul kinders te red.

belinda ·

Dit is baie hartseer het die gisin persoonlik geken, theo, christelle se man het ook sy broer skaars sesmaand terug ook aan die dood afgestaan, hulle is nog skaars deur armand se rou proses, baie dankie aan good morning angels.
Christelle baie aan jou en die gesin.
belinda harding

Vanessa Moore ·

Ek stem saam die persoon wat gesê het die land huil saam met haar. Ek moes vanoggend die trane keer. Ek weet nie hoe kom mens oor so iets nie. Mag God jou dra deur die moeilike tyd.

AP ·

Sterkte aan die familie , is vreeslik tragies , mens verstaan nie hoekom so iets moet plaasvind maarglo daar is n hoer hand.

Nadia ·

Dankie vir elkeen wat hand uitgesteek en gehelp het. My hart gaan uit na die ouma toe ek weet my ouers lewe vir hulle klein kinders. baie sterkte.

Denise ·

God dra haar deur al die mense wat haar gan help met iets al is dit net n brood , stoel, tydskrif, bosblomme dit help baie!!!

Asjas ·

Ek het vanoggend op pad werk toe na Good Morning Angels geluister en saam met die Jakaranda span en Christelle gehuil. Ek kan myself eenvoudig nie in so situasie plaas nie. Christelle ek bid dat die Vader jou en klein Theo deur hierdie moeilike tyd sal dra. Aan die engele daar buite, dankie… ek wens ek was in ‘n posisie om te kan help.

Marinda ·

Ek kon ongelukkig nie luister nie, maar is dankbaar vir almal wat gehelp het.

Sterkte Christelle, ek kan my net indink hoe jy voel. Niks kan daai leemte vul nie, maar met tyd word dit beter.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.