Hulp stroom steeds in vir KZN-slagoffers

Vloedskade in KwaZulu-Natal (April 2022) (Foto: Marco Longari / AFP)

Drie weke ná die verwoestende oorstromings wat die lewe van honderde mense in KwaZulu-Natal geëis het en talle dakloos gelaat het, smag inwoners aan die kus steeds na toegang tot vars en veilige drinkwater.

Verskeie woongebiede het nie voldoende toegang tot water nie nadat die vloede skynbaar die meeste van die plaaslike munisipaliteite se waterpype tydens die oorstromings weggespoel het.

Die versekeraar Virseker het onlangs ʼn taakspan na die rampgebied gestuur wat vasgestel het dat die grootste en dringendste behoefte energie – spesifiek gas – en vars water is. Dié maatskappy het nou ook duisende rande geskenk om spesifiek ten opsigte van dié nood verligting te bring.

Die Ethekwini-munisipaliteit, wat gebiede in en om Durban bedien, sê groot vordering is reeds gemaak om watertoevoer na gebiede wat deur die oorstromings geraak is, te herstel.

Herstelwerk aan ʼn groot pypleiding langs die Inkosi Albert Luthuli-hospitaal in Durban is Woensdag eindelik voltooi. Hierdie pyplyn is erg beskadig tydens die oorstromings, maar water het nou in die stelsel begin vloei.

“Sommige gebiede wat deur hierdie groot pypleiding bedien word, soos die Bluff, Woodlands en omliggende gebiede, kry nou water, terwyl ander gebiede water sal kry namate die reservoirs begin vol raak,” sê die munisipaliteit in ʼn verklaring.

“In ander dele van die munisipaliteit sal dit egter langer neem om watertoevoer te herstel, weens die groot skade aan infrastruktuur.”

Die munisipaliteit het intussen watertenkwaens na gebiede gestuur om inwoners van water te voorsien.

Die inwoners van Tongaat is van dié wat die meeste deur die watertekort geraak word.

Die waterbehandelingsaanleg op die dorp lê in puin ná die oorstromings en moet nou herbou word. Dit het daartoe gelei dat die Tongaat-gebied geheel en al sonder water sit.

“Die skade aan die infrastruktuur is groot en dit sal ʼn rukkie neem om dit te herbou,” sê die munisipaliteit.

Boorgate word in Tongaat geboor. (Foto: Gift of the Givers/Facebook)

“Intussen ondersoek ons spanne alternatiewe maniere om watertoevoer in die grootste dele van Tongaat te herstel. Ons is besig met die verkryging van statiese watertenkers, asook die sink van boorgate en die identifisering van watersuiweringaanlegte.”

Die rampverligtingsorganisasie Gift of the Givers (GOTG), in samewerking met die munisipaliteit en ander belanghebbendes, het vandeesweek begin om boorgate in gebiede rondom Tongaat te sink in ʼn poging om in hierdie basiese behoefte te voorsien.

Harold Odendaal, mikrobioloog en mede-eienaar van Ametis Water, het ook sy filtrasie- en suiweringsaanleg aangebied om patogene uit die water wat verkry word te verwyder. Volgens GOTG oorweeg hy dit sterk om van hierdie aanleg gebruik te maak om mense van veilige drinkwater te voorsien.

Ander weldoeners het duisende rande én liters water geskenk om te verseker inwoners het water. Die groothandelaar Makro het ʼn vragmotor vol 5 ℓ-waterbottels aan inwoners van KwaZulu-Natal geskenk.

Kapenaars het ook saamgespan om waterbottels te skenk en minstens sewe vragmotors is reeds na die provinsie onderweg. Dié vragmotors vervoer gesamentlik sowat een miljoen liter water.

Virseker se skenking beloop R150 000 en sal die Helpende Hand Krisisfonds aanvul. Soveel as R250 000 is reeds deur Solidariteit aan hierdie fonds geskenk en Helpende Hande het self ook R100 000 beskikbaar gestel, om die totale skenking op R550 000 te staan te bring.

“Virseker se donasie is uitsluitlik bedoel om inwoners van vars water en gas te voorsien,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker.

“Mense het dringend skoon water en gas nodig om aan hul basiese behoeftes te voorsien, en ons sien dit as ons plig om ook hier skouer aan die wiel te sit en te help waar ons kan.”

Hierdie geld sal deur betroubare gemeenskapstrukture gekanaliseer word om te verseker dat dit so spoedig moontlik dié wat in die diepste nood verkeer bereik.

“Dit is wonderlik om te sien hoe mense in ʼn tyd van nood kan saamstaan, en die mense van KwaZulu-Natal het nou al die saamstaan nodig wat hul mede-Suid-Afrikaners kan bied,” sê Coetzee.

Duisende liters water word geskenk. (Foto: Gift of the Givers/Facebook)

Benewens die groot behoefte aan vars water, gaan talle KwaZulu-Natalse inwoners ook onder kragonderbrekings gebuk.

Meer as 50 woongebiede, waaronder Umhlanga, Verulam, Illovo en Tongaat, sit tans sonder krag, hoewel hulle van beurtkrag vrygestel is. Van die inwoners van hierdie munisipaliteit voer aan dat hulle al vir weke nie krag het nie.

Die munisipaliteit het op sy Facebook-blad gesê dat hy bewus is van al die menigte kragonderbrekings en inwoners verseker dat tegnici hard aan die werk is om aandag te gee aan elke onderbreking.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Lillian

My gat se deksel dat in tye wanneer ons rampe in ons land ondervind, dié regering so absoluut onvoldoende is om te help, en behoorlik toe te sien dat dinge terugkeer na normaal. As dit nie is vir hulp van privaat instansies en die gewone publiek van dié land nie, sal ons almal in ons poep verstik!