Hulp vir boere ná wegholveldbrande

Een van die veldbrande wat langs die N11 gewoed het. Foto: ER24 / Twitter

Een van die veldbrande wat langs die N11 gewoed het. Foto: ER24 / Twitter

Die Oos-Kaapse departement van landelike ontwikkeling het bekendgemaak dat hy noodverligting aan boere gaan bied wat deur die onlangse wegholvelbrande geraak is.

“Die departement sal voer verskaf aan boere wie se weivelde in Cedarville deur die brande verwoes is,” het LUR Mlibo Qoboshiyane in ʼn verklaring gesê. “Ons benodig egter dringend bale om die betrokke boere se oorlewende vee te voer.”

Hy het gesê die provinsie se rampsbestuur sal alle pogings aanwend om die boere en gemeenskappe te help.

Groot gedeeltes van die suidwestelike deel van KwaZulu-Natal en die noordoostelike deel van die Oos-Kaap is sedert Saterdag weens veldbrande verwoes.

“Sowat 15 boere in die omgewing van die Alfred Nzo- munisipaliteit in die Oos-Kaap se landerye is geraak. Nagenoeg 15 000 hektaar se weivelde, 130 beeste, 650 skape en 6000 bale voer is verwoes,” het hy bygevoeg.

Maroela Media het Dinsdag berig dat wegholveldbrande wat deur stormsterk winde aangehelp is, die naweek minstens sewe lewens geëis en ʼn pad van verwoesting gesaai het. Die dodetal het intussen tot 10 gestyg.

Qoboshiyane het sy medelye vir die oorledenes se familie en vriende uitgespreek. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.