Hulp vir gesin ná SA pa in Mosambiek sterf

Adrian Nel is gedurende die aanvalle in die noorde van Mosambiek doodgeskiet. (Foto: BackaBuddy)

Die familie van Adrian Nel, die Suid-Afrikaner wat gedurende die aanvalle in die noorde van Mosambiek doodgeskiet is, het nou ’n fonds op die been gebring om sy vrou en kinders in Suid-Afrika geldelik te ondersteun.

Nel (40) was ʼn gekwalifiseerde kommersiële duiker wat die afgelope vyf jaar in die Kongo gewerk het. Die pa van drie het egter in Januarie by sy pa en sy broer se konstruksiekonsultasiemaatskappy in Palma aangesluit nadat hy sy werk in die Kongo kwyt is weens Covid-19.

Hy het behuisingskampe vir werkers by die Total LNG-projek gebou om vir sy gesin in Suid-Afrika te sorg, sê sy ma, Meryl Knox, in ’n verklaring op die BackaBuddy-platform.

Maroela Media het vroeër berig Nel het twee dae lank saam met sy pa en broer in die Amarula Palma-hotel geskuil voordat hy in ʼn hinderlaag tydens ʼn poging om hulle uit die hotel na veiligheid te bring, doodgeskiet is.

“Adrian is ʼn held vir baie want hy het sy lewe gegee om die lewe te red van sy pa, sy broer en vreemdelinge wat in die beleërde Amarula-hotel vasgekeer was,” sê Knox.

Luidens die verklaring het die vasgekeerdes in die hotel geen wapens vir beskerming gehad nie en was hulle volkome afhanklik van die lugsteun van die Suid-Afrikaanse private militêre maatskappy Dyck Advisory Group (DAG) om die opstandelinge te stuit.

Nel is as ʼn held vir talle bestempel en het sy lewe op die spel geplaas toe hy uit die kamp gehardloop het om ʼn wapen uit ʼn verlate weermagvoertuig in die pad te gaan haal sodat hulle beskerming kon hê sou die opstandelinge die perseel binnekom.

Nel het ’n ongepantserde motor in die konvooi vanaf die hotel bestuur terwyl vroue en kinders in ʼn gepantserde voertuig in die konvooi uit die gebied geneem is. Die konvooi is in ʼn lokval gelei en hy is twee keer geskiet. Nel het egter aangehou ry om sy geliefdes so ver moontlik van die gevaar te kry.

“Dit is as gevolg van Adi dat sy broer, pa en vele ander oorleef het,” sê sy ma.

“Adi was die son, sy stralende persoonlikheid het mense na hom gelok. Hy het lewenslange vriende gemaak waar hy ook al was. Hy was die mees amusante, vrygewige en liefdevolle persoon wat hulle geken het en uiteindelik het hy sy lewe gegee om ander te red.”

Volgens ’n verklaring op die gofundme-platform sal alle skenkings gebruik word om Nel se vrou en drie kinders, onderskeidelik twee, ses en nege jaar oud, te help met lewenskoste en skoolgeld, asook om geld bymekaar te maak vir elke kind se toekomstige studiegeld.

Besoek die BackaBuddy-platform en gofundme-platform vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johanna ·

Dapper man, maar steeds baie hartseer dat daardie kindertjies sonder hulle pappa gaan groot word..

Pieter ·

Dit maak my kwaad, dat ons mense in sulke gevaarlikke omstandighede, moet gaan werk om vir sy gesin te sorg. Dit bly nou maar n feit dat ons nie in ons eie land werk kan kry nie agv ons vel kleur.
Adrian, jy is n held, en jou gesin sal jou so onthou. Sterkte aan die familie

Pieter J ·

Hierdie insident wys baie duidelik hoekom sommige van ons verkies om wapens te besit. Ten minste kan jy dan terug baklei en glo my daar is sommige van ons wat weet hoe want ons is behoorlik opgelei.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.