Hulp vir mediese studente met vertraagde Zuma-jaarplasings

Argieffoto (Foto: StockSnap, Pixabay)

AfriForum Jeug nooi afgestudeerdes in medieseberoepsrigtings – wat nie deur die staat vir hulle gemeenskapsdiensjaar (Zuma-jaar) in 2023 geplaas word nie, om die jeugorganisasie te nader.

Die jeugorganisasie ontvang jaarliks noodkrete van hul jong lede oor die administratiewe gemors wat met die verpligte Zuma-jaar gepaardgaan.

Ten einde gekwalifiseerd te wees en toegelaat te word om in Suid-Afrika te praktiseer, moet gesondheidswerkers ná die voltooiing van hulle studies of – in sommige gevalle – internskappe, ’n verpligte jaar van gemeenskapsdiens doen. Dit beteken dat mediese studente ná hulle studies en twee-jaar-internskap vir alle praktiese doeleindes volwaardige gesondheidswerkers is, maar nie kan werk as hulle nie vir hul Zuma-jaar geplaas word nie, omdat hulle nie daarsonder by die gesondheidsraad kan registreer nie.

Foster Mohale, woordvoerder van die departement van gesondheid, sê die plasings is wel afgehandel.

Altesaam 9 647 Suid-Afrikaanse burgers en permanente inwoners wat in aanmerking gekom en aansoek gedoen het vir mediese internskappe (2 402 geleenthede) en gemeenskapsdiens (7 245 geleenthede) is suksesvol geplaas.

“Altesaam 96,75% van die totale getal aansoekers is in hul eerste vyf prioriteitskeuses geplaas en slegs 3,25% is buite hul vyf prioriteitskeuses geplaas,” sê Mohale.

Die departement het 73,96% van aansoekers by gesondheidsfasiliteite op landelike en semi-landelike gebiede geplaas. Altesaam 26,04% van aansoekers is in stedelike gebiede geplaas. “Dit vorm deel van die regering se pogings om landelike gebiede, wat nie behoorlike dienslewering ontvang nie, te prioritiseer.”

Aanlyn aansoeke is tussen 14 en 28 Oktober 2022 geprosesseer.

Die jeugorganisasie staan egter reg om die howe te nader om mediese gegradueerdes van hul Zuma-jaar vry te skeld indien die staat versuim om hulle betyds te plaas.

“AfriForum Jeug beskou dit in ’n baie ernstige lig wanneer jongmense se loopbane deur die staat se wanadministrasie gestrem word, soos wat tans met mediese gegradueerdes gebeur wat ’n verpligte gemeenskapsdiensjaar in ’n staatshospitaal moet doen en nie geplaas word nie. Boonop het Suid-Afrika elke gesondheidswerker nodig, veral inaggenome die bevinding vroeër vanjaar dat daar minder as een dokter per duisend landsburgers is,” sê René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug.

Afgestudeerdes in medieseberoepsrigtings wat as gevolg van die staat se onbevoegdheid nie geplaas word nie, kan AfriForum Jeug per e-pos kontak by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Werner ·

Hierdie is soortgelyk aan baie ander probleme in SA, soos bv. geldige bestuurlisensie ook:
1. Regering maak ‘n wet wat jou verhoed om iets te doen tensy jy ‘n papiertjie het van die regering wat jou toestemming gee om dit te doen
2. Regering kan nie vir jou die papiertjie gee nie omdat hulle nie ‘n land kan regeer nie (hulle kan nie eers ‘n goeie tyd in ‘n bordeel reël nie)

Die onvermydelike gevolg: Die mense doen die ding sonder die papiertjie.

Harley Davidson ·

Afriforum moet die kwota beleid aanval en dit ongrondwetlik laat verklaar sodat studente op meriete gekeur word om medies in Suid-Afrika te studeer en nie die beleid wat huidiglik openlik teen wit minderhede diskrimineer nie.

Nie Verbaas ·

Vertraagde Zuma jaar uitdrukking n presiese ANC beskrywing. Verwyder net die woord “Jaar”

JM ·

Wat in hierdie land waaraan hulle raak, is nie ‘n gemors nie? Maar aan arrogansie het die spul geen gebrek nie.

SjN ·

Rommelstatus en Anc is trots daarop, hul kry nie eens skaam nie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.