Hulpfonds groei ná Noord-Kaap-brande

Brande het groot dele van Hopetown en Kimberley verwoes. (Foto: Verskaf)

’n Hulpfonds wat gestig is om landbougemeenskappe ná verwoestende brande in Kimberley en Hopetown by te staan, het sedert die begin van die week tot R2 miljoen gegroei. Intussen sal tonne lusernpille ook binnekort aan boere in die omgewing afgelewer word, met behulp van ʼn afsonderlike veldtog om boere tydens die brande by te staan.

Die geld is met behulp van Ekapa, ’n diamantmynmaatskappy in Kimberley, en die landboumaatskappy GWK ingesamel om in samewerking met Agri Noord-Kaap broodnodige hulp aan geraakte boere te bied.

Die maatskappy het egter Donderdag gesê dat baie meer hulp in dié stadium nodig is.

Maroela Media het berig dat minstens 100 000 ha sedert Saterdag deur reuseveldbrande in die Kimberley- en Hopetown-omgewings vernietig is. Dit bring die totale verwoesting wat oor die afgelope twee maande deur brande in die Noord-Kaap aangerig is, op sowat 410 000 ha te staan.

Volgens Neil de Klerk, uitvoerende hoof van bemarking en kommunikasie by GWK, het dié maatskappy hande met Ekapa gevat om die bestaande Just One Drop-inisiatief, ’n projek deur GWK om boere met droogtehulp by te staan, uit te bou om ook verligting aan brandgeteisterde gebiede te bring.

“Dit lyk miskien na ’n onwaarskynlike bron van hulp, maar ons het Ekapa leer ken oor die manier waarop hulle vir mense en die omgewing omgee. Ekapa is bekend vir hul werk en onbaatsugtige beleggings in ons gemeenskappe –  spesifiek vir die beskerming van wildlewe wat hulle baie na aan die hart lê.

“Dit sluit nou aan by hoe GWK oor ons verantwoordelikheid teenoor ons omgewing en gemeenskappe voel.”

AfriForum se Bo-Karoo-streektak, Saai en die Orania Beweging het ook vandeesweek ’n veldtog van stapel gestuur om aan boere in die Noord-Kaap hulp te verleen.

Henk Maree, woordvoerder by AfriForum, het Vrydag aan Maroela Media gesê ʼn bestelling van 66 ton lusernpille is pas geplaas en sal oor sowat drie weke aan boere in die betrokke gebiede afgelewer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pablo ·

Almal soek net geld. Dis die een Hulpfonds na die ander. Almal moet nou betaal vir dit en dat en nog meer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.