Hulpgids bekendgestel om bejaardemishandeling te pak

hulpgidsTerwyl ’n langer lewensverwagting nagestreef word, neem die bittere werklikheid van ’n groter voorkoms van die mishandeling van bejaardes toe. Volgens Solidariteit Helpende Hand toon statistieke dat nagenoeg 5,5% van die totale Suid-Afrikaanse bevolking verlede jaar ouer as 65 jaar was – en dus as bejaardes gereken kan word. Hierdie syfer sal na verwagting teen 2040 tot nagenoeg 12,5% vir alle bevolkingsgroepe styg.

“Aangesien die aantal bejaardes in die komende jare vanweë die langer lewensverwagting skerp gaan toeneem, kan verwag word dat die aantal voorvalle van mishandeling ook sal toeneem,” verduidelik René du Preez, projekorganiseerder van Helpende Hand se projekte wat fokus op bejaardes.

Helpende Hand het daarom op die vooraand van die Verenigde Nasies se Wêreldbewustheidsdag oor bejaardemishandeling, wat Maandag gevier word, ’n hulpgids bekendgestel vir die identifisering en voorkoming van mishandeling van bejaardes. Die gids word in samewerking met The Help Guide en Age-in-Action (’n afdeling van die Suid-Afrikaanse Raad van Bejaardes) uitgereik.

Die doel van die gids is om bejaardes te beskerm en om inligting oor hoe om mishandeling te identifiseer en te help voorkom aan diegene te bied wat in kontak met bejaardes verkeer. Bejaardes kan ook self die gids gebruik om hulself te bemagtig met kennis oor hoe om mishandeling van hulself of vriende aan te pak.

Die gids kyk onder meer in detail na die verskillende tipes mishandeling van bejaardes wat aangeteken word. “Mense glo dikwels dat die mishandeling van bejaardes die vorm aanneem van fisiese mishandeling deur vreemde mense of aangestelde versorgers. Die kwessie van mishandeling van bejaardes strek egter veel wyer as dit. Dit sluit onder meer fisiese, emosionele en seksuele mishandeling en finansiële uitbuiting in. ’n Ander algemene vorm van mishandeling word ook ten opsigte van gesondheidsorg, deur onder meer die weerhouding van gesondheidsdienste, aangeteken,” verduidelik Du Preez.

Hoewel fisiese tekens van mishandeling nie altyd opmerklik is nie, is daar egter wel verskeie tekens wat as’t ware gelees moet word, meen Du Preez. “Daar is beslis waarskuwingstekens wat vir ’n geliefde op moontlike mishandeling kan dui. Wees daarom bedag op iets soos byvoorbeeld herhaalde argumente tussen ’n versorger en die bejaarde. ’n Blote verandering in die bejaarde se persoonlikheid of gedrag kan ook ’n verdere waarskuwingsteken wees.”

Volgens dr. Elma Kruger, direkteur van die Centurion Raad vir Bejaardes, wat ook verantwoordelik was vir ’n bydrae in die hulpgids, rus daar volgens wet ’n verantwoordelikheid op elkeen wat bewus is van mishandeling of selfs die beweerde mishandeling van ’n bejaarde om die voorval by ’n welsynsorganisasie of polisiestasie aan te meld.

Hoewel die publiek meestal in die duister is oor die gevolge van mishandeling deur versorgers (by byvoorbeeld ouetehuise), stel Kruger dit duidelik dat gevalle waar versorgers skuldig bevind word aan mishandeling, hulle van die nasionale register vir tuisversorgers geskrap kan word. Skuldigbevinding aan mishandeling hou derhalwe ernstige gevolge in vir oortreders. Streng optrede is egter nodig om te verseker dat ’n gewoontemishandelaar nie weer in die veld van bejaardesorg sal kan werk nie.

Helpende Hand moedig die publiek aan om van die Raad vir Bejaardes se tolvrye nommer gebruik te maak om mishandeling van bejaardes by aan te meld. Die raad kan gekontak word by 0800 003 081.

Die volledige hulpgids is beskikbaar by www.helpendehand.co.za. Klik hier om die verslag te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Janine ·

My Ma is by n ouetehuis hier in Bellville wat deel is van die ACVV. Die eetgoed wat die kinders en kleinkinders vir haar vat, word onder haar neus gesteel as hulle in die badkamer of eetsaal is. Ons het dit al aangespreek, dan word daar gese dat die versorgers nie steel nie. Verder is my ma te bang om n woord te rep, want die versorgers haal dit uit op hulle. Haar eie woorde. Dis n skande! Mag ek nooit eendag by hierdie seldfe plek beland nie.

Nina ·

My ma is by n outehuis in Bellville wat verbind word aan die ACVV. Die eetgoed wat die kinders en kleinkinders vir haar neem, word uit haar bedkassie gesteel as sy in die eetsaal of badkamer is. Ons het dit al opgeneem en dan word daar vir ons gese dat die versorgers nooit sal steel nie. My ma wil dit nie rapporteer nie, want dan haal die versorgers dit op haar uit. Haar eie woorde. Dis n skande! Ek gaan hulle nog uitvang met n kamera!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.