Hulppakket: Enorme druk op SA se beursie

Foto ter illustrasie: Die organisasie Helpende Hand is een van die talle organisasies wat self ingryp om maatskaplike nood landwyd te help verlig. (Foto: Helpende Hand/Facebook)

Pres. Cyril Ramaphosa het Dinsdagaand ʼn hulppakket van R500 miljard aangekondig om die sukkelende ekonomie – wat nou weens die Covid-19-pandemie selfs verder steier – aan die gang te probeer hou.

Die pakket behels aanvullende ekonomiese en maatskaplike verligting in ʼn poging om ʼn ekonomiese reaksie gelykstaande aan die skaal van ontwrigting beskikbaar te stel.

Politieke partye het grootliks positief op die regering se voorstelle gereageer, maar ekonome waarsku dat die enorme stimuluspakket selfs groter druk op die fiskus gaan plaas.

Prof. Raymond Parsons, ʼn ekonoom verbonde aan die Noordwes-Universiteit, sê die ekonomiese besluite wat in reaksie op die pandemie geneem word, moet met dieselfde mate van dringendheid gepak word as die besluite oor openbare gesondheid.

Parsons waarsku ook dat die beloftes wat Ramaphosa in die enorme hulppakket gemaak het, ʼn selfs groter uitdaging vir Suid-Afrika se reeds beroerde geldsake gaan beteken.

“Selfs voor Covid-19 was die land se finansies onder enorme druk. Die bykomende besteding en lenings wat nou aangegaan moet word, gaan onvermydelik beteken dat skuldvlakke selfs verder gaan versleg.

Weesn die staat van algehele afsondering het die ekonomie bykans tot stilstand gekom. Miljarde rande is nodig om dit weer aan die gang te kry. (Foto: Doctor Ngcobo/ANA)

“Dit gaan selfs groter klem plaas op die dringende herprioritisering van regeringsbesteding weg van minder belangrike kwessies soos wanfunksionele ondernemings soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens, en gaan kundige skuldbestuur oor die volgende paar jaar vereis.”

Parsons sê Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsig vir 2020 is een van ʼn diep resessie, sakeondernemings wat misluk en toenemende werkloosheid. Die ekonomiese hulppakket wat nou bekend gestel is – hoewel dit beduidend is – gaan ook net sommige van die gevolge teenwerk.

Hy sê dit is bemoedigend dat die regering bereid is om by instellings soos die Wêreldbank en Internasionale Monetêre Fonds geld te leen. “As Suid-Afrika meer skuld moet aangaan, moet dit so goedkoop as moontlik gedoen word.”

Parsons sê elke rand tel, maar dat die land ook ʼn slegte geskiedenis het wat resultate betref.

“Suid-Afrika moet uit sy sogenaamde laegroei-slagyster kom sonder om in ʼn skuld-slagyster te trap.”

Russell Lamberti, ʼn ekonoom en hoofstrateeg by ETM Macro Advisors, sê daar is nie ʼn manier dat die regering die hulppakket kan bekostig nie.

“Die regering is reeds hopeloos te diep in die skuld en die private sektor het weinig spaargeld benewens kosbare pensioengeld en korporatiewe besparings wat, indien dit onteien word, teenproduktief gaan wees.”

Talle mense is in armoede gedompel met weinig vooruitsigte op ‘n inkomste. Miljoene mense benodig ook voedselhulp of is van toelae afhanklik. (Foto: Ayanda Ndamane/ANA)

Lamberti sê hy stem meestal nie saam met die voorstelle wat gemaak is nie en meen nou is nie die tyd vir meer skuld en ʼn groter staatsdiens nie. Hy sê die regering moet minder leen, meer spaar en die regering verklein.

“Die aanwending van staatsbesteding om die armes te help is ʼn goeie idee, maar die inwerkingstelling gaan waarskynlik uiters ondoeltreffend wees. Die beste roete om hongersnood te stuit is om die drakoniese afsondering op te hef.”

Hy sê ook bykans niks van die maatreëls wat Ramaphosa aangekondig het, gaan haalbaar vir die staat wees nie. “Die enigste element wat prakties uitvoerbaar is, is die verskaffing van waarborge vir banklenings, omdat banke die kapasiteit het om reddingsboeie of oorbruggingsfinansiering te verskaf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

LIEZL ·

Jammer om te sê, maar talle mense was laaaaaank voor Corona in armoede gedompel

Michael 1 ·

Ek verstaan hierdie nuusberig nie ,daar word gepraat van die regering se hulp fonds met n foto van Solidariteit se helpende hand wat kos voorsien en uitdeel,ek dink die bypassende fotos moet by die bypassende berig geplaas word hierdie lyk vir my soos die verkeerde feite.

Megan Swart ·

Dagsê Michael 1
Die foto word slegs vir illustrasie doeleindes gebruik. Ons vra om verskoning vir die verwarring. Die foto se byskrif is gewysig.
Dankie! Groetnis.
Megan
nms Maroela Media

Genis ·

Ek glo nie die regering weet hoeveel mense in die land is nie…

Mathilda ·

Hierdie geld kom seker uit die jaarlikse begroting vir rampe ens. Vandat ek my verstand het weet ek nie van so ‘n disaster soos nou nie so daardie miljoene moet uit begroting kom wat jaarliks opgehoop het

Burgermeester ·

Ek is jammer vir die persoon wat vandag modereer, maar ongelukkig dra ek by tot die negatiewe houding op die oomblik. Maar as ek ekonomiese sake lees, en sien hoe die ANC die fondse opvoeter, dan kan ek sien hoekom die regering na 25 jaar nog steeds BB-EEE toepas. Die eenvoudige rede, die ANC kan niks uit hulle eie aanpak en ‘n sukses daarvan maak nie. Hulle kan nie vooruit beplan en dink aan die dag van more nie. Ek stem saam met die ekonome in die artikel, dat Suid Afrika nie die hulppakette kan bekostig nie, want ons het nie die vermoee om dit more terug te betaal nie.

Jaco ·

ontneem wit mense hulle stemreg, heeltemal, maar skaf ook regstellende aksie af. dan kry ons darem almal weer werk en dan vermeerder die regering se belastinginkomste

Michael 1 ·

En gee n onafhanklike tuis landjie dat ons onsself kan regeer.

Pietertjie ·

Om te dink dat al die skuld van Eskom, SAA en Landbank opslag gedelg kon word met daai R500miljard. Inteendeel gaan ons oor ‘n paar maande sit met R1 triljoen se skuld.

Ek wonder waar al die geld vandaan gaan kom…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.