Human-moord: Só is beskuldigde vasgetrek

Stephen Lekoro

Dit was die goeie speurwerk en ongelooflike toewyding van ʼn span van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) wat gesorg het dat Stephen Lekoro nou, ná meer as drie jaar, tereg staan vir die moord op sy werkgewers Tewie en Eurika Human van Groot-Brakrivier in die Suid-Kaap.

Die Human-egpaar is op 14 Junie 2016 in hul huis met ʼn mes en panga aangeval. Hulle lyke is eers vier dae later gevind.

Thamsanqa Sishuba is kort ná die moorde in hegtenis geneem en dien reeds twee lewenslange vonnisse uit. Lekoro het kort ná die moorde na Lesotho gevlug en is uiteindelik einde verlede jaar in Bloemfontein aangekeer nadat die polisie inligting oor sy bewegings ontvang het.

ʼn Span speurders, bestaande uit kapt. Johan Bothma van Oudtshoorn, ao. Gerald Rabie en ao. Paulus Scheepers van Groot-Brak, het twee jaar en ses maande onverpoos daaraan gewerk om Lekoro op te spoor en vir sy beweerde dade tereg te laat staan. Kapt. Bothma is intussen bevorder na die rang van luitenant-kolonel.

Die ondersoekbeampte, ao. Rabie, het vandag buite die rondgaande hof in Mosselbaai aan Maroela Media gesê die moeilikste deel van die ondersoek was om Lekoro, wat onmiddellik ná die moorde ʼn verdagte was, op te spoor. “Ons het pamflette met sy foto by die grensposte gesirkuleer en nadat hy in Lesotho opgespoor is, het verskeie polisie-informante Lekoro lank dopgehou.”

Ao. Gerald Rabie

Rabie sê Lekoro het verlede jaar na Suid-Afrika teruggekeer om tradisionele kruiemedisyne te verkoop. “Hy is ʼn sangoma en ons informant in Lesotho het hom gevolg en laat weet waar hy in Mangaung oornag.”

Gister het sers. Neo Mochekwane van die SAPD in Bloemfontein getuig dat hy en twee lede van die polisie na ʼn huis in Mangaung is nadat hulle inligting ontvang het dat ʼn verdagte daar tuisgaan. Dit was Lekoro en van die elektroniese toerusting wat uit die Humans se huis vermis is, was in sy bagasie.

Tumiso Khanya, ʼn minibustaxibestuurder van Groot-Brak, het vandag aan regter Mark Sher vertel dat Lekoro hom op 14 Junie – dit was die dag van die moord – op sy selfoon gebel en gevra het om uit te vind wat ʼn buskaartjie van Mosselbaai na Bloemfontein kos. Hy het laat weet wat die kaartjie kos en het toevallig die volgende dag, Woensdag 15 Junie, vir Lekoro by die motorhawe in Mosselbaai raakgeloop waar die langafstandbusse passasiers op en af laai.

Tewie en Eurika Human. Foto: Verskaf

Khanya het in die hof erken dat hy die man op die foto is wat saam met Lekoro deur die motorhawe stap. Die foto is deur die ondersoekspan van veiligheidskameras by die motorhawe verkry en is gister by die hof ingedien.

Op die foto dra Khanya van Lekoro se bagasie. Khanya het getuig dat hy en Lekoro pap en vleis gaan eet het terwyl Lekoro vir die bus gewag het. Hy het Lekoro gevra hoekom hy so baie bagasie het waarop hy gesê het hy gaan Bloemfontein toe want sy broer het baie seergekry.

“Hy het toe vir my gesê sy ‘lanie’ (werkgewer) is met vakansie en kom eers op 23 Junie terug,” het Khanya getuig. “Maar hy het gesê ek moet vir niemand sê waarheen hy gaan nie.”

Adv. Lenro Badenhorst is die aanklaer en adv. Dawie Scholtz verskyn vir Lekoro.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Anoniem ·

Geluk aan die hele span, moet nooit ophou met die goeie werk wat Julle doen nie ! Sterkte vir al die sake waarmee Julle besig is !

Anoniem ·

Geluk aan die hele span, moet nooit ophou met die goeie werk wat Julle doen nie ! Sterkte vir al die sake waarmee Julle besig is !

Wielspore ·

Goeie werk, hou so aan!
Dit is goed om te lees daar is toegewyde polisiemanne wat alles sal doen om te verseker geregtigheid geskied.

Delia ·

Geluk aan al die polisie beamptes. Julle is puik.
Dawie Scholtz. Hoe verdedig jy so n man

Nettie ·

@Delia – vir seker nie uit vrye keuse en wil nie. Ek twyfel of die …… persoon (die beskuldigde) regshulp kon bekostig. Indien mens nie regshulp kan bekostig nie, word daar vir jou staatsregsadvies en -verdediging aangestel, Indien enige regsgeleerde so ‘n opdrag kry en daar is nie regsgronde waarom hy/sy níé ‘n aangeklaagde kan verdedig nie, moet hulle maar saamspeel …

Blommie ·

As die beskuldig te nie ‘n orokureur/advokaat kan bekostig nie word legal aid aan gewys en legal aid se mense het nie ‘n keuse of hulle moordenaars wil verdedig nie. Hulle moet dit net doen. Ek het ondervinding van hierdie soort verdediging. Jammer mnr Sholtz ek kry jou uit my hart jammer hoor.

aj ·

Waarom het die polisie nie vir Lekoro in Lesotho gaan arresteer nie?

Ek onthou goed hoe Botswana speurders ‘n moordenaar in Johannesburg kom arresteer het om in Gaborone verhoor te word.

Lesotho is ‘n misdaadnes van voortvlugtiges wat uit SA weggevlug het!

wilma ·

Hier is weer eens ‘n bewys dat daar nog goeie, hardwerkende SAPD-lede is. Baie dankie vir julle toegewydheid.

Chrisjan ·

Interessant dat sake in beide die Oos- en Wes-Kaap so flink opgelos word. Ons praat liewers nie van Gauteng nie …

Abe ·

Carel,
Net soos jy iemand se skoene regmaak as jy n skoenmaker is, en dan lekker slaap of voor n klas staan en klas gee as jy n onderwyser is en daarna rustig slaap, of sekere pligte uitvoer in n gemeente as jy n predikant is, net so verdedig jy n aangeklaagde persoon as jy n advokaat vir die verdediging is (di. Jy bedien hom van raad oor die wet, veral omdat jy uit hoofde van jou kennis van die wet, beter gekwalifiseerd is as hy om dit te doen.) As daar niemand is om dit vir hom te doen nie, sal sy kanse om in sy eie beste belang op te tree, baie skraal wees en daar sal geen sin in die hele hofsaak wees nie. In die geval sal die reg nie kan geskied nie. Dus,die advokaat vir die verdediging is n uiters belangrike (en gerespekteerde) deel van die regsproses.

hercu ·

saluut aan die hele SAPD span, wel gedaan :-)

mnr Scholtz hoe gaan jy eendag rekenskap gee?

Adam ·

Vra jy dieselfde vrae vir die beskuldigde se busbestuurder, sy drankwinkeleienaar, sy dokter ens ens ens of is hierdie tipe vrae net vir regsgeleerdes bedoel? Wat ‘n belaglike en onbillike opmerking!!!

Blommie ·

Almal wat mnr scholtz verwyt kan eerder my antwoord bo lees. As hy vir legal aid werk het hy geen keuse nie. Ek kry hom eerder uit my hart jammer. Ek het ondervinding van hierdie soort werk. Bid liewer vir mnr Sholtz

Marie Vos ·

Integriteit toegewydheid lojaliteit is ondrsoekspan se motto. Sterkte aan familie Carlo en Tineke.

Abe ·

Grand,
Jou siening is nie net n vereenvoudigde weergawe van die werk van die advokaat nie. Dis heeltemal verkeerd. Die advokaat verdien wel geld met sy beroep, maar hy het geweldige verantwoordelikhede ook en werk baie hard en sonder sy insette tydens n strafsaak sal daar geen sin in die hofsaak wees nie. Sien my kommentaar op ander plekke hier en ook die kommemtare van Blommie.

Abe ·

hercu,
Almal wat nou vir Dawie Scholz veroordeel omdat hy die beskuldigde verdedig, weet nie hoe werk die strafproses wet nie. Iemand moet die beskuldigde verdedig, anders kan geregtigheid nie geskied nie en daar kan geen sprake van n regverdige verhoor wees nie. Dan kan die wet nie toegepas word nie. Dit beteken ook nie dat Dawie met die aangeklaagde noodwendig simpatiseer nie. ‘n Mens kan se, hy doen maar net sy werk.

Niklaas ·

My hartlike komplimente aan hierdie 3 SAP lede wat 2 en half jaar gespook het om geregtigheid te laat seëvier. Dis nie elke dag wat ons dit van die SAP hoor nie. Trots op julle !

Thelma ·

Dit verwarm my hart om die artikel te lees, om te sien dat daar wel goeie speurders en polisie is. Welgedaan en dankie dat julle nooit opgehou het met soek.

Dit verstom my hoe iemand ‘n dubbele moord kan pleeg en more net aangaan asof niks gebeur het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.