Human-moorde: beskuldigde se weergawe ‘onsin en belaglik’

Tewie en Eurika Human.

Regter Mark Sher het Woensdag tydens slotbetoë in die Human-moordverhoor die beskuldigde, Stephen Lekoro, se weergawe van die gebeure as “’n klomp onsin en belaglik” afgemaak.  Hy het onder meer aan adv. Dawie Scholtz, wat namens Lekoro optree, gesê dat ʼn misdadiger nie soveel moeite sou doen om geld uit sy slagoffer se rekening na ʼn ander een oor te plaas as hy dit nie vooraf beplan het nie.

Die regter het ook Lekoro se beskrywing van die aanval op wyle Tewie Human bevraagteken en dit “vreemd” genoem dat Lekoro se meeloper, Thamsanqa Sishuba, uit die bloute ʼn panga byderhand gehad het toe Lekoro vir Tewie met ʼn mes gesteek het.

Die saak wat nou reeds drie weke in die rondgaande hof in Mosselbaai aangehoor word, spruit uit die moord in Junie 2016 toe die Humans deur Lekoro en Sishuba by hulle huis in Groot-Brakrivier oorval is. Eurika Human is in haar bed met ʼn mes doodgesteek en haar man is in die motorhuis met ʼn mes en panga aangeval en vir dood agtergelaat. Die egpaar se lyke is eers vier dae later ontdek.

Lekoro was ʼn werker by die Humans se onderneming en het ná die moorde na Lesotho gevlug. Hy is verlede jaar in Botshabelo in hegtenis geneem terwyl Sishuba reeds in 2017 twee lewenslange vonnisse vir die moorde opgelê is.

Vroeër vandag het die staatsaanklaer, adv. Lenro Badenhorst, in sy betoog gesê die moorde was beplan en die motief was geld. Hy het verwys na Sishuba se getuienis dat Lekoro by die Humans “geld wou gaan haal”.

Hulle het ook nie, soos Lekoro beweer, deur die voorhek ingestap nie, maar van agter oor die draad in die erf ingekom sodat hulle nie raakgesien word nie en het toe in die motorhuis vir Tewie gewag, het Badenhorst betoog.

Hy het aan die hof gesê dat Lekoro se verklaring oor Sishuba wat daardie dag ekstra werk by die Humans moes gaan doen, ook nie waar is nie. Die bewys daarvoor is die onderneming se dagboek wat wys dat daar slegs twee afsprake vir daardie dag was wat min of meer ʼn uur sou neem om te voltooi.

Deurslaggewend is ook die feit dat Lekoro nie geskok of verbaas was toe hy vir moord in hegtenis geneem is nie. Badenhorst het gesê dis in teenstelling met Lekoro se getuienis dat hy nie geweet het dat die Humans dood is nie, omdat hy van die toneel weggehardloop het ná hy Tewie met ʼn mes gesteek het. Lekoro het ook beweer hoewel hy Sishuba weer daarna gesien het, het hy hom nie oor die Humans se lot uitgevra nie.

Adv. Dawie Scholtz, namens die verdediging. (Foto: Susan Purén)

Scholtz het die hof ingelig dat die Lesotho-bankbesonderhede en selfoonstate eers tydens die saak ontvang is en nadat Lekoro reeds sy pleitverduideliking ingedien het. Dit het ongetwyfeld ʼn uitwerking op die saak én op die regte van die beskuldigde gehad, het Scholtz gesê. Hy het die hof gevra om dit in ag te neem.

Scholtz het ook daarop gewys dat die saak grootliks op omstandigheidsgetuienis berus. “Daar is min werklike bewyse.”

Uitspraak word Vrydag gelewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Koos de Meyer. ·

Min bewyse maar hy het erken dat hy Human met ‘n mes gesteek het. Hoe belaglik kan die verdediging wees. As jy een met ‘n mes steek wil jy mos dood maak.

Bossie ·

Koos, ek wil nou iets gesê het maar sal liewers net stilbly voordat ek tronk toe gaan. Belaglik is mooi gestel….

JV ·

Maak mens siek om te sien hoe n Advokaat die beskuldigde bystaan wetende dat hy skuldig is. Hoop hy kan saamleef met sy gewete.

Alida ·

Die Adv staan hom nie by nie. Hy weet hy is skuldig maar doen net sy werk en word goed betaal daarvoor.

snoekie ·

Ongelukkig mag ñ advokaat wat aangestel word om irmand te verdedig, sy diens nie wyer nie. Dis deel van sy eed wat hy afgelê het, dieselfde met ñ dokter. Hy mag wel later homself aan die saak ontrek, maar moet ñ baie goeie rede daarvoor hê.

Frik ·

Nee Snoekie dit gaan om geld. As alles daarop dui dat n moordenaar skuldig is dan kan n advokaat weens gewetensbesware weier om so persoon te verdedig en nie probeer om n moordenaar vry of ligter vonnis te kry nie.
Maklik om te sê daars min werklike getuienis?

Michelle ·

Die beskuldigde het ‘n moord gepleeg niemand het die mes in sy hand gesit nie hy het dit self geneem en ‘n dierbare mens wat hom van werk en voedsel voorsien het wreed vermoor sonder om twee keer te dink. Hy wil kyk of hy nie kan vlug nie soos talle ander. Vonnis hom en kry klaar.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.