‘Humanitêre krisis’ dreig oor Bronkies-water

Volgens die oudraadslid is die watersuiweringsaanleg wat water aan Bronkhorstspruit voorsien, nie op standaard nie [Foto: Verskaf]

Die inwoners van Bronkhorstspruit in Gauteng sit sonder lopende water omdat die dorp se watersuiweringsaanleg volgens die Stad Tshwane probleme ondervind ná die onlangse swaar reën. ʼn Goed ingeligte inwoner meen egter dit is te wyte aan die munisipaliteit se swak instandhouding van infrastruktuur dat inwoners tot twee weke lank sonder water kan sit.

Die stad het in ’n verklaring gesê volgens die reënverslag het die klei, slik en alge (hoë troebelheid) in die Bronkhorstspruitrivier toegeneem. Dié rivier verskaf water aan die dorp.

“Die betrokke waterbehandelingsaanleg kan nie water met hoë troebelheid behandel nie. Daarom moet die aanleg tydelik gesluit word om proaktief op te tree en te verhoed dat water – wat nie aan die standaard vir drinkwater voldoen nie – versprei word,” sê die munisipaliteit in ’n verklaring.

Luidens die verklaring word Bronkhorstspruit, die Zithobeni-, Rethabiseng-, Ekangala-, Ekandustria- en Thembisile Hani-gebied geraak.

Carenesta de Jager, ’n oudraadslid van die voormalige Bronkhorstspruit- en Kungwini-munisipaliteit, voer egter aan die munisipaliteit speel nie heeltemal oop kaarte nie. Sy sê die munisipaliteit se sewe reservoirs wat water aan die dorp verskaf, het leeggeloop weens die munisipaliteit se versuim om oor die jare die nodige instandhoudingswerk te doen aan veral watersuiweringswerke en pompe wat water uit die Bronkhorstspruitdam moet pomp en suiwer.

Vuil water in Bronkhorstspruit se opgaardam [Foto: Verskaf)

De Jager het in 2011 uitgetree as raadslid toe bogenoemde twee munisipaliteite by die Stad Tshwane geïntegreer is. Sy is egter tot vandag toe nog aktief in die gemeenskap betrokke.

“Die pompe wat die water na die reservoirs moet pomp, het oor die jare gekalf en is nooit reggemaak nie. Daar is tans net twee werkende pompe wat rou water na die aanlegte moet pomp. Die munisipaliteit het ook versuim om die afgelope twee weke die water te suiwer, wat algehele laksheid is,” het De Jager gesê.

Volgens De Jager beskik die munisipaliteit ook nie oor die regte chemikalieë om die water in ’n reënseisoen te suiwer nie.

Inwoners kla al jare ook bruin, vuil water wat uit hul krane kom [Foto: Verskaf]

Volgens die stad werk die aanleg sedert Maandagoggend weer, maar die kapasiteit bly laag.

“Daar word verwag dat die kapasiteit geleidelik sal toeneem namate die rou watergehalte verbeter. Laagliggende gebiede soos Bronkhorstspruit, Riamar Park en dele van Zithobeni behoort vandag  (Maandag) water te begin ontvang. Hoogliggende gebiede sal eers water begin ontvang sodra die reservoirvlakke verbeter.”

De Jager meen inwoners kan tot twee weke sonder water moet klaarkom. “Dis ’n dreigende humanitêre krisis. Die stad sê hulle sal water aanry in tenks, maar waar gaan hulle die water vandaan kry?”

Sy voer aan inwoners kla reeds sedert 2016 dat hul kraanwater stink en bruin van kleur is.

“Dit is omdat die dam waaruit ons water kom, vrot is en die suiweringsaanleg nie behoorlik in stand gehou word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jacques ·

Die is loutere twak. Enige persoon wat iets weet van Watersuiwering sal die aanleg binne ‘n week of twee kry om te werk. Bronkhorstspruitdam loop tans lekker oor, lekker vars water, geen alge nie, net slik. Slik is lieflik om te verwyder. Tydens die suiweringsproses moet daar – afhangend van die ontwerp van aanleg – ‘n flokkulant of koagulant gebruik word om die kleipartikels te kry om flokke te vorm en kan dan deur ‘n reeks prosesse uit water verwyder word, eers besinking en dan filtrasie. Die finale stap sal wees om te ontsmet, gewoonlik Chloor. Die is ‘n ou aanleg dus nie kompleks nie. Die besinktanks is heel moontlik vol slik wat verhoed dat die flokke uitsak, dit plaas druk op die sandfilters. So klein bietjie aandag kan ‘n groot verskil maak. Die filtersand kan vol klei wees wat veroorsaak dat dit nie ordentlik funksioneer nie en die water deur tonnels vloei sonder om gefiltreer te word. Nie te moeilik nie, ons noem dit onderhoud. Die mense is gewoon net lui.

Pietertjie ·

Die stadsraad kan nie eens die bossies op die sypaadjie skoonmaak nie. Sies!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.