Hupstoot om Afrika-wildehond te help red

Die bedreigde Afrika-wildehond.

Wildlewegroepe het nou betrokke geraak by die stryd om die bedreigde Afrika-wildehond te help red, terwyl die gewone publiek binnekort nog ʼn geleentheid gaan hê om dié skaars en skugter diere van nader te beskou.

Die Makalali-wildreservaat het onlangs die jongste toevoeging tot die Wildehond-uitbreidingsprojek geword. Die projek word deur die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT) en die Wildehond-adviesgroep van Suid-Afrika gekoördineer as deel van voortgesette pogings om die spesie van uitwissing te red.

Die reservaat is 26 000 ha groot en het pas nasionale private natuurreservaatstatus gekry, het die EWT in ʼn verklaring gesê.

“Weens die grootte, ekologie en die pogings van die bestuur om die gebied te beskerm, is Makalali geïdentifiseer as ʼn ideale plek om ʼn trop wildehonde te vestig. Hulle is op 9 Junie suksesvol daarheen verskuif.”

Die uiteindelike doelwit is om die afname in wildehondgetalle wêreldwyd om te keer, deur hulle bevolking en voorkoms in suidelike Afrika te verhoog.

“Dit word gedoen deur die vestiging, handhawing en uitbreiding van veilige plekke vir wildehonde; deur bedreigings vir hulle oorlewing te verminder; ʼn positiewe ingesteldheid in mense se houding jeens wildehonde te bewerkstellig; en om wetgewing te steun wat hulle beter help beskerm,” het die EWT gesê.

Ondanks al dié pogings is wildehonde steeds een van die mees bedreigde soort diere in Afrika, grootliks weens strikke, stropery, siektes, die gevaar van voertuie en ʼn verlies aan habitat.

In suidelike Afrika help die EWT om die neiging, wat oor die vasteland heen dieselfde lyk, om te keer.

Die wildehondbevolking staan in dié stadium op ʼn bestendige 500.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.