Hupstoot vir elektrisiteit in Mpumalanga

Argieffoto (Foto: baptisteh, Pixabay)

Argieffoto (Foto: baptisteh, Pixabay)

Eskom het ʼn nuwe transformator by die Acornhoek-substasie in Bosbokrand geïnstalleer as deel van sy planne om die elektrisiteitsinfrastruktuur op te gradeer en kragtoevoer in die noorde van Mpumalanga ʼn hupstoot te gee.

Die R144 miljoen-projek het in September 2014 begin en bestaan uit twee fases, waaronder die vervanging van twee ou transformators met nuwe transformators wat groter kapasiteit bied om die toenemende aanvraag na elektrisiteit in gebiede soos Bosbokrand, Acornhoek, Hoedspruit, Hazyview en ander omliggende dorpe soos Phalaborwa aan te spreek.

Die nuwe transformator is deel van fase 1 van die opgradering en die substasie sal groter lading kan hanteer. Volgens Eskom sal dit verseker dat die elektrisiteitsaanbod deur hierdie substasie meer betroubaar is.

Die tweede fase is reeds aan die gang en hou verband met siviele werk en om die tweede transformator te bou. Die tweede fase sal na verwagting teen April 2016 afgehandel wees.

“Eskom het sedert 2005 sy kragopwekking- en transmissiekapasiteit vergroot om te voldoen aan die land se toenemende aanvraag na energie. Eskom se nominale opwekkingskapasiteit in 2005 was 36,208 MW en Eskom behoort dit teen 2021/22 met 17,385 MW te kan verhoog,” het die elektrisiteitsverskaffer gesê.

Volgens Eskom is die sleutel kragopwekkingsprojekte die 4 764 MW by Medupi en 4 800 MW by Kusile en 1 332 MW hidro-elektrisiteit by die Ingula-skema in die Drakensberg tydens spitstye.

Eskom voeg by oor die afgelope 10 jaar het sy program elektrisiteitsopwekking met 6 137 MW verbeter, 5 497 km transmissielyne is opgerig en transmissie substasiekapasiteit is met 27 565 MVA verhoog.

© RDM News Wire

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.