Huurderboer na jare eindelik grondeienaar

David Rakgase (voor links) en sy seun, Mmofa. (Foto: DA)

David Ragase, wat nou reeds jare lank met die departement van landbou in ʼn stryd gewikkel is om die grond waarop hy boer te koop, kon eindelik die grond koop.

Die regering het ingestem om die ooreenkoms wat reeds in 2002 aangegaan is, te eerbiedig, het Annette Steyn, die DA se woordvoerder oor landbou, gesê. Die DA stap al sowat ses jaar lank ʼn pad met Rakgase om hom te help om die plaas waarop hy boer ook te besit.

Rakgase het in 1991 ʼn huurooreenkoms van 30 jaar vir die plaas Nooitgedacht met die regering aangegaan en was sedertdien só suksesvol dat die boerdery gebruik word om ander opkomende swart boere op te lei.

In 2002 het hy die opsie gekry om die plaas onder ʼn nou opgeskorte landbou-ontwikkelingsprogram te koop, maar sedertdien was daar ʼn nimmereindigende toutrekkery oor die kooptransaksie.

Verlede jaar het die hooggeregshof in Pretoria egter bevind die departement moet die plaas van sowat 3 000 ha aan Rakgase verkoop. Hy het die hof noodgedwonge genader nadat dit aan die lig gekom het dat die regering nie meer die grond wil verkoop nie, maar hom eerder ʼn verdere 30 jaar-huurooreenkoms aangebied het.

In die waterskeidingsaak het die hof egter in sy guns beslis en beveel die regering moet die plaas aan Rakgase verkoop volgens die bepalings en voorwaardes – en die bedrag – wat van toepassing sou wees as die plaas in 2003 aan hom verkoop sou geword het.

Daarna het die departement ingestem om die helfte van die plaas aan Rakgase te verkoop. Nog later het die staat gesê hy sal die hele plaas verkoop, maar toe teen ʼn astronomiese bedrag.

Die koopkontrak, ingevolge waarvan Rakgase die grond vir R621 000 [die prys wat in 2002 vasgestel is] by die staat kan koop, is nou onderteken.

Net die titelakte moet nog oorgedra word. “Ons hoop nie die staat sleep sy voete hieroor ook nie,” het Steyn Dinsdag gesê.

Die DA sê hy help steeds ander boere wat hulle in soortgelyke penaries bevind.

“Die ANC-regering gaan voort om grondonteiening sonder vergoeding valslik voor te hou as ʼn manier om ontluikende boere te bemagtig. Dit gaan die probleem met sy mislukte grondhervormingsproses vererger, nie verbeter nie,” het sy gesê.

“Die ware hindernisse vir grondhervorming sluit in ʼn hopeloos onbekwame departement, ongebreidelde korrupsie, onderduimsheid en ʼn Marxistiese weersin in eiendomsreg vir individue.”

Steyn sê as die regering ernstig oor grondhervorming was, sou hy Rakgase bemagtig en ondersteun het, pleks daarvan om elke moontlike versperring in sy pad te plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nie Verbaas ·

Die ware hindernisse sluit in ʼn hopeloos onbekwame departement, ongebreidelde korrupsie, onderduimsheid en ʼn Marxistiese beleid. Dit som die hele ANC in alle staats beheerde besighede op.

marius ·

Dit is ‘n goeie verhaal van trots . Dankie vir die wat gehelp het .

Piet parys ·

Is daar nog n 3000 hekt plaas teen teen daai mahalla prys . Ek stel belang

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.