‘Huurmoordkomplot’: Familie hoop op antwoorde 5 jaar ná man se moord

Maria Ferreira voor die polisiestasie kort nadat sy in hegtenis geneem is. Foto: Valke

Die familie van ʼn man wat in 2012 op ʼn kleinhoewe buite Bronkhorstspruit in Gauteng vermoor is, hoop om nou antwoorde oor sy dood te kry nadat sy weduwee in hegtenis geneem is in verband met die beweerde beplande moord op haar nuwe man.

Maroela Media het vroeër berig Maria Ferreira (53), ʼn Suid-Afrikaner wat in Ponta do Ouro in Mosambiek woon, het Maandag in die Witrivier-landdroshof verskyn nadat sy Sondag in hegtenis geneem is. Ferreira het na bewering ʼn polisiebeampte R20 000 betaal om haar man, Carlos Ferreira (55), te vermoor. Sy is in hegtenis geneem voordat die beweerde beplande moord uitgevoer kon word.

Ferreira was voorheen met Allan Hepburn (52) getroud wat in Februarie 2012 op ʼn kleinhoewe buite Bronkhorstspruit vermoor is. Hepburn was besig om sy motor se band voor die egpaar se huis om te ruil toe hy oorval en met ʼn mes doodgesteek is. Niemand is nog in verband met hierdie moord in hegtenis geneem nie.

Ferreira se eerste man is jare gelede aan kanker oorlede. Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke in Mpumalanga, het verlede week gesê daar sal nou deeglik ondersoek ingestel word of Hepburn se dood wel ʼn moord of moontlik ʼn huurmoord was.

Tobie Hepburn, Allan se broer, het Donderdag aan Maroela Media gesê dit is goeie nuus vir die familie dat hulle nou, vyf jaar ná Allan se moord, moontlik antwoorde oor sy dood kan kry. “Ons het altyd ʼn vermoede gehad iets was nie pluis met my broer se moord nie, maar daar was nooit enige konkrete bewyse om enigiemand spesifiek by sy moord te betrek nie,” het hy gesê.

Phillip, ook een van Allan se broers, het aan Maroela Media gesê daar is niks tydens die aanval op die kleinhoewe waar sy broer vermoor is, gesteel nie. “Die huis het oopgestaan en aanvallers sou maklik daar kon ingaan om die televisiestel of enige ander waardevolle items te steel, maar niks is gevat nie. Dit was vir ons baie vreemd. Dinge het net nie lekker inmekaargepas nie en ons het altyd gewonder oor sy moord,” het hy gesê.

Volgens Phillip was Ferreira aanvanklik een van die polisie se verdagtes in hul ondersoek na Allan se moord, maar sy is later as verdagte uitgeskakel. Hy het gesê die familie het hierna nie weer met Ferreira kontak gehad nie.

“Toe ons die naweek die nuus hoor dat sy in hegtenis geneem is, was dit asof al die ou wonde van voor af oopgekrap is. My ma is amper weer van voor af getraumatiseer oor my broer se dood,” het hy gesê. “Ons voel bemoedig deur die feit dat die polisie nou weer opnuut ondersoek gaan instel na Allan se moord en ons hoop ons kan uiteindelik nou antwoorde op ons vrae kry.”

Ferreira sal vandag weer in die Witrivier-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Helen ·

Ja en so word n mens mak as jy eers met iets wegkom dink jy jy sal weer en weer maar tog word jy later gevang!

Scalla ·

Is daar met Allan se moord enige polisse(sterfte voordele) aan haar uitbetaal waarvan sy begunstig was? indien wel is dit die antwoord aangesien geen besittings ens, geroof is nie. Die wiel draai stadig maar moet stop een of ander tyd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.