‘Huurmotor was meters vanaf Jayde se liggaam’

Jayde Panayiotou. Foto: Verskaf

ʼn Data-ontleder het gebruik gemaak van ʼn geografiese inligtingstelsel en selfoondata om die bewegings te bepaal van die huurmotor waarmee Jayde Panayiotou twee jaar gelede na bewering ontvoer en vervoer is voordat sy vermoor is.

Thereza Botha het Woensdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth getuig tydens die moordverhoor van Jayde se man, Christopher Panayiotou, en sy twee medebeskuldigdes, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko.

Volgens die data wat Botha ontleed het, het Jayde se beweerde moordenaar, Sizwe Vumazonke, omstreeks 05:24 met die gehuurde motor by sy huis vertrek en gery tot naby waar Nenembe was. Die selfoondata toon Vumazonke het oproepe gemaak na Nenembe en Khusta Vandala.

Om 06:03 was die voertuig by die kruising van die R102 en Kabegaweg. Omtrent 40 minute later het Vumazonke weer vir Vandala gebel. Vumazonke se selfoon het opvangs vanaf die Linton Grange-toring naby Jayde se huis gekry, terwyl Vandala se opvangs uit Kwadesi gekom het.

Om 06:27 het die data van die voertuig se opsporingstoestel aangedui dat die voertuig skielik gerem het, maar dat die voertuig nie afgeskakel is nie. Volgens Botha se getuienis was dit die laaste keer wat die voertuig buite Jayde se meenthuiskompleks gesien is.

Kort hierna het Vumazonke weer vir Nenembe gebel en albei hul selfone het opvangs gekry van die Linton Grange-toring naby die kompleks. Teen 06:28 het die voertuig tussen 8 km/h en 16 km/h in Deaconweg gery. “Die data dui daarop dat die voertuig ses tot sewe keer om die [kompleks] se blok gery het,” het Botha getuig.

Sy het getuig die voertuig het vanaf Deaconweg na die N2 beweeg en daarna op die R102 gery en toe die R334 in die rigting van Uitenhage geneem. Om 07:09 het Vumazonke ʼn oproep na die self-erkende middelman, Luthando Siyoni, gemaak. Hierdie oproep plaas Vumazonke se selfoon in Kwanobuhle.

Christopher Panayiotou, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko (met sy gesig bedek) in die hooggeregshof in Port Elizabeth (12 Oktober 2016). Foto: ANA/Raahil Sain

Volgens Botha se getuienis het die voertuig tussen 07:12 en 07:13 ʼn u-draai gemaak en is dit toe afgeskakel. “Die meting vanaf die punt waar die voertuig afgeskakel is en waar [Jayde] se liggaam gevind is, is ongeveer 22 meter,” het sy gesê.

Panayiotou word daarvan beskuldig dat hy Siyoni, ʼn uitsmyter by sy Infinity-nagklub, betaal het om Vumazonke te huur om Jayde te vermoor. Die staat beweer Jayde is op 21 April 2015 buite die Stellen Glen-kompleks in Kabegapark ontvoer waar sy gestaan en wag het vir ʼn saamrygeleentheid werk toe.

Die staat beweer Nenembe het Vumazonke gehelp om die onderwyseres te ontvoer en te vermoor. Vumazonke is sedertdien in aanhouding dood.

Volgens die staat is Sibeko ook met die misdaad verbind deur middel van selfoondata wat hom buite Jayde se meenthuiskompleks geplaas het dae voor haar moord. Die staat beweer Vumazonke het Sibeko en Vandala genader om ʼn vuurwapen te bekom om die moord mee uit te voer.

Die verhoor duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

jan van riebeeck ·

ek hoop net hulle kry behoorlike strawwe , dit raak nou n speletjie in die land vir rykes om ander te vermoor

Bang ·

Ek is so bang hy kom weg soos met die Henning moord daai man wat als beplan het en tog loop hy nog buite rond en die wat die mamma voor haar kind se kleuterskool vermoor het kom al amper uit die tronk dit is om van te kots

Jana ·

Ek wonder of sy geweet het, of die moordenaars vir haar gesê het dat dit haar man se idee was, voor sy doodgemaak was. My hart is so seer oor haar en elke nuwe detail wat ontbloot word skok my dieper.

Ek voel soos jy ·

Ek voel werklik soos jy. Sjoe dit is ongelooflik hartseer.

pierre ·

As Terry Price regtig nog in sy klient se onskuld glo is hy so dom soos grond, of hy wil so veel as moontlik geld uit die deal maak. Ek se sluit hom toe saam met sy klient.

Middelburger ·

Wonder of sy pappie hulle ook steeds nog so sterk in sy “onskuld” glo?

al ·

Uitstekende speurwerk. Soos in Bybel tereg gesê word, wat in die geheiemenis bespreek word, sal van dakke afgekondig word.
Dis net jammer ñ pragtige vrou het met haar lewe geboet oor ander se bose konkelwerk.

marous ·

Sterk aanklaer , regter en knap polisiewerk. Dis hoe dit hoort met alle sake…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.