Huurmotorbende skuldig bevind

Argieffoto ter illustrasie van die Europcar-tak by Kaapstad se Internasionale Lughawe (Foto: southafrica.to)

Argieffoto ter illustrasie van die Europcar-tak by Kaapstad se Internasionale Lughawe (Foto: southafrica.to)

Agt mans van Soweto wat huurmotors van maatskappye soos Avis, Budget Car Rental en Europcar gesteel het, is in die hooggeregshof se sitting in Palm Ridge gevonnis.

“Die mans het die gewapende rooftogte tussen 2012 en 2013 uitgevoer,” het lt.genl. Solomon Makgale, woordvoerder van die polisie, in ʼn verklaring gesê. “Die polisie het ʼn span saamgestel uit speurders van verskeie stasies, beamptes van die voertuigidentifikasie-eenheid en lede van die misdaadintelligensie-eenheid om dié bende vas te trek.”

Nege verdagtes is binne twee maande in 2013 in hegtenis geneem in verskeie dele van Soweto en is positief verbind met talle van die gewapende rooftogte by Avis, Budget Car Rental en Europcar.

“Een van die verdagtes is in aanhouding oorlede,” het Makgale bygevoeg.

Die span, onder leiding van kapt. Pierre Swanepoel van Jabulani-polisie, het seker gemaak dat al agt verdagtes positief verbind kan word met een georganiseerde misdaadbende. Hulle is kragtens die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad van 1998, wat ingestel is om georganiseerde misdaad, geldwassery en bendebedrywighede te voorkom, skuldig bevind op aanklagte van swendelary. Oortreding van dié wet lei gewoonlik tot swaar vonnisse.

Die mans, tussen 23 en 42 jaar oud, is Maandag ook skuldig bevind op verskeie aanklagte van roof met verswarende omstandighede, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en verskeie rooftogte. Vier van die beskuldigdes, Thabo Mayekiso, Nuks Nkabinde, Sicelo Sewela en Philani Skhosana, is ook skuldig bevind op die moord van Richard Khakhu, wat tydens ʼn rooftog by sy huis doodgeskiet is. Sy voertuig is ook gesteel.

Hulle word op 24 November gevonnis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Strussbob ·

Mnr Pierre – wens jy was president!! Dis nou n Geregsdienaar in aksie. Deon Meyer skryf boeke met helde soos jy in gedagte!!

Tokkelossie ·

Susan en Strusbob , Pierre sou niks sonder sy span speurders kon doen nie . Ek dink ons moet vir hul almal dankie sê .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.