“Huursoldate” hou Affies uit twee kragmetings

Argieffoto

Argieffoto

Die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria het besluit om die rugby-kragmetings met Garsfontein en Menlopark te kanselleer, omdat dié skole glo van post-matrieks of sogenaamde “huursoldate” gebruik maak.

Volgens die skool is dit bloot ‘n konsekwente voortsetting van ‘n beleid wat Affies al sedert 2007 volg. “Ek het die redes vir ons besluit persoonlik aan Leon Bantjes [hoof van Hoërskool Garsfontein] oorgedra,” het dr. Pierre Edwards, hoof van Affies, aan die webwerf schoolofrugby.co.za gesê. “Affies het ’n beleid dat ons nie teen skole sal speel wat van sogenaamde post-matrieks of huursoldate gebruik maak nie.”

TJ Davis, joernalis van die rugbyblad Pale Toe!, het aan Maroela Media gesê dit het reeds in die 1990’s toenemend die gebruik geword om belowende skolespelers vroeg te identifiseer en dan binne die reëls van die SA Rugbyraad aanbiedinge te maak om vir ‘n betrokke skool uit te draf. “Landswyd het hierdie oorbeklemtoning van die wen van titels onder meer ook die vryheid, wat nodig is om jong spelers te ontwikkel, aan bande gelê,” sê Davis. “Die ‘wen-teen-elke-prys-benadering’ het veroorsaak dat ‘n aantal skole, insluitende Affies, hulle aan skoolkompetisies onttrek het.”

Davis sê toe die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria in 2006 ná sy sege oor Hoërskool Waterkloof in die eindstryd om die Beeldtrofee besluit het dat hulle nie meer aan die reeks gaan deelneem nie, was daar dus hoofsaaklik twee redes vir die stap:
• Die skool, deur die jare Noord-Tranvaal en die Blou Bulle se voorste rugbyskool, het gevoel dat deelname belangriker is as die blote wen van titels; en
• Hulle was gekant teen die skole wat “huursoldate” gebruik het.

“Dit was teen hierdie agtergrond dat Affies besluit het dat vanjaar se rugby-kragmetings met onderskeidelik Garsfontein en Menlopark nie sal plaasvind nie,” het Davis bygevoeg.

Interskole-byeenkomste waar al die spanne van die skool speelkans kry, geniet volgens Edwards voorrang bo ander geleenthede – en die groter skole met meer seuns bied uiteraard meer geleentheid om deelname vir Affies se seuns.
Wedstryde/byeenkomste teen skole soos Grey Kollege, Pretoria Boys High, Maritzburg College en Waterkloof word dus verkies bó deelname waar al die Affies-leerlinge nie kans tot deelname het nie.

“Ons groot probleem is die feit dat o.19-spelers van die hele land (deur sekere skole) bymekaar gemaak word. Skole vanuit die Kaap waarmee ons ’n goeie verhouding het, is woedend oor van hul spelers wat afgerokkel is,” het Edwards bygevoeg.

Francois de Kock, Garsfontein se hoof van rugby, het gesê hulle is teleurgesteld, maar sal Affies se besluit respekteer. Die wedstryd teen Menlopark is eers geskuif na 4 Junie en is toe afgestel omdat dit in eksamentyd sou plaasvind. En dit is nie ‘n besluit wat op die toekoms betrekking het nie.

“Ons interskole met Menlopark is nie gekanselleer nie. Ons sal volgende jaar teen hulle speel,” het Edwards gesê.

Oor beskuldigings dat Affies die wedstryde afgestel het omdat hulle “bang” is, sê Edwards: “As ons bang was, sou ons nie teen skole soos Grey Kollege gespeel het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

david ras ·

Ek sluk maar swaar aan Pierre Edwards se motivering van Affies se besluit. ‘n P aar maande gelede was daar ‘n hele relletjie oor Kwota spelers op skoolvlak. Die Hoof van Bloubul skolerugby het in ‘n TV onderhoud vertel dat SA rugby bepaal het dat daar minstens 9 “spelersvan kleur” in hulle spanne moet wees. Hy het toe beweer dat hulle nie genoeg spelers van standaard hier in Pretoria kon kry nie en dus verder. veral in die Kaap spelers moet soek.
Miskien kan iemand vir ons vertel hoe en deur wie word hierdie spelers geidentifiseer, en na Pretoria gelok word , en hoe hulle verder versorg word.
Ek dink veel eerder hierdie is die kulminasie van die rassistiese kwota stelsel wat eintlik net sportgesig van die bose Regstellende Aksie stelsel is

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.