Huurvlug vir Proteas ná redery vlugte kanselleer

Die Proteas in Karatsji. (Foto: KSA/Twitter)

Suid-Afrika se toetskrieketspan moet na Pakistan vlieg op ʼn inderhaas gereëlde huurvlug nadat hul kommersiële vlug weens Covid-19 gekanselleer is – en Covid-19-beperkings kan die span se planne verder bemoeilik, het dit Sondag aan die lig gekom.

Die span van 21 het Saterdag in Karatsji aangekom vir twee toetse wat op 26 Januarie begin.

ʼn Spanwoordvoerder het Sondag bevestig dat Krieket Suid-Afrika dringend planne moes beraam nadat hulle Donderdag ingelig is dat Emirates Airlines vlugte na en van Suid-Afrika weens bedryfsredes opgeskort het.

Die Suid-Afrikaanse spelers moes in groepe na Doebai reis vanaf die redery se vertrekpunte in Johannesburg, Kaapstad en Durban voordat hulle na Karatsji moes vlieg.

KSA kon ʼn huurvlug reël wat die span toegelaat het om soos beplan Vrydag te vertrek en direk na Karatsji te vlieg.

Covid-19-bepalings plaas groot beperkings op internasionale reismoontlikhede vanuit Suid-Afrika. KSA het dus nou ʼn groot logistieke en kosteprobleem sou die beoogde T20-wedstryde, wat ná die toetswedstryde gespeel word, voortgaan.

Na verwagting sou ʼn bykans heel ander span in die drie T20-wedstryde speel, met die toetsspan wat na Suid-Afrika terugkeer om voor te berei vir ʼn beplande reeks teen Australië.

Die toetsreeks in Pakistan eindig op 8 Februarie, terwyl die T20-wedstryde tussen 11 en 14 Februarie gespeel word.

Die tuistoetsreeks teen Australië is nog nie bevestig nie, maar sal na verwagting vroeg in Maart begin, twee weke later as wat oorspronklik beplan is.

ʼn KSA-bron het aan AFP gesê die Covid-19-protokol gaan beteken die Suid-Afrikaanse toetsspan moet direk ná die tweede toets in Pakistan terugkeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Mad Mike die Rhodesiër ·

Waarom nog sport doen terwyl ons en die wêreld in grendel is? Laat hulle eerder fiks bly en voorberei vir later.

Wakkerslaper ·

Ek is gelukkig klaar met die SA krieket – kan nie minder omgee wat die klomp patetiese knie-buig kruipers doen nie.

Hennie J ·

Gaan hulle weer vuisies bal of gaan hulle knie buig of gaan hulle net eenvoudig briekmerke los? Onthou hulle is nou in n land wat op die ranglys verskyn van lande wat Christene weens geloof vervolg en ksa se getransformeerdes beter fyn trap!

Gawie ·

Ek dink Emirates skuld Suid-Afrika ‘n verduideliking oor hoekom hulle hul vlugte vir “bedryf redes” opgeskort het. KSA moes toe op kort kennisgewing en groot koste ‘n huurvlug organiseer. Ek is seker hierdie stap van Emirates het ook duisende Suid-Afrikaners oorsee gestrand gelaat, want baie mense gebruik hulle om mee te vlieg. Hulle adverteer ook groot in SA en is ook groot sportborge. Waarom sommer so op kort kennisgewing vlugte opskort? Ek sal tweekeer dink voordat ek weer met hulle vlieg.

Hennie ·

Gee nie regtig om wat die proteas doen nie. Ook nie geweet Karachi is Karatsji in Afrikaans nie….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.