Huweliksertifikaat-bedrieër skuldig bevind

(Foto: Pixabay)

’n Vrou van die Oos-Kaap is Dinsdag in die handelshof in Port Elizabeth skuldig bevind aan vier aanklagte van korrupsie en twee aanklagte van bedrog.

Dít nadat sy by twee geleenthede huweliksertifikate onwettig aan geheime agente van die polisie verkoop het wat hulle as paartjies voorgedoen het wat onwettig wou trou.

Nomabandla Manjezi (47) en ’n medebeskuldigde is in 2016 in hegtenis geneem nadat hulle onwettige huweliksertifikate vanuit ’n selfoonwinkel in Port Elizabeth verkoop het.

Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê Manjezi en Abu Bokar (46) was nooit werknemers van die departement van binnelandse sake nie en is nooit ingevolge die Huwelikswet as huweliksbeamptes geregistreer nie.

Volgens Ngcakani het immigrasiebeamptes die Valke in 2016 daarvan in kennis gestel dat Manjezi en Bokar jong vroue werf om met buitelandse burgers te trou in ruil vir betaling van tussen R200 en R300.

Die twee sou dan die dokumente waaronder ID-foto’s en vingerafdrukke by die selfoonwinkel opstel waarna dié dokumente op die departement van binnelandse sake se stelsel vasgelê en huweliksertifikate uitgereik is.

Agente van die polisie het hulle gevolglik by twee geleenthede as paartjies voorgedoen wat onwettig wou trou en huweliksertifikate by Manjezi en Bokar wou koop. Manjezi het by albei geleenthede die kamma-paartjies aan Bokar by die selfoonwinkel voorgestel waarna Bokar vir hulle dokumente gegee het om in te vul en hul ID-foto’s geneem het.

Die beskuldigdes het albei kere R4 000 vir die huweliksertifikaat en R100 vir die foto’s gevra.

Die agente is later in kennis gestel dat hul huweliksertifikate gereed is om afgehaal te word by die selfoonwinkel en dat ’n verdere bedrag van R500 by die invordering betaal moet word. Die agente het die sertifikate gaan haal en die bedrae betaal.

Luidens die een huweliksertifikaat is die egpaar op 15 Augustus 2016 in Johannesburg getroud en die huweliksertifikaat op 22 Desember 2016 uitgereik. Die tweede huweliksertifikaat is op 30 Desember 2016 uitgereik. Albei huwelike is amptelik geregistreer by die departement.

Manjezi en Bokar is kort daarna in hegtenis geneem waarna hy skuldig op twee aanklagte van bedrog gepleit het. Hy is gevolglik in Augustus 2018 vyf jaar tronkstraf opgelê wat vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat hy die land verlaat.

Manjezi sal na verwagting op 18 Februarie gevonnis word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Adri ·

Dit sê nie veel van Binnelandse Sake se stelsel nie. Kan enige iemand dan sommer ‘n huwelik registreer?

Anoniem ·

Geen simpatie. Blanke meisies word ook met die truuks gevang. Weet van meisies wat met Nigeriers en Pakistanis getroud en kinders by hul het. Kan nie skei omdat hul Moslem geloof aangeneem het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.