‘Hy het altyd ander gehelp’

Japie Erasmus. Foto: VErskaf

Japie Erasmus. Foto: VErskaf

Japie Erasmus (48) is in sy vrou en dogter se arms dood nadat ʼn voormalige vennoot hom geskiet het.

Erasmus het saam met sy vrou, twee dogters en ander familielede Vaal Industrial Development (VID) in Meyerton bedryf. “Ons was Vrydagoggend reeds aan die werk, toe my pa se voormalige vennoot hier ingestap het,” het Jacqeline Els (24), Erasmus se oudste dogter, aan Maroela Media gesê.

Die man het omstreeks 7:30 by die kantoor ingestap en met Erasmus se vrou, Johanna (47), gesels. “Hy het gevra hoe dit gaan en om met my pa te praat. My ma het gesê dis reg, hy moet net bietjie wag. Sy het opgestaan en uitgeloop en hy het met my gesels.”

Volgens Els is sy ook uit die kantoor om ʼn opdrag aan ʼn werknemer te gee. “Ek is terug kantoor toe en my pa het ook ingekom. Hy het die man se hand geskud en gestaan en gesels. Hy het toe gevra of my pa saam met hom na sy motor sal stap om na produkte te kyk wat hy wil verkoop.”

Toe hulle by die motor kom, het Erasmus gesien die man het ʼn vuurwapen en terug na die kantoor gehardloop. “Hy het drie skote afgevuur. My pa was net in die kantoor toe hy inmekaargesak het. Hy is in my en my ma se arms dood. Hy is twee keer in die rug geskiet.”

Els het intussen die deur probeer toedruk maar kon nie. “Die man het weer in die kantoor ingekom. Hy het my uit die pad gedruk en my pa weer geskiet. Een van ons werknemers het intussen met ʼn vurkhyser teen die man se motor vasgery. Die man het op hom ook geskiet. Hy het toe self die vurkhyser verwyder en in sy motor geklim en probeer vlug.”

Els se man het intussen vir veiligheidsbeamptes by die hek geskree om die hek toe te maak. “Die man het na die agterkant van die perseel gery toe hy nie kon uitkom nie. Hy het later weer na die hek se kant gery. Die polisie het intussen op die toneel aangekom en oor ʼn luidspreker vir die man gesê om homself oor te gee. Ons het kort hierna ʼn skoot gehoor en die man het homself doodgeskiet.”

Els het gesê haar pa en die man was destyds vennote. Hulle het in 2006 hul vennootskap beëindig en daar was glo ʼn hofsaak hierna. Volgens Els het haar pa destyds dreigemente ontvang, maar niks het daarna gebeur nie.

“My pa was ʼn bekende sakeman en was die vorige eienaar van JJ Vacuum. Hy was die liefdevolste en vriendelikste mens. Hy het altyd ander gehelp en sou eerder homself te na kom as iemand anders.”

Erasmus word Vrydag om 12:00 begrawe uit die AGS Emmanual-gemeente in Duncanville. Hy laat behalwe vir sy vrou en dogter Jacqeline, nog ʼn dogter Jo-Lene (22) en sy twee skoonseuns, Jaco (26) en Ruan (25) agter. Erasmus sou binnekort vir die tweede keer oupa geword het. Sy kleindogter, Mia, is een jaar oud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Jane ·

Skokkend, so jammer vir julle verlies. Die land het heeltemal wetteloos geword, almal skiet nou op almal as hulle ‘ongelukkig’ is oor iets. Hier was geen wenners, net twee baie hartseer gesinne wat agtergelaat is. RIV

ken van benoni ·

Sterkte aan die families, ons gebede is met julle.
Ons is so min en dan vermoor ons nog mekaar, ons maak ons werklike vyande se werk of opdrag net makliker vir hulle!

Buurman ·

Ek wonder hoekom dit gebeur het. Wat is die hele storie en die waarheid hier agter?

Skylie ·

Buurman ek wonder ook . N mens skiet nie jou vorige vernoot omdat dit lekker is nie .

Jane ·

Kan nie glo wat ek lees nie, maak nie saak wat die storie agter die storie is nie, jy SKIET nie iemand dood vir watter rede ookal nie. Sakemanne het maar vyande en rivals, dit beteken nie die slagoffer was skuldig aan iets nie. Soms klim ‘n sakeman uit ‘n venootskap uit omdat die ander party dalk ‘n groter deel van die wins wil hê, of omdat hy nie meer met hom kan saamwerk vir watter rede ookal nie. Soms beeindig vennote net ‘n venootskap agv persoonlike redes. Daar was ‘n hofsaak, so duidelik was die partye nie gelukkig met die verloop van sake nie, maar seersekerlik regverdig dit nie ‘n moord en ‘n selfdood nie.

Scalla ·

Simpatie met die wat agter bly, dit wat gebeur het is nie reg nie, gewoonlik is daar geld by betrokke en twee groot vriende kan vinnig die grootste vyande word.

Piet ·

Jy stel dit goed Jane. Mens sien gereeld dat verskeie mense probeer soms moorde op ander te regverdig. Die gereg is veronderstel om ‘n dispuut te handteer en op straf te besluit waar dit nodig is – hulle het dit dan reeds gedoen. Niemand verdien wat met hierdie gesinsman gebeur het nie, selfs al sou hy die ander ou bedrieg het.

Net eenvoudig hartseer ·

Dit is net eenvoudig hartseer. Ek bespiegel liefs nie, maar regtig iemand trompop doodskiet, niks is onuitsorteerbaar! Sterkte aan beide families, Erasmus familie met jul groot verlies en ander familie met verlies & pyn omdat hy jul deur so lelike daad saamtrek.

kenvan ·

Op die oog af, is dit maklik om die storieverteller se perspektief in te sien….dink net hieraan:
Enige saak het twee kante en voor mens inspring en kant kies, kry altwee kante se ware storie.
Ons ken van……twee keer deur vennote so ingedoen dat ons van voor af moes begin. Ons magteloosheid het in woede verander en ons moes ons baie mooi beteuel. Die emosionele en finansiële druk was onmenslik, maar met kinders en ouers vir wie jy verantwoordelik is, moet jy maak of dit alles ok is. Dié geval hierbo is só tragies en my gebede gaan uit na altwee gesinne-niemand verdien sulke ellende nie, maar nie almal het dieselfde breekvlal nie…baie sterkte aan al die naasbestaandes!

Zan ·

Daar is altyd twee kante van n saak. In hierdie geval was die ander vennoot reeds in sy 60’s en nadat hy al sy (leeftyd) geld en sy dogter se geld in die besigheid bele en verloor het was dit te laat vir oorbegin. Die trauma het ook veroorsaak dat hy n hartaanval gehad het. ?

Theresa ·

Innige meegevoel aan albei families wat ‘n vaderfiguur verloor het.

Piet ·

Dit is so dat ‘n saak 2 kante het Zan, maar die skrif se “Jy mag nie doodslaan nie”, dit se mos nie jy kan self besluit oor die meriete van elke saak nie. Dit is normaal om n persoon jammer te kry as hy alles verloor het, ek was ook al daar. Die ou wat ek wou doodwens het ook n vrou en kinders, so hy moet maar eendag self pa staan vir wat hy gedoen het. Mens kan net doodmaak as dit die enigste opsie is.

Zan ·

Piet, ek se nie wat hy gedoen het is reg ni, maar soos kenvan se , elke mens het n breekpunt. Mense reageer verskillend as hulle in n swart put van depressie is. Hy laat ook kinders en familie wat baie lief is vir hom agter. Hy het nie uitkoms gesien nie en het besluit om die oorsaak van sy elende saam te vat en nou is 2 families in rou? Dis baie jammer?

Anoniem ·

Dit is tragies. Twee families wat met hartseer sit en dit oor n besigheid wat sleg verloop het. Ek is 59 het ook als verloor en sal nou moet werk tot ek my kop neerle en ja ek het gehaat en moord gedagtes gehad maar het tot inkeer gekom Desember 2016 en besef dat ek met al my haat net myself en my familie vernietig. Mense dit was n stryd van ons wen en van ons verloor. Mag die Here die families wat agterbly bewaar en elkeen van hulle se harte aanraak. Ek spreek Vader se vrede uit oor julle. Liefde oorwin alles.

Zan ·

Danie, Hy sou baie graag wou werk tot hy sy kop neerle, nie n lui haar op sy kop gehad nie, maar hy was 67 n wit man met goeie kwalifikasies…… honderde CV’s uitgestuur… niks gekry nie. Ek is baie bly dat jy weer op jou voete kon kom. Dis nie almal beskore nie. Mag jy floreer in die toekoms.

Pieter ·

Die ander vennoot se naam word nie genoem nie. Wonder net of hy dalk ook ‘n bekende sakeman was in die omgewing? Of is dit om sy gesin te beskerm? Wonder maar net.
Sterkte aan albei families, dit moet verskriklik hartseer wees vir almal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.