‘Hy het gesê hy het twee wit slagoffers vermoor’

Sharnelle Hough (17), links, en Marna Engelbrecht (16). Foto: Via Facebook

Xander Bylsma (19) het op 26 Mei 2018 by sy aankoms by die speurkantoor in Vryburg in Noordwes onmiddellik aangedui hy wil nie sy ouers of ʼn regsverteenwoordiger teenwoordig hê tydens sy bekentenis nie.

Só het lt.kol. Reuben Masire Donderdag in die hooggeregshof in Mmabatho getuig.

Die verhoor teen Bylsma is vandag in die hof voortgesit. Bylsma staan tereg op aanklag van moord in verband met die dood van sy eksmeisie, Sharnelle Hough (17), en haar vriendin, Marna Engelbrecht (16).

Masire is ná middagete na die getuiebank opgeroep. Hy het getuig Chris Saunders, ʼn private speurder, het Bylsma die betrokke aand by die speurkantoor aangebring. Saunders is daarna weg by die kantoor en Masire het verder met Bylsma gepraat.

Masire het aan die hof gesê Bylsma het aan hom bevestig dat hy nie minderjarig is nie. “Hy het gesê hy is Xander Bylsma, hy woon op Louwna-plaas en hy het my in kennis gestel hy het twee wit slagoffers vermoor,” het Masire getuig.

Xander Bylsma in die hof. Foto: Mariné Lourens

Hy het aan die hof gesê hy het ʼn adjudantoffisier wat Afrikaans magtig is, versoek om by hulle te kom sit om te verseker dat Bylsma hom korrek verstaan. Hy en Bylsma het egter in Engels gekommunikeer aangesien Bylsma hom ingelig het dat hy Engels magtig is.

Masire sê hy het aan Bylsma sy regte verduidelik waaronder sy reg om te swyg, asook sy reg om ʼn regsverteenwoordiger teenwoordig te hê. Masire het aan die hof gesê Bylsma het egter gesê hy wil nie sy ouers by die saak betrokke hê nie en dat hy nie in dié stadium ʼn regsverteenwoordiger nodig het nie.

Masire beweer in hierdie tyd het hy ʼn oproep gekry van ʼn man wat homself geïdentifiseer het as Bylsma se pa en aan hom gesê het hy het ʼn regsverteenwoordiger vir sy seun aangestel. Masire beweer hy het Bylsma ingelig oor dié oproep, maar Bylsma het volgehou hy kan die saak self hanteer en het nie ʼn regsverteenwoordiger nodig nie.

Masire het getuig kol. Corrie Kochlan het omstreeks 21:00 by die speurkantoor aangekom om Bylsma se bekentenis af te neem. Hy het Bylsma daarna alleen by Kochlan gelos om die verklaring af te neem en omstreeks 23:00 het Kochlan Bylsma se geskrewe verklaring aan hom oorhandig. Hy het Bylsma daarna na die aanhoudingselle by die Vryburg-polisiestasie geneem.

Regter Ronald Hendricks het daarna adv. Niven Rai, Bylsma se regsverteenwoordiger, geleentheid gegee om Masire te kruisondervra. Rai het egter aangedui daar het verskeie kwessies in Masire se getuienis opgeduik waaroor hy eers aanwysings by sy kliënt moet kry.

Die saak is uitgestel tot môreoggend.

Bylsma en Sharnelle was voorheen in ʼn verhouding, maar het uitgemaak. Die staat voer aan Bylsma het die twee meisies vermoor nadat Sharnelle nie versoen wou raak nie, deels omdat Marna teen die verhouding gekant was.

Lees alle vorige berigte oor die saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

LD ·

Hier kom net so lang uitgerekte saak soos al die ander! Erken als en kry klaar! Almal word tog op die ou einde uitgevang!

Se maar net ·

Ek se presies dieselfde…jy sien die skuldigheid in sy gesig

Abe ·

LD
Dieselfde mense wat kla dat die regstelsel swak is, is die mense wat kla oor n lang uitgerekte hofsaak. Die hofsake is lank en uitgerek omdat dit korrek en deeglik gedoen word.

Sannie ·

Stem saam. Hy het skuld erken. Hoef dan nie ń lang uitgerekte saak te wees nie.

Dries du Toit ·

So so tragies. Baie baie hartseer storie. Die mense wat die swaarste kry is die ouers van beide kante. Bid vir hulle

Chantelle Gakis ·

The parents have suffered enough. Why put them through this because you are evil . Do the right thing and say you are guilty.

Sê ook ma net ·

Ai, daar gaan nou net weer mense wees wat die sensasie van die storie geniet. In plaas daarvan om heeltyd skuldig te skree, gaan sit en dink liewer wat het die kind gedryf om so iets te doen. Watse faktore het hom daarnatoe gelei om so op te tree? Haal net vir ‘n slag die oogklappe af en dink verder as wat die neus lank is.

NEE HOOR ·

Neewat dink jy heeltyd wat dryf PLAASMOORDENAARS? GEEN TWEE ONSKULDIGE jong meisies verdien om vermoor te word nie maak nie saak WAT JOU MOTIEF of rede is nie . daar is nie ‘n rede nie . jy is ‘n moordenaar . end of story.

My opinie ·

My seun en Marna het uitgegaan. Elke keer as daar n hof saak is of iets op die nuus krap dit alles weer oop vir haar ouers en almal wat na aan hulle was. Hy het al gese hy het hulle vermoor. Sluit hom net toe en gooi die sleutel weg. NIKS gee iemand die reg om n ander mens se lewe te vat nie. Veral nie 2 jong kinders wat se hele lewe nog voor hulle gele het nie.

My opinie ·

Nog n ding. As dit jou kind was wat vetmoor was sou jy nog omgegee het wat hom gedryf het om dit te doen. I think not!!

Heksie ·

Oscar het homself tot in bankrotskap betaal aan regslui en op die ou end sit hy agter tralies. Moet dit nie aan jou ouers doen nie!

Poppie ·

Ten minste het Oscar van die begin af erken hy het vir Reeva geskiet. Al die ander mans wat dieselfde gedoen het, het die skuld op sogenaamde “inbrekers” gepak. Hierdie meneer probeer nou homself ook verontskuldig dat hy dit nie gedoen het nie.

Cherokee ·

Nou Poppie, sal jy verwysings moet gee oor waar jy gelees het dat hy homself verontskuldig. Ons wag daarvoor.

Keelvol ·

As dit my kind was wat vermoor was, sou ek waarskynlik die een in die beskuldigde bank gewees het.

Spike ·

Hierdie moet die slegste in die lewe wees wat met ñ mens kan gebeur.

Ai ·

Kom ons wag dat al die bewyse op die tafel lê voordat ons begin oordeel. Hier is nog net een kant van die saak na geluister, so hou op klippe gooi. Sterkte aan almal betrokke.

VanAfrika ·

Af my genade LD en Chantelle, die kind het klaar gesê hy het dit gedoen, regtig, lees julle berigte. Toe die speurder hom agter die skuur se muur gekry het, het hy bely. Wat en hoe meer wil julle hê moet hy dit erken.

Se maar net, ek sien geen uitdrukking op sy gesig nie, ek weet nie hoe jy skuldigheid raak sien nie. Hy wys geen emosie in vergelyking met Oscar Pistorius nie.

Bittergal ·

My innige meegevoel aan die ouers en familie.
Ek kan my nie indink, om op so ‘n sinnelose, onnodige manier, ‘n pragtige dogter af te staan nie..
Waarheen neig die mensdom heen?

karen ·

Ja vanafrika – net soos jy daar se maar…..het jy geluister wat hy of sy regsverteenwoordiger laaste in die hof gese het? ….die is so onskuldig soos die dag van more….alles deel van komplot teen hom…..ag sies tog soos altyd…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.