‘Hy is vir ons gegun,’ sê pa ná Theuns Jordaan in sy slaap sterf

Theuns Jordaan (Foto: Afrikaans is Groot/Facebook)

Die sanger en liedjieskrywer Theuns Jordaan is Woensdagoggend oorlede nadat leukemie verlede jaar by hom gediagnoseer is.

Jordaan het in Maart vanjaar ’n beenmurgoorplanting gehad en het sedertdien hard baklei om die siekte te oorwin. Hy sou Woensdagoggend weer vir toetse gegaan het, maar dit blyk of hy in sy slaap by sy huis in Pretoria dood is.

“Hy is vir ons gegun,” het sy pa, Willie Jordaan, gesê. “Sy groot liefde was nog altyd ons plaas hier buite Venterstad en hy het vir mense soveel vreugde met sy musiek gebring. Dit is vir ons ’n groot skok en reuseverlies.”

Jordaan, wat in 2001 sy debuut met die album Vreemde stad gemaak het, was een van Afrikaanse musiek se suksesvolste kunstenaars met verkope van meer as een miljoen en verskeie toekennings, onder meer ʼn Sama in 2013 as die topverkoper in die land met sy album Roeper, en trefferliedjies soos “Soos bloed”, “Jou asem” en “Vreemde stad” uit sy pen.

Jordaan, wat in Januarie 50 jaar oud geword het, word oorleef deur sy ouers, Willie en Maryna, suster Linda en susterskind David.

Inligting oor ’n roudiens vir Jordaan sal later bekend gemaak word. Die familie het almal bedank vir hulle liefde en meelewing.

Juanita du Plessis en Theuns Jordaan (Foto: Juanita du Plessis/Facebook)

Huldeblyke stroom intussen in vir Jordaan. Die rasperstemsanger was ewe bekend vir sy verwerkings van “Beautiful in Beaufort-Wes”, Koos du Plessis se liedjies en “Bring jou hart”, sy duet saam met Juanita du Plessis.

Du Plessis het in ʼn huldeblyk gesê Jordaan was soos ʼn broer vir haar. “My hart is stukkend… en ek sukkel om woorde te kry… Hy was een van my jarelange beste vriende. ʼn Ware ‘gentleman’ wat my altyd met die grootste respek behandel het. Hy was ʼn fenomenale ‘monument’ vir Afrikaanse musiek en sy musiek en stem sal voortleef in ons harte en huise.”

Die sanger Bobby van Jaarsveld het Jordaan as ʼn mentor beskryf. “Ons stap al so lang pad saam en het nie besef dit gaan so vinnig eindig nie. Ek was jou eerste kunstenaar wat jy geteken het.

Theuns Jordaan en Bobby van Jaarsveld (Foto: Bobby van Jaarsveld/Facebook)

“Jy het hard baklei vir my en ek kon net nie glo dat die groot reus van ʼn ikoon in my glo nie. Jy is een van die hoofrolle in my loopbaan en ʼn groot rede dat ek is waar ek is vandag. Ek sou dit nie kon doen sonder jou nie. Niemand sal jou ooit kan vergeet nie. Ek het jou lief broer.”

Die TV-kanaal kykNET het gesê Jordaan “was sonder twyfel een van die grootste name in Afrikaanse musiek”.

Jordaan was ook as akteur te sien in die fliek Jakhalsdans wat as ’n huldeblyk aan hom op Sondag 21 November om 15:30 op fliekNET uitgesaai sal word. “Dankie vir die musiek, Theuns. Ons sal jou vir altyd onthou vir jou rasperstem, jou musiek en talent. Jy laat ’n reuseleemte.”

Afrikaans is Groot (AIG) het op Facebook gesê ʼn groot gees het vandag gegroet. “Ons is van harte dankbaar vir al die spesiale oomblikke saam met Theuns, wat ons vir altyd sal onthou en koester.”

AIG het ook ʼn video met herinneringe aan Jordaan gedeel:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Dirk ·

Ai Theuns,jy gaan voorwaar baie gemis word.By verre my gunsteling SA sanger.RIV Theuns..

AmY ·

Baie sterkte aan die familie.
Theuns was voorwaar ‘n legende gewees.

Samuel ·

Mag Theuns in vrede rus. Hy was ‘n baie besonderse mens en het altyd opreg voorgekom. Innige simpatie aan sy naasbestaandes.

Trotse Boervrou ·

Sjoe, vandat ek gister van Theuns se afsterwe gehoor het kan ek nie ophou huil nie. Ek weet net dat hordes mense sy musiek waardeer het en hom vreeslik gaan mis. So goeie mens gewees en so geliefd. RIV Theuns. Sterkte aan al sy geliefdes.

Kobus ·

‘n Ikoon in eie reg. Kan nie onthou dat hy ooit aan skandale en of negatiewe insidente gekoppel was nie. Respek vir jou Theuns.Sterkte aan sy familie.

Erika ·

My gunsteling sanger, GOD het jou nodig gehad, HY het die mooiste blommetjie kom pluk. Nou sing jy in die Engele koor. Geen meer pyn nie, jy is verlos van jou pyn. Baie sterkte aan jou ouers, suster. Familie, vriende, kennisse.

Oom Boggom ·

VIR THEUNS

Soos bloed, so was jy vir ons
want jy het Skipskop laat herlewe
hierdie somer is jy onverwags weg
maar jy bly altyd ons Beautiful in Beaufort-Wes

Sal jy vir oulaas
net ‘n laaste, laaste keer
asseblief vir ons die son kom vang
ons deure staan heeldag wawyd oop

maar nou het net stilte hier ingeloop
die Groot Roeper het jou finaal geroep
en hierdie hande van jou
gaan nou vir ewig rus.

© Oom Boggom (Skrywer)
17 November 2021

VIC ·

Ai Theuns ek het nie woorde nie. Ek huil saam met die hele land en sy mense. RIV.

VIC ·

Ai Theuns, ek het nie woorde nie. Ek huil saam met die hele land en sy mense . RIV

Poppi ·

Theuns is ʼn fenomenale Afrikaanse sanger, van die eerste oomblik wat ek jou rasperstem gehoor het, kon mens nie anders as om net meer te wil hoor. Jy is voorwaar `n “awesome” sanger en mens gewees. Ek het darm die voorreg gehad om van jou optredes te kon sien, en sal dit altyd onthou. Jy gaan verseker gemis word. Maar jou musiek sal altyd in ons harte en huise gespeel word, jy is enig in jou soort!! Mag jy in vrede rus. Dankie vir die musiek wat jy na ons gebring het. Sterkte aan die familie.

Johan David ·

Ons almal het al gedans, gehuil, gelag, saam gesing en verlief geraak op sy musiek. Rus in vrede mnr Jordaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.