‘Hy was nie bang om dood te gaan nie’

Jacques en sy vrou Alex. Foto: Facebook

Jacques en sy vrou Alex. Foto: Facebook

“Hy het in sy 29 jaar voluit gelewe en daar is iets ongelooflik mooi aan hoe my kind gelewe het.”

Só het Christo Barnard hartroerend verwys na sy seun, Jacques, wat Vrydagaand dood is nadat hy van ʼn rots geval het by Morgansbaai aan die Wildekus terwyl hy gehengel het. Jacques het minder as twee weke gelede saam met sy Amerikaanse vrou in Suid-Afrika aangekom om sy 30ste verjaarsdag te vier en vir sy vrou die land te wys.

Jacques, ʼn sjef van beroep, en sy vrou, Alex, het ontmoet toe albei op ʼn seiljag gewerk het. “Dit was liefde met die eerste oogopslag,” het Barnard gesê. “Hulle het mekaar omtrent ses maande geken voor hulle getroud is en was nou ʼn jaar en drie maande getroud. Hulle wou egter meer van ʼn familielewe hê en het teruggekom Suid-Afrika toe. Hulle sou eers deur die land toer.”

Volgens Barnard is die egpaar Vrydag van Oos-Londen na Morgansbaai toe. “Hy was baie lief vir die Wildekus. Dit was springgety en amper volmaan. Jacques wou gaan visvang. Alex is saam met hom en het in die volmaan gesit en boek lees terwyl Jacques visgevang het. Volgens my skoondogter was Jacques in sy ‘happy place’ en het heeltyd vir haar gesê ‘I love you. I love you. I need to tell you’.”

Alex het later koud gekry en is terug huis toe. Jacques wou nog visvang. Alex het Saterdagoggend wakker geskrik, gesien Jacques is nog nie by die huis nie en hom gaan soek. “Sy een skoen en ʼn hoody is gekry waar hy heel laaste was.”

Morgansbaai. Foto: TripAdvisor

Morgansbaai. Foto: TripAdvisor

Jacques het vermoedelik gegly en sy kop gestamp voor hy in die see geval het. “Daar was ʼn verskriklike wond aan die kant van sy kop. Sy liggaam is later sowat 500 m van die ligtoring af gekry. Ons is baie dankbaar dat hulle hom gevind het. Hy was besig om te sink.”

Barnard was vol lof vir die gemeenskap, polisie en Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) wat betrokke was by die soektog na Jacques.

Volgens Barnard het sy seun ʼn paar dae vantevore aan hom gesê hy is nie bang om dood te gaan nie. “Dis hoe hy was. Hy het nie ʼn bang haar op sy kop gehad nie. Ons is verskriklik hartseer en dis baie, baie seer. Ons is so dankbaar dat ons hom in ons lewe gehad het. My kind was ʼn stoutgat, maar hy het voluit gelewe en was iemand om op trots te wees. Hy het oral waar ons gegaan het vriende gemaak en het altyd almal gehelp en bygestaan.”

Jacques was baie avontuurlustig en het van bergfietsry, hengel en boogskiet gehou. Hy en sy vrou het ook saam diepseeduik gedoen. Hy sou op 24 Oktober sy 30ste verjaarsdag gevier het.

Volgens Barnard het hy en sy dogter, Jacques se suster, vanoggend gesit en koffie drink en oor hom gepraat. “Ons het besef ons het ʼn engel in ons midde gehad en dit nie geweet nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Denise ·

Ai dit is hartseer !!!! Sterkte aan sy vrou en sy familie!!!

Rikku ·

My hart gaan uit na sy Familie en Jong Vrou.
Mag die Here julle dra deur hierdie moelike tyd.

Vanessa Grobler ·

Dis ñ verskriklike ding om oor te kom jammer vir julle verkies RIV

C ·

Ai dit is so hartseer. Hul is nog so jonk getroud en hul hele lewe het nog voor hul gele. Baie sterkte aan beide families. Mag ons Liewe Heer jul almal deur hierdie moeilike en seer tyd dra.

Lynette ·

Dis die seerste seer wat ‘n ouer kan deurmaak. Sterkte aan julle en sy jong vroutjie!!!

Tina du Toit ·

My hart pyn vir sy geliefdes se part. Mag God julle dra in hierdie hartseer tyd en vertroosting bring.

Yvette ·

Klink asof hy ‘n lieflike jongman was.
Seker julle gaan nog baie oor hom en sy dinge gesels !
Sterkte aan julle almal !

Mel ·

So hartseer met so ‘n pragtige getuienis. Dis deesdae vreeslik hoe mens hoor van mense wat sterf, dood het ni ‘n ouderdom ni. My hart gaan uit na sy Familie, Mag God vir julle vertroosting bring in hierdie hartseer tyd. RIV

Marius ·

Ons ken mekaar nie deur daelikse interaksie nie, maar go my in oyn word ons een………mens se kind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.