‘Hy was so kwaad,’ getuig sekuriteitswag

Gerhard Jansen van Vuuren in die Palm Ridge-landdroshof (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Thulani Ndlovu wat op 2 Mei 2011 as ʼn sekuriteitsbeampte by die Sibaya Sands-veiligheidskompleks in Lonehill, Randburg, aan diens was, het in die Palm Ridge-landdroshof in Johannesburg getuig dat hy aanskou het hoe Andrea Venter (25) vermoor is.

Ndlovu is Maandag deur die staat in Venter se moordverhoor geroep. Venter se gewese kêrel, Gerhard Jansen van Vuuren, staan tereg op haar moord. Hy word ook aangekla van die aanranding op Ndlovu.

Volgens Ndlovu het hy omstreeks 06:25 vanuit die waghokkie – wat by die kompleks se hek geleë is – ʼn vrou hoor skree. Hy kon egter nie uitmaak wat sy skree nie.

“Ek het uit die waghokkie geloop en gesien hoe ʼn jong vrou in my rigting aangehardloop kom. ’n Kort entjie agter haar was ʼn man. Dit het gelyk asof hy haar jaag,” het Ndlovu getuig.

Kringtelevisiebeeldmateriaal van die veiligheidskompleks het later Venter en Jansen van Vuuren as die twee persone identifiseer waarna Ndlovu verwys.

Volgens Ndlovu het Venter die volgende oomblik gestruikel en geval. Hy kon nie bevestig of sy oor haar eie voete gestruikel en of die man agter haar (Jansen van Vuuren) haar gepootjie het nie.

“Die vrou (Venter) het op haar maag te lande gekom. Die man (Jansen van Vuuren) het na haar toe geloop, haar bolyf opgetel en haar keel met ʼn mes oopgesny.”

Ndlovu vertel Jansen van Vuuren het daarna met dieselfde mes in die rigting van die waghokkie geloop. Hy het volgens Ndlovu die mes op hom gerig. “Uit die manier hoe hy na my gekyk het, kon ek sien hy is baie kwaad.”

Volgens Ndlovu het Jansen van Vuuren daarna weg van die waghokkie beweeg, die mes gevat en sy eie keel oopgesny.

“Die man (Jansen van Vuuren) het toe die vrou (Venter) opgetel en na die uitganghek van die kompleks gedra. Hy het haar by die hek neergesit. Hy het daarna langs haar gaan lê.”

Ndlovu getuig hy het intussen die paniekknoppie binne die waghokkie gedruk om hulp te roep.

Lede van die sekuriteitsmaatskappy, die polisie en paramedici het ʼn kort rukkie daarna by die toneel opgedaag.

Sers. Phetole Metebe – een van die polisiebeamptes wat na die moordtoneel ontbied is – het Maandag Jansen van Vuuren in die hof identifiseer as die man wat hy daardie dag op die toneel aangetref het. Volgens Metebe het Jansen van Vuuren op die grond gelê en sy bebloede nek vasgehou.

“Hy kon nie met ons praat nie, want hoe meer hy wou praat, hoe meer bloed het hy verloor,” het Metebe gesê.

Volgens Metebe het paramedici met Jansen van Vuuren hospitaal toe gejaag en Venter is op die toneel dood verklaar.

“Op die oog af kon ek sien die oorledene (Venter) het verskeie steekwonde op die bors opgedoen.”

Die saak duur Dinsdag voort.

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
JM

Sluit hom permanent toe, sonder parool-vooruitsigte.

Alta Alleman

Wat het van ons mense geword? Waarom moet ons so wreed wees?

Kokerboom

Sluit hom toe en gooi sleutel weg

Niel

Monster!

Lillian

Nog ‘n gewetenlose, gemors wat eintlik in die publiek gehang moes gewees het!

Sy was haar ouers se enigste kind … en hierdie vonnis gaan nie hul harte heel of haar terugbring nie.