Hykie Berg se oorwinningsreis ná ADHD-stryd

Want God het ons nie ʼn gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Tim 1:7).

Hykie Berg se jongste boek, My stryd met ADHD – Die onsigbare oorlog, bied ʼn openhartige vertelling oor sy jare lange stryd met geestesongesteldheid. Dit is veral sy worsteling met aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom (AGHS), oftewel ADHD, wat op die voorgrond tree.

Berg is sedert 2009 te sien as dr. Conrad Bester in die kykNET-sepie Binnelanders. In 2011 het hy Survivor SA: Maldives gewen en sedertdien in verskeie plaaslike rolprente soos Pretville (2012), Klein Karoo (2013), Mooirivier (2015) en Dis ek, Anna (2015) gespeel.

Dié 42-jarige akteur en motiveringspreker het tydens Survivor SA: Maldives ʼn ontmoeting met die Here gehad wat sy lewe handomkeer verander het. Hy het die behoefte gehad om ʼn boek oor sy verslawing te skryf en ses jaar later het Hykie Berg: My storie van hoop verskyn.

“Ek moes getuig oor wat God vir my gedoen het,” sê Berg.

In sy jongste boek, My stryd met ADHD – Die onsigbare oorlog, hou Berg vol om sy getuienis van God se rol in sy lewe te deel.

Dit bied onder meer ʼn blik op Berg se persoonlike ervaring van Ritalin en ander medikasie, sy stryd met aandagafleibaarheid en gebeure wat daartoe gelei het dat hy in die Weskoppies- psigiatriese hospitaal opgeneem is. Hy brei ook uit oor Christene se verantwoordelikheid jeens geestesgesondheid.

Berg stel dit sommer vroeg al duidelik dat sy boek nie ten doel het om mediese navorsing, professionele hulp of enige ander behandeling te ondermyn nie.

“Die doel van hierdie boek is geensins om enige mediese beroep te diskrediteer nie, want daarsonder sou ek waarskynlik al dood gewees het. Dit is ook nie veronderstel om ʼn aanval te wees of ʼn debat te ontlok nie,” sê hy.

Hoewel die boek reeds gemengde reaksie in die media ontlok het, vertel Berg dat hy nog net positiewe terugvoer van lesers ontvang het.

“Ek weet ek kon dalk op ʼn paar tone getrap het, maar voor mense net reageer, wil ek hulle aanmoedig om eers die boek te lees,” maan hy.

Berg het die boek uit gehoorsaamheid aan God geskryf. Hy spreek ook die hoop uit dat lesers hulle met sy struweling sal vereenselwig, dat ADHD-lyers die pad na herstel op holistiese wyse aanpak en dat Christene opnuut oor geestesversteurings sal nadink.

“Elkeen se herstelproses is ʼn reis wat geestelike, liggaamlike én mediese behandeling insluit. Medikasie is slegs ʼn deel van die proses,” sê hy.

“My boodskap aan lesers is dat oorwinning moontlik is,” sê Berg. “Ek wil hê mense moet hulle met my stryd vereenselwig en besef dat daar uitkoms is.”

  • Luister hierbo na die volledige onderhoud met Hykie Berg oor sy jongste boek, My stryd met ADHD – Die onsigbare oorlog. Hy het met Maroela Media gesels oor sy stryd met aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom (AGHS), oftewel ADHD, en hoe hy dié struikelblok oorwin het. Hy deel ook raad aan Christene oor hoe om geliefdes met geestessiektes te ondersteun.

Prys: R220,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by NB-Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dries ·

Daar was verlede week ‘n interessante gesprek op RSG, deur mediese deskundiges, oor Ritalin, en die bewerings wat gemaak is in die boek. Om te se dit moet nie debat ontlok nie, is baie naief.

Estelle ·

Dankie Hykie dat jy jou ervaring deel. Jy mag maar vra dat dit nie n debat lok nie, want dis jou eie unieke ervaring en standpunt. Ons sal dit respekteer.

Foefie ·

Ek is ‘n oë mens. Ek klassifiseer mense as “mooi” op grond van hul oge.

Hykie is vir my absoluut beautiful. Hy’t die mooiste dromerige oë. Mensig, mens kan heeldag daarna sit en staar. :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.