Ian Cameron ‘oorweldig’ deur ondersteuning oor DA-skuif

Ian Cameron. (Foto: Verskaf)

Die teenmisdaad-aktivis Ian Cameron sê hy is oorweldig deur die uitstorting van ondersteuning aan hom sedert sy aankondiging dat hy misdaad voortaan as DA-lid – dalk nog parlementslid – gaan beveg.

Ja, daar is wel enkeles wat vuur spoeg, maar dít pla hom min.

“98% van die kommentare en boodskappe oor my skuif is positief,” het Cameron Maandag aan Maroela Media gesê.

Plasings op sy eie Facebook-blad het honderde reaksies en kommentare ontlok en is verskeie kere deur sosialemediagebruikers gedeel. Cameron sê mense bel hom ook “links en regs”.

“Ek is eintlik oorweldig deur die groot reaksie. Dis baie spesiaal en beklemtoon die verantwoordelikheid wat ek het.

“My fokus sal beslis op die bestryding van misdaad bly, en ek stel nie belang om in allerhande ander politieke debatte betrokke te raak nie.”

Dit was uiteraard nie vir Cameron verbasend dat sommige mense – onder andere EFF-lede en -ondersteuners – ook snedige opmerkings oor sy nuwe loopbaan in die politiek gehad het nie. Inteendeel, hy het dit verwag.

“Dis maar allerhande voorspelbare snert. In die algemeen is mense egter positief.”

Cameron sê dis ook vir hom ʼn groot voorreg om deel van die DA-span te wees.

“Ek sien uit daarna om ʼn impak in die DA te maak.”

‘Slapelose nagte’ wag op Cele

Sy toetrede tot die party is onder andere deur Geordin Hill-Lewis, Kaapstad se burgemeester, verwelkom.

“Bheki Cele gaan slapelose nagte hê deur aan Ian Cameron as parlementslid vir die DA te dink,” het Hill-Lewis op Facebook gesê.

“Ian het ʼn onbetwisbare rekord van misdaadbekamping en gee opreg om vir slagoffers van misdaad.”

Hill-Lewis het Cameron ook geloof vir die stryd wat hy teen onbevoegdheid in die polisie en korrupsie voer, en vir sy ondersteuning aan slagoffers wat deur die polisie en regstelsel in die steek gelaat is.

“Ian sal ʼn uitstekende LP maak, en ek is verheug dat hy nou deel is van die DA-span. Welkom, Ian!”

Cameron het Hill-Lewis se positiewe reaksie verwelkom en op sy eie Facebook-profiel gedeel. Hy het wel bygevoeg dat Cele eerder slapelose nagte moet hê oor “die 86 mense wat daagliks vermoor word weens sy onbevoegdheid en vernietiging van die SAPD se bestuur”.

Politieke druk belangrik, maar ‘praktiese oplossings bepalend’

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sê dis “goed dat daar meer politieke druk deur mense soos Ian op die regering geplaas word om misdaad te bestry”.

Hy benadruk egter dat die stryd teen misdaad eindelik met praktiese oplossings oorwin moet word.

“Die uitdaging is dat die misdaadstryd nie in die parlement gewen gaan word nie, maar in die dorpe, strate en plase.

“Die enigste blywende oplossing is die goue driehoek van goeie polisiemag, doeltreffende privaat sekerheidsdienste en weerbare buurtwagte. Politieke druk is belangrik, maar praktiese oplossings is bepalend vir veilige gemeenskappe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Fran ·

Dit is net wat ons land nodig het. ‘n Nuwe geslag onverskrokke leiers!

Republikein in die Wes Kaap ·

Ian, binne ‘n politieke party kan jy ook nie altyd sê wat jy wil. Die DA is streng hieragies en altyd besig met hul eie speletjies. Lede is jaloers op mekaar en veg vir aansien. Trap maar in jou spore.

Martie Smartie ·

Miskien kan mnr Cameron vir ons sy aksieplan verduidelik oor hoe om die moordsyfer aansienlik te verlaag. Behalwe dat sjebiens gepatrolleer word, want mense gaan nie minder drink nie, glo my. Iets meer sinvol dat mnr Cele kan kennis neem.

George ·

Cele het nie n saak nie, hy gaan homself net soos tevore, net nie steur nie.

miche ·

Ek stem 100% saam met Republikein. Ian, jy is ‘n reuse-aanwins vir enige organisasie.
Moet egter nie dat iemand op jou battery water nie, bly jou vurige self.

Papsak ·

Bravo Mnr Cameron bly jy is oor DA toe fantasties jy is n yster !!!!!!

Danie ·

Goeie besluite en goeie skywe bly maar net goeie keuses.Nogmaals sterkte.Hoop jou besem bly nuut.

Barry ·

Ian. Jy sal seker nie die lees nie maar ek smeek jou met trane in my oë vandag om ons mense te help in die suide van Bloemfontein. Asb asb asb. Ons het dringend hulp nodig

johan ·

Ian Neil de Beer UIM veg nes jy . vat handed julle kan mekaar mooi aanvul. ??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.